Huis toe

Beeskraal se eerste volwaardige album, Huis toe, is nou beskikbaar. Hierdie opwindende Afrikaanse rock-groep se album is propvol oorspronklike gatskop Beeskraal-komposisies.

Sedert hulle optredes by die nasionale kunstefeeste en elders in die land, het hierdie groep met hulle eiesoortige klank groot opspraak verwek. Beeskraal inkorporeer die konsertina en banjo met rockkitaar en dromme om ‘n unieke klank te skep wat die poppe behoorlik laat dans.

Hulle is bekroon met die KKNK 2001 se Kanna Toekenning vir Beste Ligte Musiekproduksie, en met goeie rede, want hulle optredes was gepak met geesdriftige nuwe aanhangers, oud en jonk.

Die lede van Beeskraal is Charles (Brahmaan) Smidt (kitaar en sang), Marius (Fries) Appelgryn (baskitaar), Corné (Happy Bees) Olkers (dromme), Chris (Agterkwart) Nell (banjo) en Jasper (Jazzbees) van Rensburg (konsertina).

Huis toe
Huis toe
Vandat Beeskraal in April 2000 die lig gesien het is daar met gereelde optredes landwyd groot belangstelling gegenereer. By Kaktus op die Vlaktes 2000 het Beeskraal hom goed van sy taak gekwyt deur voor ‘n skare van 11 000 die vloer te open vir Koos Kombuis.

Die groep het oor die afgelope jaar volop mediadekking en verskeie televisieoptredes gehad: Draadloos, Kwêla (kykNET) en Geraas en Pasella (SABC2).

Beeskraal streef daarna om die land plat te toer en hulle musiek met soveel moontlik mense te deel en ‘n begrip vir alternatiewe Afrikaans-wees te ontwikkel. Beeskraal het ook groot opslae gemaak tydens die eerste Ukkasie Fees in Londen waar hulle die enigste Afrikaanse rock-groep is wat opgetree het.

Beeskraal is ‘n dinamiese en toegewyde groep musikante wat Afrikaans vars en jonk wil hou en goeie inheemse musiek wil maak.

Lewer kommentaar

Leave a Reply