Die Asjas Passie

Die Asjas Passie gee ´n aweregse kyk op die bekende geskiedenis van Jesus en verskerp juis so die relevansie en aktualiteit daarvan vir ´n moderne gehoor.

Dario Fo het aanvanklik sy Rooms-Katolieke gehore geskok met sy vars benadering. So byvoorbeeld ontmoet Jesus op sy kruistog vir Pous Bonafacius wat verstom is dat Jesus hom nie herken nie. Die alkoholis weer, word op die bruilof by Kana verseker van ´n plek in die hemel – het Jesus dan nie self water in wyn vernader nie. Die Asjas Passie moet dus eerder verstaan word as kritiek op die samelewing en nie as ´n satire van die Jesus-verhaal nie.

Fo se passiespel eindig met die hartroerende toneel van Maria wat haar seun van die kruis wil afhaal en laat die gehoor met die woorde van die engel Gabriel : "dit is juis die lied wat jy ween sonder steun, die jammerklag sonder trane, die offer van jou en jou geliefde seun, wat die hemel sal oopskeur sodat die mense ongehinderd kan binnestroom."

Die vertaling is gedoen deur Herman Pretorius, die spelleiding word waargeneem deur Juanita Swanepoel en die toonsettings deur Thomas Channell.

Lewer kommentaar

Leave a Reply