Boesman en Lena

Boesman en Lena is ‘n klassieke Suid-Afrikaanse werk uit die pen van Athol Fugard met al die bestanddele wat die land in sy geheel beskryf en steeds van toepassing is vandag: vooroordeel, vervreemding en onteiening. Die drama is sowat 12 jaar gelede laas professioneel opgevoer en dit is haas tyd vir ‘n nuwe generasie om daaraan blootgestel te word.

Die stuk is geskryf in die vroeë jare sestig en die eerste keer aangebied met Yvonne Bryceland en Athol Fugard in die titelrolle. Dit speel af in Port Elizabeth en vertel die storie van twee swerwers wat vasgevang is in ‘n kringloop van armoede – sonder hoop op bevryding.

Dit fokus ook op ‘n vrou se alleenheid binne ‘n verhouding, ‘n vrou wat haar mishandeling aanvaar – net om iewers te behoort, al is die situasie soms ondraaglik.

In hul omswerwinge ontmoet hulle vir Outa, ‘n swart man wat skuiling soek. Dié ontmoeting dryf Boesman en Lena se verhouding op die spits. Daar word onder meer gefokus op mense se onmenslikheid teenoor mekaar.

Met Vinette Ebrahim (7de Laan), Ivan D. Lucas (Snitch) en Ernest Ndlovu (Home Affairs). Clare Stopford (Green Man Flashing) is die regisseur.

Lewer kommentaar

Leave a Reply