Inskrywings word ingewag vir Artscape en die Suidoosterfees se dramafees vir hoërskole wat in Oktober vanjaar in Kaapstad aangebied word. Skole kan tot 20 Augustus produksies vir die Hoërskool Dramafees inskryf. Die ses topinskrywings sal op 8 en 9 Oktober 2021 in die Arena by Artscape vir finale beoordeling opgevoer word, waarna die beste akteurs, regisseurs en skrywers tydens ‘n toekenningsgeleentheid pryse sal ontvang. Die wendrama se geselskap sal uitgenooi word om hul produksie tydens Suidoosterfees 2022 op die planke te bring.

Om deel te neem moet skole ’n produksie van 30 tot 60 minute voorlê wat handel oor sosiale uitdagings waarmee hedendaagse skoliere te doen kry. ‘n Uittreksel van tien minute uit die toneelstuk moet as ‘n oudisievideo voorsien word, tesame met ‘n opsomming en motivering vir die tema wat gekies is. Ingevolge Covid-19-regulasies word maksimum ses akteurs op die verhoog in Artscape se Arena toegelaat, en inskrywings moet aan dié voorskrif voldoen.

Prof. Brian Figaji, voorsitter van die Suidoosterfeesdireksie, sê: “Dit is vir ons opwindend om saam met Artscape aan hierdie projek deel te neem, want die Suidoosterfees het reeds ‘n groot fokus op ontwikkelingsprogramme, en ons sien dit as nog ‘n geleentheid om jong teatermakers te help ontwikkel.”

Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Artscape, sê: “Die doel van die Hoërskool Dramafees is om aan leerders ‘n platform te bied waar hulle kreatief uitdrukking kan gee aan hulle sienings oor sosiale bekommernisse – deur middel van drama op ‘n professionele verhoog, en voor ‘n gehoor. Die towerkrag wat in lewende teater lê sal ongetwyfeld deelnemers se horisonne verbreed. Leerders word ook blootgestel aan die dissipline en etiket van die teateromgewing.”

Die sluitingsdatum vir inskrywings, wat ’n oudisievideo van 10 minute, ’n opsomming en motivering vir die tema van die stuk insluit, is Vrydag, 20 Augustus 2021. Skole wie se inskrywings suksesvol is sal teen Woensdag, 25 August 2021 ingelig word. Vir meer inligting en om inskrywingsvorms te kry, kontak asseblief vir Tania Williams-Kaponda by slu@artscape.co.za

Lewer kommentaar

Leave a Reply