Carmina Burana

Carmina Burana, immer gewild en bekend, word vir die eerste keer deur die Musiekdepartement van die Universiteit van Pretoria uitgevoer. ‘n Grootskaalse produksie met ‘n koor van digby 200, ‘n orkes van oor die 70 en die stemme van Yollandi Nortjie en André Howard, word uitgevoer onder die musikale leiding van Eric Rycroft in die Aula.

Carmina Burana is gebaseer op ‘n versameling liedere wat in 1803 in die Beierse Klooster van Benedictbeuern ontdek is. Dit was die skrywe van ‘n groep digters, genaamd die Goliard digters, in die laat dertiende eeu. In 1936 het Carl Orff 24 van hierdie werke geneem en verwerk in vyf getematiseerde dele. Die struktuur van Orff se komposisie is gebaseer op die idee van die Wiel van Geluk. In elke tema draai die wiel, hoop word smart, geluk word ongeluk. Die bekende opening, O Fortuna, sal miskien onthou word as die musiek wat in die destydse Old Spice-advertensie gebruik is.

Yollandi Nortjie, ‘n liriese sopraan tree gereeld op vir die Black Tie Ensemble. André Howard is so te sê vereenselwigbaar met die tenoor en bariton solos in Carmina Burana en het geen bekendstelling nodig op die konsertverhoeë van Suid-Afrika nie. Die UP Simfonie-orkes, die enigste volskaalse orkes in Pretoria wat die simfoniese repertorium op ‘n gereelde basis uitvoer, word gedirigeer deur Eric Rycroft. Die orkes word aangevul vir die produksie en met oor die 70 spelers, twee vleuelklaviere, ‘n celeste en 32 slagwerkinstrumente op die verhoog van die Aula, beloof dit om iets vir die oor en oog te wees.

Die UP Konsertkoor vir hierdie produksie bestaan uit TUKS Camerata, UP Chorale, UP Jeugkoor, UP Jakaranda Kinderkoor en die RauCall Singers. Die UP Konsertkoor staan olv Johann van der Sandt.

Lewer kommentaar

Leave a Reply