Nuttige wenke vir Aardklop feesgangers

Die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom begin die 4de Oktober.

Om seker te maak dat jy voorbereid is, is daar ’n paar nuttige wenke vir feesgangers om die feeservaring nog aangenamer te maak.

  • Koop sommer met die intrapslag ’n feesgids (beskikbaar teen ’n skamele R30). Dit is nie net ’n herhaling van die brosjure nie. Dit bevat rolverdelings sodat jy kan weet wie is wie en in die geval van klassieke uitvoerings die volledige programme.
  • Die volledige program van die Rapport Boeke-oase en die Beeld Diskoersreeks verskyn ook in die feesgids. Gaan loer gerus. Dit is ’n ideale manier om ’n gaatjie te vul en dit is boonop gratis.
  • Bestudeer die kaart van Potchefstroom en die Puk-kampus (agter in die feesgids) noukeurig. Maak seker dat jy genoeg tyd inruim om van een produksie na die ander te kom. Dit is wenslik om ’n wye draai om die Aardklop-sone rondom die feesterrein te ry (duidelik gemerk op die kaart) – so vermy jy verkeersknope.
  • Moenie onwettig parkeer nie. Dit veroorsaak versperrings en mag dalk net daartoe lei dat jou motor geskut word. Amptelike parkeerterreine word op die kaart aangedui. Of nog beter – maak gebruik van die pendeldiens (by die Computicket-kaartjieskantoor in Borcherdstraat oorkant Dingo’s se fietswinkel). Op dié manier ondersteun jy ook die plaaslike gemeenskap. Dit is boonop ’n wonderlike geleentheid om te hoor wat medefeesgangers as die beste produksies beskou.
  • Maak seker dat jy genoeg vitamiene (en kopseerpille) saambring. Die fees kan nogal sy tol eis.
  • Pak iets warms in. Vroegoggend en later in die aand kan dit nogal koelerig wees in Potchefstroom. Hou die baadjie of trui sommer in die motor se kattebak om seker te maak dat dit byderhand is wanneer jy dit nodig kry.
  • Diegene wat nog nie kaartjies bespreek nie, kan gerus die spesiale pakkette ondersoek wat in verskillende genres aangebied word. Daar is ook ’n pakket vir die feesterrein vir die vyf dae teen R90 vir volwassenes en R40 vir kinders. Toegang vir kinders onder ses is gratis.
  • Wees waagmoedig. Bespreek ’n kaartjie vir ’n produksie wat jy nie normaalweg sal kies nie. Jy mag dalk net aangenaam verras wees.
  • En behou jou humorsin. Dit is immers ’n feestelike geleentheid waar almal byeenkom om die uitvoerende kunste te beleef en in goeie gees saam te kuier.
Aardklop
Aardklop

* Die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees word van 4 tot 9 Oktober in Potchefstroom aangebied. Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

Lewer kommentaar

Leave a Reply