Diep Spore

Daar is niks so vervullend soos om ‘n lewe te lei tot diens van jou medemens nie, en in Suid-Afrika is daar beslis nie ‘n tekort aan leiers wat deur hul medemenslikheid ‘n verskil probeer maak nie.


Diep Spore is ‘n splinternuwe dokumentêre reeks wat eersdaags afskop op jou gunsteling Afrikaanse kanaal, KykNET. Met die reeks gaan kuier ons by uitnemende Suid-Afrikaners, hetsy politieke- of gemeenskapsleiers, bekende vermaaklikheidsterre, sport ikone en sakelui wat dit hul werk maak om van Suid-Afrika ‘n wonderlike land te maak. Groot name wat in die reeks hul suksesverhale met die kykers deel, sluit in: Eusebius McKaiser, Amy Kleinhans-Curd, Chester Williams, prof. Eltie Links, Cass Abrahams, Peter de Villiers, Fatima Jakoet, prof. Debra Meyer, James Matthews, Patricia de Lille, Jonathan Butler en Marc Lottering. Die klomp bekendes deel hul onderskeie lewensreise tot dusvêr en die baanbrekerswerk wat hulle daagliks in hul onderskeie loopbane doen. Elkeen van die bekendes het hul deure vir ons kameras oopgegooi en ons kry die geleentheid om deur hul lewenstories en deursettingsvermoë geïnspireer te word.

EUSEBIUS McKAISER
(12 Oktober 2013)
Eusebius McKaiser se wenslys spog reeds met ‘n hele reeks indrukwekkende inskrywings: Hy is nie net bekend vir sy werk op ondermeer Talk Radio 702 en Power FM geselsradio nie, maar het onlangs sy eie boek A Bantu in my Bathroom bekendgestel. Die kranige radio-persoonlikheid, politieke ontleder, skrywer en openbare spreker deel sy lewensreis tot dusvêr in die eerste episode van Diep Spore op KykNET & Kie. Ons gesels ook met van sy vriende en kollegas, en gaan maak ‘n draai in sy geboorte dorp in Grahamstown aan die Oos Kaap.

AMY KLEINHANS-CURD
(19 Oktober 2013)
Toe Amy Kleinhans-Curd as die eerste Mej. Suid-Afrika van kleur aangewys is, het haar lewe onherroeplik verander. Vandag is sy nie net geliefd onder talle Suid-Afrikaners vir haar sprankel en skoonheid nie, maar ook vir haar eindelose werk onder minder-bevoorregtes en haar vernuf as sakevrou. Die gesinsvrou en ma deel haar liefdes, vrese en lewenslesse in vandeesweek se episode van Diep Spore. Ons maak ook kennis met haar ma en tweelingsusters, haar man Leighton, haar kinders en mense wat haar lewenspad daagliks verryk.

CHESTER WILLIAMS
(26 Oktober 2013)
Die oud-Springbok Chester Williams sal vir ewig in die geskiedenisboeke bekendstaan as een van die land se grootste rugbyhelde. Terwyl hy deesdae rugby oorsee afrig, maak hy tog tyd om sy kennis en vaardighede in Suid-Afrika terug te ploeg. Saam met sy lieflike vrou Maria, en hul kinders, vorm die Williamse ‘n hegte en gedugte span. In die episode van Diep Spore gesels ons met die paartjie oor die liefde, gesinslewe en die uitdagings van die lewe.

ELTIE LINKS
(2 November 2013)
Prof. Eltie Links het letterlik “Diep Spore” getrap op die akademiese-, politieke- en sake-landskap van Suid-Afrika. As ambassadeur en raadgewer het hy vyf presidente gedien en tydens die oorgang na demokrasie het hy komplekse finansiële, handel- en nywerheidsonderhandelinge gelei. Met sy terugkeer het hy homself voltyds tot die sakewêreld verbind en dien vandag op die direksies van ‘n aantal van ons land se grootste maatskappye. Maar vir prof. Links bly sy geloof, sy liefde vir sy medemens en gesin ‘n belangrike prioriteit in sy daaglikse handel en wandel. Hy deel sy storie met die kykers van KykNET & Kie op Diep Spore.

Diep Spore
Diep Spore

Lewer kommentaar

Leave a Reply