Joburg Ballet bring die bekroonde produksie van La Traviata -The Ballet vir die eerste keer na die Teatro by Montecasino vir ‘n kort seisoen van net vyf vertonings van 2 tot 4 Augustus 2024.

La Traviata – Die Ballet word as een van die beste ballette deur die gevierde choreograaf, Veronica Paeper, beskou. Paeper het ‘n uitgebreide repertoire van ballette onder die knie en word veral bewonder vir haar vollengte storie-ballette, waarvan La Traviata -The Ballet een die gewildste is.

La Traviata -The Ballet, wat oorspronklik in 1990 in Kaapstad geskep is, is gebaseer op die 19de-eeuse verhaal van die Dame van die Camellias. ‘n Diep roerende portret van ‘n vrou wat alles opoffer vir die man vir wie sy lief is. Dit bevat die onvergeetlike musiek van Verdi se opera La Traviata, verwerk vir die ballet deur die komponis Allan Stephenson.

Alhoewel daar slegs vyf vertonings van La Traviata -The Ballet by Montecasino is, bring Joburg Ballet gehore vier rolverdelings in die twee hoofrolle. Shannon Glover en Marlon Sales dans op Vrydag 2 Augustus om 20h00 en Sondag 4 Augustus om 15h00; Nicole Ferreira-Dill en Bruno Miranda op Saterdag 3 Augustus om 15h00; Monike Cristina en Ruan Galdino op Saterdag 3 Augustus om 20h00; en Tammy Higgins en Revil Yon op Sondag 4 Augustus om 11h00. Vanjaar is die hoofdanser Shannon Glover se 20ste jaar by Joburg Ballet. Die geleentheid sal gevier word in ‘n huldeblyk op die verhoog aan die ballerina aan die einde van die openingsaand-uitvoering van La Traviata -The Ballet op Vrydag 2 Augustus.

Bruno Miranda en Nicole Ferreira-Dill foto Lauge Sorensen
Bruno Miranda en Nicole Ferreira-Dill, foto: Lauge Sorensen

Lewer kommentaar

Leave a Reply