Herman van den Berg

deur Haydee Hollander

My Man – Jacques Brel, in Klinkende Afrikaans het verlede week by die Volksbladfees gedebuteer. Haydee Hollander het Herman van den Berg gepols oor sy eerste kennismaking (én verwondering) met Brel se musiek.

“Om met liefde alleen
Tot missiele te spreek
Met ‘n lied jou te wreek
Op tegniek so obseen”
uittreksel uit Om met liefde alleen (Quand on n’a que l’amour)
(Bernard Odendaal, Naòmi Morgan)

Hoewel Herman ‘n praktiserende ingenieur is, is sy passie musiek en benewens die passie is hy ook ‘n kranige en bekroonde fotograaf en sy aanvoeling vir die visuele vind vastrapplek in sy verfrissende gebruik van beelde in sy lirieke. Herman woon saam met sy vrou Seugnet in Johannesburg.

Vertel van die Herman van den Berg / Jacques Brel-konneksie?

“Ek het met Jacques Brel se musiek kennis gemaak toe ek jare gelede vir Herman van Veen ontdek het en besef my gunsteling liedjies is meestal deur Jacques Brel geskryf. Sedertdien het ek elke nou en dan op een van sy juwele afgekom tydens ‘n uitvoering of iets dergeliks. Ek het egter eers die oorspronklike weergawes gaan opsoek toe ek genader is om deel te wees van hierdie produksie (>My Man – Jacques Brel in Klinkende Afrikaans) – dit was op sigself ‘n besondere openbaring.”

Herman van den Berg
Herman van den Berg
Jy is ‘n liedjiekunstenaar in eie reg: hoe maak jy Brel se liedjies, wat uit ‘n heel ander taal-, kultuur – en geografiese sfeer kom, jou eie?

“Ek glo die belangrikste element van so ‘n opvoering is dat mens moet aanklank vind by die musiek; en dit is in hierdie geval glad nie ‘n probleem nie. Hoewel Brel sing oor sy kultuur en mense, glo ek dat die rou emosie en atmosfeer juis dit is wat hom so toeganklik gemaak het vir internasionale gehore. Ek moet erken dat die Afrikaanse vertalings eers die ware krag van sy skeppings vir my ontbloot het, want ek kon vir die eerste keer die lirieke saamsmee met die musiek, wat in Brel se geval onafskeidbaar is. Dit is wel vir my ‘n uitdaging om iemand anders se musiek te sing, want ek sing uitsluitlik my eie liedjies.”

Die produksie bestaan uit ‘n twaalftal Brel-liedjies – noem jou gunstelinge?

“Die sterwende (Le moribond), Drinklied (La bière), Die grysaards (Les vieux), My lae land (Le plat pays), Amsterdam, Om met liefde alleen (Quand on n’a que l’amour), Vlamingvrou (Les Flamandes), Jojo, My kinderdae (Mon enfance), Sneeu oor Luik (Il neige sur Liège), Die bedeesdes (Les timides), Die lied van die ou minnaars (La chanson des vieux amants) en Die goeie god (Le bon Dieu). My gunsteling was van die heel begin My kinderdae (Mon enfance). Toe ek dit die eerste keer hoor, het ek onbeskaamd begin huil sonder dat ek eers ‘n idee gehad het waaroor die liedjie handel. Ek kon nie wag om die vertaalde lirieke beet te kry nie.”

Hoe het jy die liedjies georkestreer?

“Ek het gesoek na die essensie in Brel se orkestrasie, en besluit die akkordeon is onontbeerlik. So die orkestrasie bestaan uit klavier, kitaar en akkordeon. Die proses wat ek gevolg het was om eers die musiek te leer ken en daarna die akkoorde uit te werk. Die musikante waarmee ek gewoonlik werk verkies om eerder met die akkoorde te werk as met genoteerde musiek. Matthys moes weer en weer luister na die musiek, waarna ons bymekaar gekom en daardeur gespeel het. Dis gewoonlik hier waar die musiek sy eie lewe begin aanneem. Ek self speel die kitaar want die primêre verantwoordelikheid vir die musiek rus seker op my skouers, maar ek het baie respek vir Matthys Maree op klawers en gebruik baie van sy insette. Die musiek berus op samewerking eerder as solo’s.”

Jacques Brel, Ferré en George Brassens
Jacques Brel, Ferré en George Brassens
Daar was uiteraard net een Jacques Brel. Watter persoonlike stempel hoop jy om op jou weergawe van die liedjies af te druk?

“Op hierdie stadium voel dit vir my amper onnodig om enige persoonlike stempel af te druk maar dis seker te wagte dat van die musiek meer van my persoonlikheid sal aankleef na ‘n paar opvoerings. Ek is nie ‘n puris in die opsig dat die musiek presies soos Brel s’n moet klink nie, maar dis vir my belangrik om nie die atmosfeer of emosie van die musiek radikaal te verander nie. As ek daarin kan slaag om getrou te wees aan die emosie in die musiek, sal ek voel dat ek my (persoonlike) stempel op die vertalings afgedruk het.”

Brel is in 1978 oorlede, maar sy liedjies bly gewild. Waaraan skryf jy dit toe?

“Die een ding wat vir my uitstaan van Brel se musiek is die intensiteit daarvan, en ek dink dis wat die musiek so tydloos maak. Die temas van die liedjies is ook baie universeel. Brel skryf oor die lewe, oor liefde, oor vriendskap en oudword. Temas waarmee die meeste mense maklik kan identifiseer.”

Die musiek op jou albums Proe die Aarde en Herman van den Berg is eie skeppings met een of twee verwerkings (Beiteltjie van NP van Wyk Louw) en Hoe Ver is Eendag van Antjie Krog). Laasgenoemde handel oor die liefde en sterflikheid, persoonlike verhoudings en die belewenis daarvan. ‘n Resensent skryf oor eersgenoemde album, “die intieme toon van die lirieke word versterk deur die helpende hand van sy vrou, Seugnet. My Hart, Snags, Muse, Pêlle in Exile en Mister Magoo is sprekend van hulle vrugbare vennootskap. Liefde word op ‘n aangrypende wyse besing, maar spring vaardig die slagysters van sentimentaliteit vry. Snags handel oor saamslaap, maar die soort wat selde besing word: wanneer mense slaap is hulle nabyheid anders, hulle voed mekaar op ‘n vreemde manier. Soos in ‘n droom, wanneer die wind kantgordyne laat bol, amper spookagtig.” My vraag het ‘n lang aanloop: julle sing albei oor liefde en die kompleksiteit daarvan. Wat is jou beskouing van Jacques Brel en sy belewing van die liefde, verhoudings, vroue?

“Dit wil voorkom of hy ‘n baie intense belewing gehad het van die lewe oor die algemeen, en dit sluit liefde, vrouens en verhoudings in. Hy het baie daaroor (maar selfs nog meer oor die dood) gesing. Soos heelwat mense wat filosofies raak oor die liefde, het hy egter nie ‘n goeie voorbeeld gestel nie. Sy persoonlike verhoudings het beslis nie gespreek van langtermyn sukses nie.”

Na universiteit, was jy betrokke by verskeie musiekproduksies as kitaarspeler en musiekskrywer?

“My ‘geboorte’ as skeppende musikant het as’t ware op Universiteit plaasgevind waar ek nou betrokke was by musiek. My eerste ervaring was ‘n kabaret met ‘n groep studente by die Grahamstad kunstefees (dit was nog in die dae voor KKNK) genaamd Simpel en Pers. Daarna is ek Potchefstroom toe en het ek betrokke geraak by onder meer die kabaret Die Bloementals en musiekblyspele (as skrywer en kitaarspeler). Ek het ook heelwat opgetree in restaurante en kroeë. My eerste solo optrede met uitsluitlik my eie musiek was by Aardklop onder die titel Kaal. Daarna het my musiekloopbaan begin spoed optel met al meer vertonings en uiteindelik twee SAMA genomineerde albums.”

In 1998 laat jy die Afrikaanse musiekgemeenskap regop sit met jou bydrae tot Geraas se Vuurdoop kompetisie. Jy eindig tweede en neem jou debuut album op wat vir ‘n Sama genomineer is in die kategorie Beste Afrikaanse Kontemporêre CD? Waaroor handel Kraaitjie Melaaitjie en Windliedjie?

“Kraaitjie Melaaitjie is ‘n toonsetting van Piet van Rooyen se gediggie, ‘n eenvoudige liefdesgedig met ‘n sterk nostalgiese atmosfeer. Windliedjie is ‘n toonsetting van Ingrid Jonker wat ook dadelik my aandag getrek het weens die sterk atmosfeer daarin. Dit het my baie laat dink aan mis in die dennebosse in Pietermaritzburg (waar ek grootgeword het).”

Is Kabaret een van jou liefdes en wat is jou benadering?

“Ja, dit is een van my voorliefdes, maar die oorspronklike vorm, nie die moderne opvatting wat bepaal dat enige musiekvertoning met dialoog (of monoloog) ‘n kabaret genoem word nie. Die musiek van ‘n kabaret moet die tema van die kabaret versterk, en nie andersom soos byvoorbeeld ‘n klomp liedjies met ‘n tema wat bymekaargegooi word en gebind word deur teks nie. Om musiek vir ‘n kabaret te skryf is altyd interessant, aangesien dit mens toelaat om musiek in verskillende genres te skep.”

Behalwe vir die Jacques Brel vertoning, is Herman besig met ‘n nuwe album wat hopelik voor die einde van dié jaar die lig gaan sien.

Lees meer oor hom op http://www.hermanvdb.co.za

Lewer kommentaar

Leave a Reply