Dowwe Dolla: Feesflerrie!

“Afrikaners is plesierig, en dan maak hulle so . en so . en sooo!” En waar daar plesierigheid is, daar is Dowwe Dolla. Dolla is die plakkaatpoppie vir al wat fees en jol in ons land is. Sy raak net effens deurmekaar met al die feeste, so het sy laas by neef Sarel se kersfeespartytjie aangekom met haar paashaasrokkie. Maar, aangesien die hele familie doofstom is, het niemand beswaar gemaak nie en Dolla was die hart en siel (en ´n hele paar ander liggaamsdele) van die partytjie.

In haar splinternuwe uitrustings vat Dolla haar gehoor saam op ´n toer deur feesterye in Suid-Afrika. Gewonder wat Dolla vir Kersfees kry van Thabo “see no evil” Mbeki, George “do no evil” Bush en die nimmereindigende “hear no evil” Loerbroer? Wil jy weet wat die paashaas se werklike passies is? (Meer as net eiers.) Weet jy hoe om jou te gedra by die gemiddelde Suid-Afrikaanse troue? (Alles wat nie vasgemaak is nie, is joune.) Wat van die huweliksnag? (Mmmmm.) Weet jy hoe om kunstefeeste te geniet sonder om een enkele vertoning te gaan kyk? (Vra 40% van die feesgangers op enige fees.) Die volledige antwoorde op hierdie en talle ander pilosofiese feesvrae word beantwoord in Dowwe Dolla: Feesflerrie!, wat ´n beperking van 18 het (ouderdom, nie IK nie, Ferdi!)

Dit is ´n feit dat ´n teaterjaar nie dieselfde is as jy nie by Suid-Afrika se mees verspotte blonde gaan kuier het nie. Dolla sorg al vir meer as 5 jaar dat Suid-Afrikaners vir hulself kan lag. Haar vorige vertonings Staatslet, Ereksie ´99, Krismisdoos, Vigs en Gesond en Dolla Gee Haar Beste word jaarliks deur duisende mense regoor die land gesien.

Die slim blonde agter die stadige blonde is Margit Meyer-Rödenbeck, wat vroeër die jaar bekroon is met ´n FNB Vita-toekenning vir haar briljante komiese vertolking van hierdie stuitige karakter. Hoewel Dolla niks goed te sê het oor Margit nie, het Margit Margit Meyer-Rödenbeckn sagte plekkie in haar hart vir die bitsige blonde. Margit het onlangs haar Meestersgraad in Drama verwerf aan die Universiteit van Stellenbosch. Wanneer sy nie by Dolla kuier nie, is sy besig met radiowerk, kinderteater en vervaardiging.

Die man wat die woorde in die blonde bom se stokkielekkermond sit, is Hennie van Greunen, wat ook bekend is vir sy tekste van produksies soos Blougat, Junkiedrome, Lyf en Wydekloof.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar