Die bekende teatervervaardiger, Frans Swart is Hannes van Wyk se gas Dinsdagaand, 25 Februarie om 21h00 op kykNET se gewilde program Hannes aan huis.
Frans gesels lekker met Hannes oor sy grootwordjare op die plaas Gruispan in die Hoopstad distrik, sy liefde vir toneel en die teater, die begin van televisie in Suid-Afrika waarvan hy deel was as kameraman, sy geliefde dramamentor, juffrou Aletta Gericke, sy skryfwerk, sukses met Lefra Produksies wat verlede jaar dertig jaar in die bedryf gevier het, sy familie, die bemarking van Springs, sy liefde vir tequila en vele meer.
Frans sê dat dit lekker was om saam met Hannes van Wyk te kuier. “Hy is so ‘n wonderlike onderhoudvoerder en plaas mens dadelik op jou gemak. Wat my veral beïndruk het, is die volledige navorsing wat hy gedoen het. As ‘n joernalis of aanbieder goeie navorsing gedoen het, dan beïndruk jy my dadelik.” Frans lag! “Hy het meer van my geweet as ek self!” Frans sê Hannes het hom op ‘n nostalgiese reis geneem. “Sjoe, die man het my goed laat onthou wat ek al lankal vergeet het. Dit was heerlik om so oor ‘n lang lekker lewe terug te kyk. En ja, nostalgies was ons beslis!”
Frans is op Hoopstad in die Vrystaat gebore. Hy sê nie graag die jaar nie! Hy het op die plaas Gruispan in Hoopstad groot geword, maar het vanuit sy ouma Ella se huis in Wesselsbron skool gegaan. Hy matrikuleer aan die Sandveld Sekondêre Skool in Wesselsbron. Daarna gaan studeer hy onderwys aan die Universiteit van die Vrystaat en is inwoner van die bekende of berugte Reitz Kamerwonings. In dieselfde tyd word daar ‘n begin aan televisie gemaak en die SAUK adverteer kameramanne. Frans doen aansoek en kry onmiddellik die pos as kameraman. Hy skryf reeds van veertienjarige ouderdom vir LandbouWeekblad en vir die streekkoerant, VISTA. As kameraman, werk hy op groot produksies soos Ge Sing, The Beatles Song Book, Salome en vele meer. “My liefde was egter altyd die kinderproduksies. Ek skryf ‘n hele aantal tekste vir Wielie Walie, Siembamba en Vuurhoutjieland. Daar ontmoet ek die legendariese Verna Vels, wat my ook gehelp het om my eerste kinderboek, Blouvlam, die draak, te publiseer. As kameraman op Liewe Heksie is ek dadelik ‘n Heksie-fan en tans voer Lefra Produksies Liewe Heksie op en toer reg oor die land.”
Hy behaal die volgende kwalifikasies: Nasionale Diploma in Fotografie, BA en BA(Hons) in Kommunkasiekunde van UNISA, Lisensiaat in Spraak en Drama van die Akademie vir Dramakuns (ADK) en ook die Finale Diploma in Drama van UNISA,
Hy maak ‘n draai by die Universiteit van die Noorde in Pietersburg as Hoof van Openbare Betrekkinge en kry daarna ‘n pos as Direkteur van Openbare Betrekkinge en Bemarking by die Springs Stadsraad. Vir die afgelope 40 jaar is Frans ‘n Springs-inwoner. Hy was instrumental in die sukses van die destydse Springs Stadsteater, hy hanteer al die bemarking vir Springs en vestig ‘n hele aantal nasionale en internasionale nywerhede in Springs met sy bekende advertensieveldtog, KOM NA SPRINGS – DIE GROEIPUNT VAN DIE OOS-RAND. “Jong, ek is mal oor Springs en sy mense. Ek het altyd gesê Springs is die platteland in die stad. Ek verruil Springs vir niks nie!”
Frans was ook ‘n stigterslid van die gewilde radiostasie, Oos-Rand Stereo wat vir baie jare met groot sukse aan die Oos-Rand uitgesaai het. “Dit was vir my die lekkerste oomblik toe ek die eerste oggend vinnig in my kar gaan sit om te hoor of ons werklik op die lug is. En daar kom Fanus Rautenbach, ons eerste ontbytaanbieder, se suiwer stem klokhelder oor die luggolwe. Ek onthou steeds Fanus se aansteeklike lag waaroor al die luisteraars so gek oor was.”
Dertig jaar gelede stig hy die bekende Lefra Produksies wat bekendheid verwerf in teater, radio en televisie. Een van sy bekendste produksies is sekerlik, Groet die Grotman. Hy behaal groot sukses met die klugte soos My boetie se sussie se ou. Lefra Produksies is ook baie bekend vir die Oppiwater Kunstefees. Hulle het tans die televisieprogram, Skaterlag met Andre op VIA en hy werk tans aan twee nuwe produksies – die komedie, Vlerksleep en ook ‘n huldeblykproduksie aan Koos du Plessis, Koos Doep. “Lefra Produksies is werklik my trots, want ons is ‘n ongelooflike span wat groot dinge bereik en massiewe produksies aanpak!”
Frans is deur en deur ‘n gesinsman. “Dit is vir my die lekkerste om saam met my gesin, Hannelie, Ana, Phillru en Frans-Hendrik te kuier. Saam is ons nogal mal!”
