Die gewilde verhoogstuk Die dinge van ’n kind, gegrond op Marita van der Vyver se trefferroman, word van 13 tot 17 Oktober 2021 by Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad opgevoer. Dié speelvak by die skool word moontlik gemaak deur die ondersteuning van die Suidoosterfees en Arena-produksiehuis.
Cintaine Schutte speel in die verhoogweergawe, wat deur Francois Toerien verwerk en deur Nicole Holm geregisseer is. Schutte, wat vroeër vanjaar ’n Sinjatuurtoekenning tydens die kykNET Fiëstas ontvang het, het te midde van die grendelstaat-inperkings al meer as 30 keer in Die dinge van ’n kind opgetree. “Daar was soveel kere wat ek gewens het ek kan hierdie produksie na tieners toe neem,” sê sy. “Dit is ’n groot voorreg om te weet ek kan dit nou by ’n skool opvoer. Vir tieners om in daai ouditorium te sit en tyd met hulleself te spandeer, is kosbaar en waardevol.”
Die skrywer Marita van der Vyver is verheug oor die jongste verwikkeling. “Ek is dankbaar en opgewonde oor Hoërskool Jan van Riebeeck se besluit om die toneelstuk aan te bied. As tieners nie teater toe gaan nie, moet ons teater na tieners toe neem – en Dinge is besonder geskik daarvoor, juis omdat dit oor tieners gaan.” Die roman het reeds in 1994 verskyn, maar die storie is vandag nog net so relevant soos destyds. Die dinge van ’n kind handel oor die traumas van grootword, swangerskap en selfmoord, en word binne die konteks van Suid-Afrika in die sewentigerjare aangebied.
Pieter Rademeyer, Jan van Riebeeck se skoolhoof, het nie op hom laat wag toe die geleentheid vir ’n ekstra speelvak opduik nie. Die dinge van ’n kind is ’n gunsteling onder gehore, en nadat opvoerings vroeër vanjaar by die Suidoosterfees blitsig uitverkoop het, was daar verskeie versoeke vir verdere vertonings. Prof. Brian Figaji, die Suidoosterfees se direksievoorsitter, is in sy noppies oor die nuwe speelvak omdat dit aansluit by die fees se mandaat om in ontwikkelingsvenootskappe te belê. “Ons is bly ons kan nou aan volwassenes en leerders van 16 en ouer, wat nog nie die stuk gesien het nie, ’n ekstra geleentheid gee om dit te geniet.”
Die dinge van ’n kind is met die Aardklop-trofee vir beste solovertoning bekroon en was vir ’n Fiësta-toekenning genomineer. Die Aardklop nasionale kunstefees, NATi en die LW Hiemstra Trust het die produksie van die begin af moontlik gemaak en ondersteun.
Die toneelstuk het ’n ouderdomsbeperking van 16.
Vertonings vind van 13 tot 15 Oktober om 09:00 en 12:00 plaas en kos R100 vir leerders. Besprekings kan per e-pos gedoen word by karien.zulch@janvanriebeeck.co.za. Daar is ook twee vertonings teen R175 waarvoor kaartjies by Computicket bespreek kan word – op 13 Oktober om 19:00 en 17 Oktober om 14:00.
