Gróót feestelikheid op vanjaar se KKNK

Oudtshoorn skud sy vere reg vir ’n uithaler 19de Absa KKNK wat beloof om een van die gróótstes te wees.

Hier is wat 2013 se fees gróót maak:

  • Dit is ’n langer fees wat op Goeie Vrydag begin en vir 9 dae aanhou tot met die daaropvolgende Saterdag.
  • Die meeste teaterproduksies in baie jare, met ’n breër keuse van kuns en vermaak vir die hele gesin.
  • ’n Groot toename in oorspronklike werke – (54 debuutproduksies vanjaar teenoor 2012 se 37!), waaronder 22 toneelstukke, 18 musiekteater en kontemporêre musiekproduksies, 7 klassieke musiekuitvoerings, 4 spesiaal saamgestelde woordkunsprogramme, 2 kraakvars kinderteaterstukke en 1 hoëprofiel-nuwe dansteaterproduksie.
  • Vaste tydgleuwe vir produksies maak dit makliker om jou feesskedule te beplan, aangesien produksies wat herhaal,
    daagliks dieselfde tyd sal speel.
  • Die vermaak en stalletjies in die gewilde Rivierbuurt gaan daagliks tot heelwat later -van 10:00 tot 22:00 – oopbly. Dit bied die ideale uitspanplek vir gesinne met ’n keuse van musiek, smullekker feeskos, yskoue drinkgoed, ’n inkopieparadys met ongeveer 400 stalletjies, ’n pretpark en ander speletjies vir adrenalienverslaafdes. Toegang is R40 per dag, terwyl ‘n weekkaartjie slegs R100 kos. Kinders onder 15, vergesel deur ’n volwassene, kry gratis toegang.
  • ’n Weeklange straatfees sal in Baron van Reede plaasvind, bestaande uit musiek, toneel en visuele kunsaanbiedings.
  • Johnny Biskit’s, ’n splinternuwe eksklusiewe uithangplek vir feesgangers onder 18, sal daagliks van 12:00 tot ounag bedryf word. Jongmense kan uitsien na snykant-produksies en ’n slapsit sitkamer deur die dag en ’n laatnagklub.
  • Die Deurbraak-venue, waar jonger professionele stemme verlede jaar groot opslae gemaak het en met verskeie Kanna-nominasies erken is, se inhoud word uitgebrei om nie net produksies nie, maar ook skerpskerts-komedie en opkomende musiekgroepe in die aand te huisves.
  • ’n Massakooruitvoering, bestaande uit plaaslike kore, saam met die UP Simfonie-orkes, op Paas-Maandag, bied ’n hoogtepunt van die klassieke musiekaanbod op die fees.
  • Die Absa KKNK brei sy tuiste vir fisieke en visuele teater in die Baanbreek-venue uit en bied ’n eerste pdragwerk, Pruttel, as vlagskipproduksie hier aan.
  • Met al die erkenning wat ons kurator, Sandra Hanekom, verlede jaar vir haar uitblinker-feesuitstallings ontvang het, word ʼn selfs wyer verskeidenheid vooraanstaande hedendaagse Suid-Afrikaanse visuele kuns na Oudtshoorn gebring met die aangrypende werke van Diane Victor as feeskunstenaar.
The Rape of Europa (2010), Diane Victor
The Rape of Europa (2010), Diane Victor

Met soveel om van te kies, met die pragtige en feestelike Klein Karoo as ons verhoog en skilderdoek, bly Oudtshoorn Suid-Afrika se leidende kuns-en vermaakbestemming oor die Paasvakansie.

Lewer kommentaar

Leave a Reply