Die Francois Toerien Show

Die vierde aflewering van die Francios Toerien Show bestaan uit verskeie skreeusnaakse komediesketse. In een van hulle bespreek twee fopdossers verskeie soorte fetisje. Nog een handel oor Marius se opspraakwekkende verhouding met ‘n bokserhond en in ‘n ander skets gesels twee skoolmeisietjies oor die lewe van Graad 4’tjies. Videosketse maak ook deel uit van die opvoering.

Teks: Francois Toerien en geselskap
Spelleiding: Juanita Swanepoel
Met Francois Toerien, Esther von Waltsleben, Lorraine Burger, Altan Ungerer, Martelize Kolver, Suzaan Keyter en Stephanie Badenhorst

Die Francois Toerien Show is vinnig besig om ‘n instelling op Stellenbosch te word. En hoekom? Because you can’t keep a good thing down!

Episode 3 sien op 17 November die lig en word opgedra aan somer, son en sleg blankes. Ses lywige komediesketse, en ‘n magdom kortes. PW Botha en George W. Bush gesels (oor ‘n bietjie ‘kerry’) oor hulle lewens as eks-presidente. Die twee skooldogtertjies gesels dié keer oor kampvakansies in Bellville en ‘n 3 minute weergawe van Fiela se Kind. Daar is ook ‘n herhaling van die skets oor die Stellenbosche woonstel met die piepklein balkon waar ‘n ete gereel word en ‘n gehoorprys: ‘spot’ die sleg blanke en wen ‘n Uno!

Die Francois Toerien Show is te sien by die klein Libertas Teater in Stellenbosch.

Met Francois Toerien, Lorraine Burger, Altan Ungerer, Esther von Waltsleben en Martelize Kolver. Spelleiding deur Juanita Swanepoel en tekste deur die hele spul.
Sien ons Teaterdagboek vir meer besonderhede.

Op Woensdag 11 Junie 2003 het die eerste ‘episode’ van Die Francois Toerien Show die lig gesien. Die geboorte was besonder pynloos…inteendeel, dit het gepaard gegaan met histeriese lagbuie van ´n jillende massa wat na afloop van die vertoning net aan die akteurs wou vat. Dit kon lelik geraak het, maar dit het nie. En daarom het ons besluit om dit weer te doen!

Ses nuwe komediesketse – sommige kort, ander lywig – en ook twee herhalings uit die pen van Francois Toerien. Dis ‘Carol Burnett meets Monty Python’. Dis absurd, dis burlesk, dis simpel en slim… dis galge komedie sonder weerga! Dis lekkerder as TV en dis snaakser as Marthinus van Schalkwyk!

Daar is ´n koekeloerder (ginekoloog) wat ´n dame se onderstel bewonder en ´n nuusleser wat sukkel. Die twee kwetterende skooldogtertjies praat hierdie keer oor “kanker, luise en gestremdes”! Die “freaky” winkelassistent wat gebuk gaan onder akute verbale diaree en die Auto Electrician met een skok te veel agter die blad maak weer ´n draai…en nog vele meer.

Lewer kommentaar

Leave a Reply