Die Kierieklapper Kunstefees (‘n fondsinsamelingsprojek vir die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes) is gevestig as ‘n jaarlikse geleentheid waar die gemeenskap van Mokopane en omgewing saamstaan en die Dienssentrum vir Bejaardes met oop harte en hande ondersteun. Die jaarliks fees onderstreep die gedagte van “uit die gemeenskap vir die gemeenskap”.
Die Kierieklapper Komitee is reeds hard aan die werk om die 13de fees in Augustus (8-10 Augustus 2013), ’n uithalerfees te maak. Die fees gaan hierdie jaar weer voorsiening maak vir oud en jonk met verskeie musiek- en drama-aanbiedings soos Annale vir ’n Windgat, die glanspersoonlikheid – Nataniël, die beminde en berugte Steve Hofmeyr, Nadine en Snotkop – om net ‘n paar te noem. Daar gaan ook op die fees gepoog word om die meeste hamburger ’patties’ op ‘n slag te braai en so ‘n wêreldrekord op te stel.
Die feesterrein: Hoërskool Piet Potgieter se sportgronde. Die ruimte op die feesterrein maak dit moontlik vir sowat 22 000 feesgangers om gemaklik op die terrein te beweeg. Vir minimale hekgelde is alle produksies en kunstenaars gratis te sien op die Mutual & Federal Agri Buiteverhoog wat op die feesterrein geleë is.
Saam met die reëlings van die Kierieklapper Kunstefees, loods die Kierieklapper Komitee vanjaar ook ‘n op ons bord projek as deel van die fondsinsamelingsprojek vir die sentrum. Die Dienssentrum vir Bejaardes lewer ‘n verskeidenheid dienste aan hul 540 bejaardes wat onder meer insluit ‘n ete-diens, kliniek, tuisversorging, bedwasse en voetversorging. Die Dienssentrum is vanaf Januarie 2013, ook ‘n saleliet kliniek vir die Mogalakwena Kliniek en bejaardes kan hul kroniese medisyne nou by die Dienssentrum kry.
“Dit is hartverskeurend om te sien dat daar van die bejaardes is wat noodgedwonge moet deel aan ‘n bord kos, omdat hulle bloot nie geld het vir twee borde kos nie. Baie mense kan nie meer winkel toe gaan of vir hulself kos kook nie. Dit is vir hulle wat die Dienssentrum ‘n belangrike rol speel”, sê Hartzenberg. “Ons kan nie kos uit ons bejaardes se mond neem nie, aangesien selfs die R9 vir ‘n bord kos, vir sommige bejaardes te veel is”, sê die Kierieklapper Kunstefees Voorsitter, mnr. Johan Kirchner, en daarom loods die Kierieklapper Kunstefees Komitee die Op ons bord projek. Vir ‘n skamele R2,500, kan instansies of individue, ‘n bord kos vir ‘n bejaarde vir ‘n jaar borg. Individue kan ook ‘n bejaarde vir ‘n maand borg, vir slegs R180.
Goeie dag,
Ek wil graag uitvind wanneer die Kierieklapperfees in 2014 plaasvind? Ek is ‘n nuwe uitstaller en wil graag meer inligting kry oor dit.
Groete
Mignone Jacobs