Langarm is David Kramer se jongste musiekblyspel.
Dis ’n liefdesverhaal vol intrige wat in die 1960’s in Kaapstad se ballroom-kultuur afspeel. Met die bedreiging van nuwe apartheidswetgewing wat oor almal se koppe hang doen mense amper enigiets om te oorleef.
In 1965, wanneer Dinah Levin weduwee word, nooi sy haar neef Jeff, wie se verloofde hom gelos het, om haar te help om haar oorlede man se besigheid, die Canterbury Hotel, te bestuur. Hier ontmoet hy die pragtige, jong balletdanser Angelina, en as sy hom vra om haar dansmaat te wees in The Swaziland Ballroom Championships, sien hy dit as ‘n geleentheid om sy eks te verneder. Hy is wit. Sy is nie. Hulle sou die wet verbreek om te dans, maar hy gee nie om nie.
Jeff besluit om die hotel te bemark deur langarmdanse te hou. Wanneer Eddie Jephta, die leier van die Moonlight Serenaders-langarm-band, by die Canterbury-hotel kom speel, kom ’n paar geheime uit Dinah se verlede saam.
“Ek wag al jare om ’n musiekblyspel op te voer oor die langarm-ballroom bands van daai tyd” sê David Kramer. “Ek het grootgeword met my ouers wat dans op die musiek van hierdie bands. Langarm bring hulde aan die Johnny Lyners Blue Moon Jazz Band en Willie’s Starlite Orchestra.”
Langarm is geskryf deur David Kramer en hy hanteer ook die regie. Die kreatiewe span sluit ook in musiekregisseur Charl-Johan Lingenfelder, ontwerper Saul Radomsky, kostuumontwerper Widaad Albertus met die choreografie deur Grant van Ster.
Langarm word vanaf 20 November 2018 by die Fugard-teater aangebied van Dinsdae tot Saterdae om 20h00 met ’n matinee-vertoning op Saterdae om 15h00. Vanaf Sondag 16 Desember is daar om 15n00 ’n ekstra Sondag matinee.
Kaartjies wissel van R150 tot R260 en kan bespreek word by die Fugard-teater by 021 461 4554 of via die Fugard-teater se webwerf by www.thefugard.com.