Dowwe Dolla doen dit staan staan!

“Hoe ry die boere sit-sit so!” en dis van al die gesit dat hulle lyk soos hulle lyk. Kyk Dolla is eintlik ´n voorstaander van lê, maar vir variasie het sy besluit van nou af sal dit staan-staan wees.

Vir ´n korte wyle het Dolla besluit sy wil nie so vingeralleen deur die wêreld gaan nie. Ek meen ´n vrou kan nie vir altyd gelukkig bly nie en sy besluit toe om te trou met die magician. Maar Dolla bly Dolla en een man was darem net ´n bietjie te boring. En soos julle goed sal weet, verdwyn die magic saam met die ring. Die trick waar hy haar opsaag dwarsdeur die land was toe ook nie so indrukwekkend nie. Intussen het sy darem ´n hele klomp tricks van haar eie geleer. Haar beste tot op hede was om hom te laat verdwyn. Vroue staan que vir lesse.

Dolla is weer single en dit gee haar baie ruimte om so staan-staan alles uit te probeer. Soos die spreekwoord sê; beproef alle dinge en behou die goeie. Laat die beproewing begin, want goeie goed is maar yl gesaai en vat lank om op te kom.

Dit is ´n feit dat ´n teaterjaar nie dieselfde is as jy nie by Suid-Afrika se mees verspotte blonde gaan kuier het nie. Dolla sorg al vir meer as 5 jaar dat Suid-Afrikaners vir hulself kan lag. Haar vorige vertonings Staatslet, Ereksie ´99, Krismisdoos, Vigs en Gesond, Dolla Gee Haar Beste en Feesflerrie word jaarliks deur duisende mense regoor die land gesien.

Die slim blonde agter die stadige blonde is Margit Meyer-Rödenbeck, wat laasjaar bekroon is met ´n FNB Vita toekenning vir haar briljante komiese vertolking van hierdie stuitige karakter. Hoewel Dolla niks goed te sê het oor Margit nie, het Margit ´n sagte plekkie in haar hart vir die bitsige blonde. Margit het onlangs haar Meestersgraad in Drama verwerf aan die Universiteit van Stellenbosch. Wanneer sy nie by Dolla kuier nie, is sy besig met radiowerk, kinderteater en vervaardiging.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar