Absa se ster skitter vir almal op KKNK

Absa se betrokkenheid by vanjaar se tiende Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) gaan meehelp om van die gebeurtenis – die grootste Afrikaanse kultuurfees in die land – ´n nog groter sukses as voorheen te maak.

“Absa strewe daarna om die land se verskillende kulture en hul kunste, in hierdie geval die Afrikaanse kultuur, te bewaar en dit te vier. Ons ondersteuning van die KKNK beklemtoon ons vername rol in die bevordering van Suid-Afrika se kulterele erfenis,” sê Laetitia van Dyk, Uitvoerende Direkteur van die Absa Groep.

“Absa is ´n verantwoordelike maatskappy wat omgee en is ´n ware Suid-Afrikaanse finansiële instelling. Dit is daarop gerig om nie alleen sy historiese bank- en verwante erfenis te bewaar nie, maar ook om die deurlopende bevordering van die kunste in Suid-Afrika te verseker,” sê Van Dyk.

Absa is al twee jaar by die KKNK en 19 jaar by die bevordering van die kunste in Suid-Afrika betrokke.

Die KKNK is ´n sterbelaaide fees in Oudshoorn wat die dorp in ´n kulterele bynes omskep (3-11 April 2004). Absa is betrokke by die volgende aktiwiteite:

Negentien vertonings en die oorhandiging van die Kanna-toekennings in die Absa Klein Karoo Grootsaal, wat Absa in samewerking met die Klein Karoo Koöperasie borg.Deur die borgskap is die saal teogerus om as teater te dien.

Volgens Karen Meiring, besturende direkteur van die KKNK, is een van die struikelblokke dat dit geweldig duur is om infrastruktuur op die been te bring.

Die Kanna-toekennings is die KKNF se eie “Oscars” en Absa borg die Kanna vir die beste regie. Elkeen van die sestien bekroondes ontvang ´n brons-beeldhoustuk van die kunstenaar André Otto en ´n kontantprys van R5 000.

Aantreklike granietsterre sal om die legendariese Godfather Restourant in Oudshoorn geplaas word. Die name en handtekeninge van twintig plaaslike kunstenaars en die name van hul borge sal in dié sterre ingraveer word in die Starstruck Walk of Fame om die individue te vereer vir hul bydrae to die KKNK.

Absa borg vier van die sterre, die akteurs Sandra Prinsloo en Eric Nobbs, die sanger en die verhoogkunstenaar Nataniël en dramaturg Deon Opperman.

Die opbrengs van hierdie poging sal aan ´n plaaslike welsynsorganisasie, Eljada Nasorg, geskenk word. Eljada Nasorg sien om na die spesiale behoeftes van verstandelik gestremdes.

Die toneelstuk, Kringe in ´n bos, wat gegrond is op die bekroonde roman met dieselfe naam, sal by vanjaar se Fees opgevoer word. Kringe is ´n voorgeskrewe werk vir vanjaar se matrikulante in die Kaap.

Absa sal 300 kaartjies vir matrikulante van minderbevoorregte gemeenskappe in Oudshoorn borg om die toneelstuk by te woon.

“Die meeste van hierdie leerders was nog nooit binne ´n teater nie of het nog nooit ´n toneelopvoering gesien nie. ´n Nuwe wêreld gaan dus vir hulle oop,” sê Van Dyk.

Sekere keurkunswerke van Absa se permanente kunsversameling sal ook gedurende die Fees uitgestal word. Kunswerke wat die afgelope tien jaar verkry is, sal ingesluit word aangesien die Fees nie net die tiende bestaansjaar van die KKNK vier nie, maar ook Suid-Afrika se tiende jaar van demokrasie.

Werke van bekende kunstenaars en vorige wenners van die Absa L ‘Artelier-toekennings soos Kevin Roberts, Johann Louw en Daniel Masako sal in die Victoria Gedenksaal in Oudshoorn uitgestal word.

Van Dyk sê: “Absa gee om vir die kultuur van Suid-Afrika en is aktief betrokke by die bevordering van Suid-Afrikaanse kultuurgroepe en belanghebbendes deur inisiatiewe vir opvoeding en werkskepping. Ons gee om vir die gemeenskap.”

“Ons strewe daarna om ´n nasionale trots te skep deurdat ons die land met ´n positiewe, konstruktiewe en entoesiastiese gesindheid wil begeester,” sê Van Dyk.

skrywer: Deon Oosthuizen

Lewer kommentaar

Leave a Reply