In die opruiende klug My Vrou se Man se Vrou, op die planke by Emperors Palace vanaf 29 Augustus tot 3 September 2023, draai die skreeusnaakse intrige om John Smith, ‘n taxibestuurder wat in ‘n web van chaos verstrengel raak wanneer sy twee wêrelde bots.  Want sien, John het twee vrouens … nie skelmpies nie, nee!  Hy is met albei wettiglik getroud!

Die oorspronklike stuk, Run for your Wife, hou die rekord vir die langs-lopende klug op Londen se Wes-einde en het ook rekords in Suid-Afrika laat spat.  Besprekings vir My Vrou se Man se Vrou by Emperors Palace kan aanlyn by LTickets.co.za gedoen word.  Groepe van 10 of meer persone kry oudergewoonte ‘n lekker afslag.  Skakel Monica Booysen by (011) 815-3000 of stuur ‘n e-pos aan info@lefra.com.  Die produksie word ook as fondsinsamelingsprojek aangebied vir skole, kerke en diensorganisasies.  Kontak ook vir Monica in hierdie verband.  Die produksie word met die trotse ondersteuning van BluBlood, Crown National, die trotse tuiste van Six Gun Grill, Hollywood Costumes, Van Loveren Wyne, Britz Couriers and Removals, Ambassador Execudrive en Lift aangebied.

My Vrou se Man se Vrou stel ons aan John Smith se twee vrouens bekend: Mary Smith en Barbara Smith.  Mary (#TeamMary) is John se eerste vrou, ‘n lieflike en naïewe skoonheid wat onbewus is van John se dubbele lewe.  Haar onskuld en opregtheid maak van haar ‘n lieflike karakter, selfs te midde van die chaos.  Aan die ander kant is Barbara (#TeamBarbara), John se tweede vrou, ‘n vurige vrou met ‘n skerp tong.  Barbara se sterk persoonlikheid dra by tot die komiese chaos wat volg namate John se twee wêrelde meer verstrengel raak.  En om sake te vererger, moet hy sy nuuskierige bure, ’n vasberade joernalis en twee agterdogtige polisiemanne ontduik!

Die twee hoofrolle word deur Phillru van Achterbergh (John Smith) en Botha Enslin (Stanley Garner) vertolk, ongetwyfeld twee van Suid-Afrika se beste komiese akteurs.  Voeg daarby name soos Marissa Claassen (Mary Smith), Danielle Britz (Barbara Smith), Thiart Li (Joernalis/Bobby Franklyn), Hugh Becker (Speurdersersant Troughton) en Etienne du Plessis (Speurdersersant Porterhouse), en jy het ’n trefferproduksie op hande.

Regisseur Frans Swart sê dat Lefra Produksies besluit het om My Vrou se Man se Vrou terug te bring verhoog toe.  “Ons het dit in 2012 vir die eerste keer opgevoer en groot sukses met die man en sy twee vrouens gehad.  Na tien jaar is dit beslis tyd vir ons om hierdie trefferklug weer verhoog toe te bring.  Daar is ‘n nuwe generasie wat nog nie hierdie mal stuk werk ervaar het nie en ek glo almal gaan dit weer van voor af geniet,” sê Swart.  Hy sê ook dat Covid-19 die produksie ‘n lelike streep getrek het.  “Ons trokke was letterlik gepak om KKNK toe te gaan en daar kondig die President die inperkingsregulasies aan.  Ai!  Vir langer as twee jaar het ek en die spelers gewag om mense weer te laat lag, maar nou gaan dit net soveel lekkerder en snaakser wees!  Mense wil nou graag uitkom en lag is die beste medisyne deur al die wroeginge waardeur ons moes gaan die afgelope drie jaar!”

So, is jy #TeamMary of #Team Barbara?  En gaan hulle van mekaar uitvind?  Kom vind uit by Emperors Palace se Theatre of Marcellus vanaf 29 Augustus tot 3 September.  Bespreek jou kaartjies by LTickets.co.za.

Danielle Britz (Barbara Smith), Phillru van Achterbergh en Marissa Claasen (Mary Smith) - die twee vrouens soen die man tussen hulle
Danielle Britz (Barbara Smith), Phillru van Achterbergh en Marissa Claasen (Mary Smith)

Lewer kommentaar

Leave a Reply