Rudyard Kipling, (1865-1936), Engelse kortverhaal- & romanskrywer en digter word veral onthou vir sy verheerliking van Britse Imperialisme en heroïsme in Indië en Burma. Kipling se verheerliking van die Britse Ryk en rasse vooroordeel soos uiteengesit in sy gedig The White Man’s Burden (1899), het baie lesers vervreem en afgestoot maar Kipling was die eerste Engelse skrywer om die Nobelprys vir Letterkunde in 1907 te ontvang. Sy mees populêre werk sluit in The Jungle Book (1894) en die Just So Stories (1902), beide klassieke boeke met ‘n groot getal kinder & volwasse volgelinge.
Later vanjaar bring Ballet Theatre Afrikan Rudyard Kipling se beminde Just So (1902) stories na luisterryke lewe in ‘n gesamentlike produksie wat dansers, musikante, sangers en akteurs insluit. Martin Schönberg, Artistieke Direkteur van Ballet Theatre Afrikan is die vervaardiger van die uitdagende produksie.
Die koreografie word waargeneem deur Martin Schönberg, Christopher Kindo en Thoriso Magongwa, met ‘n wye verskeidenheid dansstyle om die genotvolle en vermaaklike stories uit te beeld.
Die eksotiese verhale wat afspeel aan die kusdele van die Rooi See, in Australië en Suid-Afrika, is baseer op fabels wat Kipling gehoor het as kind in Indië en later oorvertel het aan sy eie kinders. (Hy is gebore in Bombaai op 30 Desember 1865.) Die stories is verbeeldingryke antwoorde op vrae soos “how did the leopard get its spots?” of “how did the rhinoceros get his wrinkly skin?”
