Ha!Man en vriende uit Europa

Suid-Afrika ontvang deesdae ’n goeie dosis internasionale kunstenaars. Maar behalwe vir ’n strooisel onder ’n paar feeste, bly dit by die groot, bekende name wat die duur onkostes om hulle hier te kry regverdig.

Die dikwels meer interessante en opwindende kunstenaars wat in Europa op die voorfront van kreatiwiteit staan sien ons nie sommer nie, veral nie in hierdie ekonomiese tye nie. Maar ’n boer maak ’n plan, en die bekende HA!Man (Francois le Roux) het besluit om twee verhoogvriende, met wie hy ’n pad oor die laaste dekade van Europese toere geloop het, na Suid-Afrikaanse gehore te bring – sonder enige hulp van regerings of korporasies.

Andy Fierens (1976) is ’n hiper-energieke Vlaamse verhoogdigter wat die klassieke beeld van die wêreldvreemde digter vol self-medelye aan skerwe laat spat. Hy vuur genadeloos sy woorde op gehore in België, Nederland, Frankryk, Duitsland en Japan op ’n manier wat hulle kan laat skaterlag. Ook ’n kunstenaar wat homself bestuur, het sy faam hom reeds geneem na prominente verhoë en geleenthede – vanaf die Gentse Feeste, die 5de Nacht van de Poëzie (België), Poetry International (Nederland), Club Jungle (Osaka, Japan), tot by die Woordfees in Stellenbosch (waar hy en Francois in 2001 vir die eerste maal ontmoet het).

Die HA!Man kom in aanraking met Gert Anklam se “sirkulêre asem” saksofoonspel by die Grahamstadse Kunstefees in 1999. Gebore in 1969 in Oos-Berlyn, behoort Gert tot ’n nuwe generasie van Duitse instrumentaliste wat tegniek en genre’s tot nuwe horisonne voer. Gert werk vir jare reeds aan solo optredes wat die verhouding van klank tot ruimte uitbuit, op so ’n hoë vlak dat hy genooi is om in prominente globale bakens te speel – onder andere die koepel-saal van die Monument van die Stryd van die Nasies in Leipzig, die Vergadersaal van die Verenigde Nasies in New York, asook die Verbode Stad in Beijing, Sjina. Om sy musikale taal te verbreed, reis Gert na die kulture van Indië, Afrika, Japan, Sjina en Noord-Amerika waar hy met ’n wye verskeidenheid musikante saamwerk. Hy skryf ook musiek vir radiodramas, teater en interdissiplinêre projekte. Met Beate Gatscha innoveer hy op die vlak van instrumentbou in die vorm van unieke “water-instrumente.”

Ha!Man en vriende uit Europa
Ha!Man en vriende uit Europa
Saam met die HA!Man se spontane tjello- en klawerbordspel, wat self al ’n merk in vier kontinente gemaak het, vorm hierdie driespel ’n formidabele verhoog-teenwoordigheid – drie kunstenaars wat eiehandig nuwe paaie inslaan op ’n manier wat gehore beide uitdaag en vol energie blaas. Andy (“..een anti-held die door zijn innemende zelfspot toch weer held wordt”) bring ’n keur uit sy debuutbundel Grote Smerige Vlinder (bekroon met die Herman de Coninckprijs), sy enigmaties-humoristiese “nooit worden wij ergens uitgenodigd” asook liefdesjuwele van die totaal on-ontdekte Paul Snoek. Gert dra by met sy verstommende solo-saksofoon improvisasies en die HA!Man vorm die ruggraat van die aanbieding met sy gesogte musikale skeppinge. Tussendeur vorm hulle kombinasies: Andy begelei deur Francois en dan ook Gert, Gert en Francois laat waai met duo’s en oorspronklike komposisies, en moontlik kry hulle Andy dan so ver om sy woorde te laat losbrand in ’n gesamentlike klimaks!

’n Reeks onafhanklike aanbieders maak hierdie unieke konserttoer in die Wes-Kaap, Gauteng en Mpumalanga moontlik (18 September tot 3 Oktober 2011). Suid-Afrikaners van alle soorte behoort nie net hierdie optredes uitermate te geniet nie, maar kry ook die kans om so ’n rare knooppunt van internasionale strome te ervaar, veral diegene met ’n liefde vir musiek en taal (gedigte word in Vlaams, Afrikaans en Engels voorgedra).

(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Leave a Reply