Die geliefde radio-program Nic se goed het allemans-eiendom vir Suid-Afrikaners geword. Maar dís die oortjies van die seekoei. Nic de Jager is ‘n geliefde media-ikoon. Sy innemende teenwoordigheid het deur die dekades ‘n veilige hawe geword teen die roesemoes van die wêreld. En dan praat ons nie eens van sy ánder bydraes in die rolprent- en televisie-wêreld of sy reuse-bydrae tot die musiek-bewussyn van ons land nie.
Ná bykans 85 jaar lig Frederik Nicolaas de Jager in hierdie eenmalige aanbieding die sluier om sélf te praat oor sy liefdes, sy ervarings, sy teleurstellings en suksesse. Gehore kry vir die eerste keer die geleentheid om die méns agter die stem te ontmoet. Hy is in eie reg ‘n verteller soos min, ‘n stylvolle raconteur wat nie skroom om die eerlike kollig waarvoor hy bekend is, hierdie keer op homself te rig nie.
Die grepe uit sy lewe is onthutsend eerlik en terselfdertyd diep roerend. Kom ontmoet die mens agter die mikrofoon, die akteur sonder die masker van ‘n karakter. Dis Nic de Jager op sy beste: eerlik, spitsvondig en wel-ter-tale – met ‘n sak wonderlike stories op die koop toe.
Coenie de Villiers sluit aan by Nic de Jager op die verhoog as aanbieder.
Kom hoor hoe Nic de Jager vir die eerste keer oor sy ánder goed gesels.
Regie: Ingrid Howard
Konsep en inkleding: Ingrid Howard en Coenie de Villiers
Vervaardiger: Tale Be Told Productions
Aanbieder: Coenie de Villiers
Beligtingsontwerp en projeksieontwerp: Loui Griebenouw
2 Maart 2025, 15h00, Drostdy-teater, Stellenbosch

