Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za
Lizzie en Vicky is twee vryskut aktrises wat hulle tjorre met al hul aardse besittings gepak het en die eksodus na die beloofde land, bekend as “Die Industrie” aangedurf het.
Saam voer hulle hul spartaanse bestaan in ‘n woonstel iewers in Westdene, Johannesburg. Om die pot aan die kook te hou, hetsy met Two Minute Noodles van alle kleure en geure, of die gevreesde Oats, Toast en Tee dieët, vermaak Vicky die “brats” by die kinderteater en Lizzie bemark enige promosie-produk van joghurt tot bobbejaanspanners met lagwekkende gevolge.
Op die punt van absolute desperaatheid laat weet hulle agente hulle van ousisies vir Cinderella by die Civic Teater, maar daar kan net een Cinderella wees. Spanning, naarstigtelike voorbereiding, kompeterende komplikasies, koetsongelukke volg. Een groot Koninklike Katastrofe. Of kan die misterieuse boek en lady Di help?
Om ‘n Prinses te wees is ‘n ligte lekker-lag Afrikaanse komedie vir die hele gesin. Moenie dat die titel jou mislei nie, daar is boere, visvang, vice-grips en nog vele meer. Die stuk is so geskryf dat die blink tiaras en koeipakkies die kinders regdeur sal vermaak, terwyl die kwinkslae van ‘n koninklike kaliber die volwassenses sal laat skater.
Alta Kriel en Anneri Wessels is twee aktrises wat daarin slaag om mense in te trek in die wêreld bekend as die Industrie. Alta is onlangs gesien in musiekblyspele soos Grease en Evita en Anneri het bekendheid verwerf as die bose Rentia in 7de Laan.
Vir meer inligting – kontak Theresa du Preez – 011-8801027 of (082) 7125680 of via e-mail – dupreezz@mweb.co.za.
