KKNK op toer

Die Absa KKNK se gewilde kunsteontwikkelingsprojek, Op Toer, maak in sy dertiende aflewering vanjaar vir die eerste keer ‘n draai op Heidelberg en Herbertsdale. Die projek se toer van twee weke begin op 18 Augustus en duur tot 29 Augustus 2008.

Met Afrikaanse produksies vir voorskoolse kinders en laerskoolleerders, ‘n inligtingsessie en werkswinkel oor loopbaanmoontlikhede in die kunste vir hoërskoolleerders én ‘n vermaaklikheidsprogram gemik op gesinne, sowel as ‘n Xhosa-produksie vir leerders, voldoen die program in ‘n verskeidenheid van smake. Na verwagting sal sowat 22 000 leerders en 3 500 volwassenes vanjaar se aanbiedings bywoon. Alle vertonings word gratis aangebied.

Happy Ntshingila, Absa se groep uitvoerende direkteur: groep bemarking en kommunikasie, sê Absa is as naamborg van die KKNK baie opgewonde oor hul betrokkenheid by hierdie uitreikprojek, wat produksies van gehalte na skool-, gemeenskap- en kerksale op die platteland neem, waar gehore min geleentheid het om lewende teater te beleef.

Brett Pyper, Absa KKNK se hoof uitvoerende beampte, is opgewonde dat die familie van vennote wat met die Absa KKNK op Toer saamwerk om kunsteontwikkeling in die streek te bevorder, vanjaar uitgebrei word. “Benewens ons naamborg, Absa, wie se voortgesette vennootskap op verskeie vlakke vir ons van ongelooflike waarde is, asook die Kaapse Son en die Vryburgers, verwelkom ons vanjaar die ATKV, Artéma (Instituut vir Kunstebestuur en Ontwikkeling aan Noord-Wes Universiteit), Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), Eden Distriksmunsipaliteit en Agri Klein Karoo op toer.”

Volgens Riaan Visman, bekende akteur en seun van Oudtshoorn, lê die waarde van die Absa KKNK op Toer juis daarin dat mense blootgestel word aan goeie gehalte vertonings en later, as gevolg daarvan, kaartjies koop. Hy vertel graag hoe mense wat hom op toer gesien het, spesiaal Absa KKNK toe gekom het om sy vertonings by te woon. Deur die Absa KKNK op toer, vereenselwig al hoe meer mense hulle met die kunste. “Vanjaar kry kinders die geleentheid om te hoor hoe ‘n loopbaan in die kunste lyk én hoe om dit te bereik,” sê Visman.

Vanjaar se produksie vir die voorskoolse kinders is Die Slapende Skoonheid, wat ook die Kanna gewen het in die kategorie Kinderteater by vanjaar se Absa KKNK. Laerskoolleerders maak kennis met Sweetie Pie wat Stokkiesdraai. Hoërskoolleerders hoor by ‘n inligtingsessie van moontlike loopbane in die Kunste en werkswinkels in sang en drama word daagliks vir 30 leerders deur Riaan Visman en Liesl Marx aangebied.

Mengelmoes (Let’s Mix It 2) met die skerp en bekkige Hadji Fatgiyah Bardien, gespeel deur Gary Naidoo en Chad Abrahams onder regie van Rafiek Mammon, beloof skreeusnaakse gesinsvermaak.

Die dorpe wat deur die Afrikaanse roete besoek word, sluit in: Herbertsdale, Heidelberg, Vanwyksdorp, Ladismith, Zoar, Calitzdorp, Dysselsdorp, De Rust, Prins Albert, Uniondale en Herold.

Wamkelikele Richard, die verhaal van ‘n jong seun wat weens omstandighede die platteland vir die stad moet verruil, word spesiaal vir Xhosa-sprekers aangebied op Oudtshoorn, Mosselbaai, George, Knysna en Plettenbergbaai. Die produksie van die Swii Arts Amendment geselskap van Uitenhage, is geskryf deur Monde Ngyonma met Nobesuthu Rayi as regisseur.

Lewer kommentaar

Leave a Reply