Die Absa KKNK het die beeldhouer en boorling van Oudtshoorn, Owen Claassen, aangewys om die nuwe Kanna-beeldjies vir die fees te maak. Uitnemendheid by dié jaarlikse fees word met die Kannas, wat ook as die Klein Karoo Oscars bekendstaan, beloon.
Theo Kemp, Programbestuurder van die Absa KKNK, sê daar is besluit om Claassen te gebruik omdat sy werk spreek tot ‘n mens. “Die dansende figure, die kunstenaars op hulle musiekinstrumente en ander beelde wat spreek van energie en passie, skakel uitstekend in by waarna gesoek word vir Kanna-beeldjies. Dit pas ook in by die feestelike erkenning van die uitnemendheid van die kunste. Dit is uiteraard ‘n bonus dat Owen van Oudtshoorn is, en dat ons op so ‘n manier ook ‘n plaaslike kunstenaar by die Kanna-toekennings kan betrek,” sê Kemp.
Claassen, wat sy beeldjies uit staal maak, sê hy is opgewonde om deel te wees van die projek. “Vir iemand van Oudtshoorn is dit ’n wonderlike voorreg om die geleentheid te kry om vir die Absa KKNK die beeldjies te maak. Van my beeldjies is al so vêr as Nederland uitgestal, maar om hier by die huis erkenning te kry oortref dit,” sê Claassen, wat onlangs Zoar toe verhuis het.

Na skool het Claassen Kaapstad toe verhuis en uiteindelik by ’n staalfabriek ’n werk gekry. “In my etenstye het ek met die oorskiet staal beeldjies gemaak en daar het ek besef die frustrasie binne my, was iets wat ek nie in ’n gewone skool kon uitleef nie. Vandag is ek ’n voorstander van vaardigheidskole waar kinders wat nie in hoofstroomskole vorder nie iets kan leer.”
Vanjaar se Kanna-toekennings word op 5 Mei by ’n gala-geleentheid in Kaapstad oorhandig.
