Laerskool Noord se leuse is “Kyk noord en stoot voort”, maar in hierdie lekker lag produksie is dit alles behalwe die geval. Drie onderwyseresse beplan ‘n verrassingsafskeidspartytjie vir hul skoolhoof se aftrede. Tussendeur die netbaljuffrou, Zelda de Wet, se vreeslose fluitjie, Bets du Preez se dramatiese deurmekaar administrasie en kaftans en sorglose Marietjie wat probeer om die wit vlaggie van vrede te laat wapper en seëvier, met haar glitter stickertjies en sticky notes, is hierdie personeelkamer ‘n tikkende tydbom. En boonop gaan Meneer enige oomblik aankondig wie by hom oorneem as die nuwe hoof van Laerskool Noord. Kan dit een van hulle wees?
Laerskool Noord is ‘n komiese kykie na wat werklik agter die swartbord gebeur. Skrywer, Ilne Fourie, bekend vir haar RSG-radiodramas, kleur met haar tong-in-die-kies humor en pittige waarnemingsvermoë hierdie karakters so in dat iedereen van ons sonder twyfel een van ons oud-onderwyseresse sal herken.
Gideon Lombard, bekroonde akteur en regisseur, hou almal se varkies, en in Meneer se geval, poedels op hok.
Die produksie word geskep in samewerking met Vrystaat Kunstefees en Aardklop en NATi.
met Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck, Ilne Fourie, Neels Coetzee
Regie: Gideon Lombard
Teks: Ilne Fourie
(Ouderdomsbeperking van 13)
KALFIEFEES- Hermanus
Sondag 7 Aug om 17:00
Bespreek by www.webtickets.co.za
DIE BOER TEATER-RESTAURANT – Durbanville
10-13 Aug om 20:30 & Vrouedag 9 Aug en Sondag 14 Aug om 14:00
Bespreek by 021 979 1911 of aanlyn by www.dieboer.com
Lewer kommentaar