Bekende dramas by Kierieklapper

Die 10de Mutual & Federal Agri Kierieklapper Fees vind in Augustus plaas en feesgangers kan hierdie jaar weer uitsien na twee volwasse dramas wat elke feesganger sal laat lag en dink. Op Donderdag, 5 Augustus sal Pierre Breytenbach afskop met Grootseun.

Stel jou voor ‘n dominee van so in sy dertigs met ‘n vermoë om ‘n storie te vertel soos min. EN stel jou voor die stories gaan oor dinge wat rêrig in sy gemeente gebeur! As jy dié prentjie kan sien – dan sien jy vir Grootseun.

Grootseun is vir die verhoog verwerk deur Marion Holm uit rubrieke deur Barend Vos wat in die gesinstydskrif, LIG, verskyn. Marion het ook die regie van die stuk behartig en is baie opgewonde oor die vertoning. Sy sê: “Dit is geskik vir die hele gesin en gespeel deur een van ons land se veelsydigste akteurs.”

Die publiek het Pierre op televisie in Die Casper Rasper Show leer ken asook in Spekskieters en meer onlangs in die Wimpy-advertensie toe hy sy dogtertjie Hendrik wou noem. Op die verhoog was Pierre onlangs in PG du Plessis se klug Sophia Mentz beredder haar boedel te sien en tans is hy deel van die produksie Parkamampoer geskryf deur Harry Kalmer.

Suikersoet-geluk, hartseer en heimwee saamgemeng in ‘n bak vol kreatiwiteit vir Saterdag, 7 Augustus se Brieweboks deur die groep NX. Die groep NX bestaan uit Nadia Beukes en Xander Steyn.

Die kykNET-aanbieder Nadia Beukes en voorheen ’n lid van Cutt Glas span met Xander Steyn kragte en talente saam in hierdie reis van toneel, kuns en natuurlik musiek … Steyn is bekend om sy rolle in My Fair Lady, The Rocky Horror Show en Peter Pan. Kom stap saam, raak verlief, verlore en verdwaal in die woorde van die briewe uit hul boks.

Kierieklapper KunstefeesBeide dramaproduksies vind plaas in die skoolsaal van die Piet Potgieter Hoërskool en kaartjies is beskikbaar by die feeskantoor by die Dienssentrum vir Bejaardes in Dudu Madisha-straat en Blackie Swart Eiendomme in die Mokopane Mall. Vir meer inligting gesels met die feeskantoor by 015-491-3129.

Lewer kommentaar

Leave a Reply