Dit is vyftien jaar later. Grotman en Elize is steeds gelukkig getroud. Die kinders is tieners met hul eiesoortige uitdagings. Grotman het sy rookseine verruil vir WhatsApp-boodskappe, eposse, iPhones, Facebook, Twitter en aanlynkonserte. Die verskille tussen mans en vrouens is steeds daar, want mans is steeds van Mars en vrouens van Venus. In Groet die Grotman 2 word die verskille tussen mans en vrouens op komiese wyse uitgebeeld deur Grotman Phillru van Achterbergh. Frans Swart het die teks geskryf en hanteer ook die regie. Daar is ‘n ouerbegeleiding van 16 (PG16).
Vrouens is steeds die gaarders (veral van nuttelose inligting!) en mans steeds die jagters (van ‘n bok tot ‘n televisieprogram). “Mans en vrouens lag vir mekaar in Groet die Grotman 2 en dis juis wat hierdie produksie so gewild en sterk maak” sê skrywer en regisseur Frans Swart. “Mens kan amper sê ons doen huweliksberading op ‘n komiese wyse. Die feit dat Grotman sy wêreldjie moet groter maak om by Elize se wêreld aan te pas en die feit dat Elize haar oop wêreld so bietjie nouer moet maak om by Grotman se wêreld uit te kom, sorg vir baie komiese situasies.” Die oorspronklike Groet die Grotman hou steeds die rekord vir die Afrikaanse teaterproduksie wat die meeste vertonings oor die langste tydperk gehad het … meer as 1 000 vertonings oor 10 jaar! Lefra het die Grotman toe vir tien jaar laat rus in sy grot … tjoepstil! “Maar Grotman kon nie net tjoepstil in sy grot bly nie. Hy het te veel stories om te vertel. Phillru van Achterbergh as die Grotmant vertel van meesterbraaiers, slaaie, bouery, handdoeke wat nie gebruik mag word nie en natuurlik oor die slaapkamer!”
Vrouens … julle gaan julle mans herken in Groet die Grotman 2 en jy kan gerus maar jou man in die ribbes pomp. Meneer, jy gaan beslis jou vrou in Groet die Grotman 2 herken … so wys maar gerus die wysvinger vir Mevrou … net nie die middelvinger nie! Saam gaan mans en vrouens weer heerlik lag en sommer gratis terapie ontvang vir die huwelik.
Groet die Grotman 2 is op toer. Warmbad Hoërskool – 16 Okt; Emperors Palace – 17 Okt en Pierneef Teater – 18 Okt. Besoek gerus www.LTickets.co.za om kaartjies te bespreek.

