RSG bied heelwat geleenthede vir skrywers wat die radiodramamedium uitdagend en opwindend vind. Een daarvan is hul jaarlikse radiodramaskryfkompetisie, maar RSG beplan ook ’n nuwe aandvervolgverhaal op die sepiestyl.
‘n Vennootskap met Sanlam as finansiële borg, maak dit moontlik om die radiodramakompetisie vanjaar vir die dertiende maal aan te bied met aanloklike prysgeld as ekstra aansporing vir die skrywers.
Volgens die hoof van RSG, Magdaleen Krüger, het die oes van die 2008-kompetisie inskrywings van ’n hele paar opwindende skrywers ingesluit.
“Vir die huidige dramaseisoen (dit begin op 2 April) het ons nie net die drie wenners geskeduleer nie, maar ook ’n hele paar van die ander inskrywings. Hoewel ons ook die wêreldletterkunde na ons luisteraars bring, is dit vir ons opwindend om plaaslike skrywers se werk te kan bevorder, opvoer en uitsaai,” sê sy.
Die kompetisie vir 2009 is pas van stapel gestuur vir nuwe radiodramas wat aan RSG se voorskrifte voldoen. Hierdie voorskrifte is saamgevat in ’n handleiding wat beskikbaar is op RSG en Sanlam se webwerwe by http://www.rsg.co.za/aflaai_dokumente.asp of http://www.sanlam.co.za/afr/kompetisies/radiodrama/algemene+inligting.htm.
Die sluitingsdatum hiervoor is Maandag 29 Junie 2009.
Die wenners word ryklik beloon met R20 000 vir die eerste prys, R10 000 vir die tweede en R7 000 vir die derde plek. Daar kan ook ’n prys van R7 000 as spesiale aanmoediging toegeken word, wanneer toepaslik.
Die wentekste en ander tekste is wat vir uitsending geskik is, sal ook teen vergoeding opgevoer word.
RSG beplan ook ’n nuwe aandvervolgverhaal op die sepiestyl waarvoor hulle tans voorleggings soek. ‘n Handleiding daarvoor is ook op RSG se webwerf beskikbaar by die skakel hierbo genoem.
Die handleidings kan ook by cecile@rsg.co.za of margaret@rsg.co.za of margot@rsg.co.za, asook by 021 430 8166/8204 of 011 714 2018 bestel word.