Kopano / Schlager / Who Cares?

Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za

Die Suid-Afrikaanse Ballet Teater bied aan Kopano / Schlager / Who Cares?, slegs by Die Johannesburgse Stadskouburg.

Die ballette ter sprake, is die Nederlandse koreograaf Ed Wubbe se Schlager, Kaloyan Boyadjiev se opgewekte en vrolike multi-kulturele ballet Kopano, (´n mengsel van Mozart en Makeba) en die legendariese koreograaf George Balanchine se ballet Who Cares? (´n viering van New York en sy duiselingwekkende energie.) Dit is die eerste produksie van Who Cares in Suid-Afrika en ´n viering van Balanchine se geboorte ´n honderd jaar gelede.

Balanchine (oftewel George Balanchivadze 1904-1983) was ´n legende in sy eie leeftyd. Hoewel ´n kontroversiële figuur, het hy nuwe standaarde vir dans geskep en aan ballet die kultusstatus help gee wat dit verdien. Resensente vergelyk hom met die hedendaagse Svengali. Balanchine het van dansers sterre gemaak en dikwels met sy protégés getrou. Maar hy bly steeds een van die grootste en veelbesproke koreograwe in die balletgeskiedenis. Die sowat 400 ballette wat onder sy hande deurgeloop het, word slegs deur Jules Perrot en Marius Petipa in getalle geëwenaar. (Bronne verskil oor die aantal ballette, sommige sê 400, ander 300.)

Balanchine begin sy opleiding op 9-jarige ouderdom aan die Imperiale Skool in St. Petersburg, maar met die uitbreek van die Russiese Rewolusie in 1917 is die studente sonder heenkome en hy word in die sorg van die skool se toesighouer, Grigory Grigorevich, geplaas. Die skool heropen na die Rewolusie en Balanchine gradueer in 1921 en sluit hom aan by die Sowiet Staatsballet (ook bekend as die Kirov).

Sy eie lewensverhaal lees soos ´n balletstorie. Na graduering trou hy met ´n mede-student Geva maar die huwelik dra nie Grigorevich se goedkeuring weg nie en hy verwys dikwels in die teenwoordigheid van Balanchine na haar as die “Bulldozer”. Geva was bitter seergemaak omdat Balanchine haar nooit verdedig het nie en in briewe beskryf sy hom as ´n kruis tussen ´n digter en ´n generaal.

Intussen stig Balanchine ´n klein balletgeselskap, The Young Ballet om die dansers aan die lewe te hou en ´n platform vir sy choreografie te skep. Hy kry opdrag om die verhoogproduksie van Rimski-Korsakoff se opera Le Coq d’Or (The Golden Cockerel) by die Mariinsky Teater op te voer en hoewel dit ´n roerende aanbieding was, breek hy met tradisie en lok hewige reaksie. Die geselskap se pogings om hom te hervorm, was futiel. Balanchine word geskors en sy studente met dieselfde lot gedreig indien hulle voortgaan om vir hom te werk.

In 1924, met die hulp van Vladimir Dimitriev vorm hy, Tamara Geva, Nicholas Efimov, en Alexandra Danilova die Sowiet Staat Dansers, onderneem toere na Duitsland en besluit om nie na Rusland terug te keer nie, maar hulle in Engeland te vestig. Dié skuif word ´n finansiële ramp en hulle besluit om Parys tydelik hulle huis te maak. Hier kruis hulle paaie met Serge Diaghilev. Hy huur die dansers en laat Dimitriev toe om vir die geselskap te werk.

Dit was Diaghilev wat voorgestel het dat Balanchivadze sy naam na Balanchine verander om dit meer toeganklik te maak.

Diaghilev was so beïndruk met Balanchine se werk dat hy hom vra om vir die Opera in Monte Carlo te kom werk. Vir The Ballets Russes onderneem hy in 1928 Apollo en The Prodigal Son in 1929, beide steeds gereken as meesterstukke. Geva skei in 1926 van hom en Alexandra Danilova word sy tweede (nie-amptelike) vrou. (Balanchine het ´n gewoonte gemaak daarvan om nie sy huwelike te registreer nie.) As gevolg van bogenoemde suksesse, was dit vir George Balanchine makliker om werk te kry na die dood van Diaghilev. Maar hy sit sy onortodokse manier van werk voort en De Basil en Blum steek hom ook in die pad. Dit is 1933 en Balanchine vorm sy eie maatskappy, Les Ballet 1933. Openingsaand lok gemengde gevoelens in Parys en word opgevolg met net 20 opvoerings in Engeland. Maar dit was in Engeland waar hy sy toekomstige beskermheer, ene Lincoln Kirstein, ´n skatryk jong Amerikaner ontmoet. Kirstein nooi hom en Vladimir Dimitriev na Amerika om ´n balletskool in Hartford, Connecticut te begin. Ver van die aanloklikhede van Broadway. Balanchine wys egter die aanbod van die hand omdat die verhoog te klein was vir balletopvoerings. Kirstein was vasbeslote om Balanchine aan wal te kry, en vind eindelik ´n geskikte teater op die eiland van Manhattan. Die Skool vir Amerikaanse Ballet (SAB) open op 1 Januarie 1934 in 59ste Straat en Madison Laan.

´n Mede vennoot van Kirstein, M.M. Warburg was baie skepties oor die twee Russe en vra sy prokureurs om hulle te beskerm teen teen enige wangedrag voor die skool se inkorporering.

Die vier vennote vorm verskeie splintergroepe, onder andere The American Ballet wat in 1935 die Metropolitaanse Opera Geselskap word.

Balanchine se onuitputlike energie en kreatiwiteit het hom instaat gestel om 17 Broadway vertonings te koreografeer sowel as ´n aantal rolprente (On Your Toes met Tamara Geva en Ray Bolger vir Broadway en ´n rolprent weergawe met Vera Zorina en Eddie Albert.)

Balanchine het geen vooroordele gehad nie, vir hom was vermaak slegs dit. Vermaak. Toe hy in 1941 deur die Ringling Bros. Sirkus gevra is om 14 olifante te koreografeer, het hy ingestem en die beroemde komponis Stravinsky gevra om die musiek vir Circus Polka te skryf. (Sien foto) Ballet Society was die opvolger van The American Ballet geselskap en kom in 1946 tot stand. Die groep was so suksesvol dat hulle genooi is om ´n permanente been van die New York City Center te vorm maar onder die nuwe naam The New York City Ballet. Van 1948 tot met sy dood was hy die balletmeester en prinsipaal van die geselskap.

Balanchine het insae in programnotas ook gehad, en gesorg dat gehore ballette en nie beroemde dansers sien nie. Hoofdansers se name is alfabeties op programme aangebring.

In die daaropvolgende jare volg die een sukses op die ander: Scotch Symphony (1952), Western Symphony (1954), Square Dance (1957) en Stars and Stripes (1958), om maar ´n paar te noem. Daar was ook storieballette, Le Baiser de la Fée (1934), Don Quixote (1965), La Sonnambula (1946), en A Midsummer Night’s Dream (1962) maar die meeste van sy ballette was abstrak sonder enige intrige of storielyn. Hy was van mening dat al Verdi se opera’s gedans kan word. Sy mees beroemde storieballet, The Nutcracker (1954) word die grootste loketreffer van alle tye en word steeds elke jaar tydens die vakansieseisoen opgevoer.

In 1938 trou Balanchine met Vera Zorina en maak van haar ´n Broadway en rolprentster. Na Zorina, trou hy in 1946 met Maria Tallchief en skep vir sy nuwe bruid Orpheus (1948), Firebird (1949), Swan Lake (1951), Scotch Symphony (1952), The Nutcracker (1954) en Allegro Brillante (1956). Maar na agt jaar van getroude lewe laat Tallchief die huwelik nietig verklaar. Vir sy vierde vrou, Tanaquil LeClerq, skep hy La Valze (1951), Bourrée Fantasque (1949) Western Symphony en Ivesiana (beide in 1954). LeClerq se loopbaan eindig tragies toe sy polio opdoen, en voor die egskeiding afgehandel is, knoop Balanchine ´n verhouding met ´n laaste protégé, Suzanne Farrell, aan vir wie hy van sy grootste ballette geskep het: Mozartiana (1981), Don Quixote (1965) en Diamonds in Jewels (1967). Sy woorde aan haar was “You are the other half of my apple.”

Balanchine het aanhou werk tot met sy dood (hy sterf op 30 April 1983 aan Jakob-Creutzfeldt sindroom oftewel Malkoeisiekte.) Hy word begrawe uit ´n Russiese Ortodokse Kerk en dieselfde aand gee die New York City Ballet ´n geskeduleerde opvoering.

Sy laaste ballet was ´n nuwe weergawe van Stravinsky se Variations for Orchestra (1982.)

Hoewel Balanchine se styl met die energie en spoed van Amerikaanse dansers assosieer is, word sy ballette gereeld deur al die groot klassieke dansgeselskappe in die wêreld opgevoer.

skrywer: Haydee Hollander

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar