Die lewe in ’n klein dorpie … almal weet mos als van jou af nog vóór jy self dit geweet het.
In dié storie wonder en skinder almal op die oomblik net oor één ding: die Hartedraer van die Dekade-prys wat oorhandig gaan word. Ontmoet karakters soos die slinkse Gossip, flambojante Beloftes Burgemeester, Fanie Vonkelbek wat ’n wrok teen Gert Geldwolf koester en Emma Emosioneel wat so ordentlik is dat sy selfs haar grondboontjies met haar mes en vurk eet.
Anna Aandag keer vir die eerste keer in jare terug na haar tuisdorp. Wat is haar eintlike motief: om weer haar ou skoolliefde raak te loop of om self as Hartedraer bekroon te word? Maar dis Antie Ubuntu, wat soos ’n ma vir die straatkinders is, wat die grootste geheim diep in haar binneste rond dra … Dis ’n storie oor deernis, skinder, konflik en nalatenskap – en bowenal van hoop.
Die toneelstuk is ’n kombinasie van drama, dans, sang, mimiek en voordrag, en al die akteurs is inwoners van Clanwilliam.
Ouderdomsbeperking: Geen
Moontlik gemaak deur: Wes-Kaapse Departement van Kultuursake, Distell en Rooibos Bpk.
2 Mei | Senior Sekondêre Skool
Tydsduur: 60 minute
Kaartjies: R30 vir volwassenes, R15 vir skoliere
Besprekings: Cederberg-feeskantoor by 027 482 1090
Cederberg Kunstefees 2013
