Toyota het ‘n aantal spesifikasieverbeterings aan die gewilde Hilux-bakkiemodelreeks aangekondig. Die verbeterings weerspieël Toyota se verbintenis tot die voortgesette verfyning van sy produkte, in ooreenstemming met die maatskappy se Kaizen-filosofie (voortgesette verbetering).
Die vlagskip-Hilux Raider-modelle word verfris met ‘n volle chroom-sierrooster en -voorbuffer. Op die Raider-dubbelkajuitmodelle word die “Toyota”-plakker vervang met ‘n chroomwapentjie (hierdie verandering geld ook vir die SRX-dubbelkajuit). Die Raider-dubbelkajuite kry ook eendruk-op/af-verstelling (met ‘n veiligheidsmeganisme) vir die elektriese ruite.
Die veiligheidsaspekte van die Hilux SRX-modelle is verbeter met ABS-remme en lugsakke vir die bestuurder en die voorste passasier. Die SRX spog nou ook met sentrale sluiting.
Vir die basiese Hilux-modelle is lugreëling nou beskikbaar as ‘n fabrieksopsie.
Die Toyota Hilux is Suid-Afrika se gewildste eenton-bakkie en is gereeld onder die eerste drie maandelikse top-verkopers in die land, passasiersmotors ingesluit. Die aanduidinge is dat meer as 36 000 Hilux-bakkies vanjaar verkoop sal word.
Die Hilux is ook Suid-Afrika se top-uitvoervoertuig. Linker- en regterstuurmodelle word hiervandaan na markte in Afrika en Europa uitgevoer.
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
