Toe ‘n jong man die skrywer Leon van Nierop 25 jaar gelede uit die bloute nader om sy “besondere lewensverhaal” te skryf, was die skrywer aanvanklik huiwerig. Tot die man sekere geheime openbaar gemaak het wat sy verhaal nuwe dimensie gegee het en uniek gemaak het. Perskor Uitgewers het destyds dadelik vir van Nierop opdrag gegee om die besondere en dikwels ongelooflike verhaal neer te pen. 

Die gevolg van Tristan se dikwels verbysterende verhaal was drie topverkoperromans: Die Plesierengel (1998, Perskor), daarna Plesierengel in ‘n meer moderne en realistiese styl geskryf om te weerspieël wat werklik gebeur het met inligting en gebeure wat te veelbesproke was vir die eerste roman, Plesierengel (Tafelberg 2015) en daarna, op aanbeveling van Penguin Randomhouse, ‘n voorloper of prequel van die verhaal getiteld Katelknaap, in Engels vertaal as Toyboy (2017). Die boeke het ‘n klein sensasie veroorsaak omdat daar soveel verrassingselemente in was, en dit nie suiwer en blatante erotiese literatuur was nie, en nog minder ‘n hygroman.

Die karakter, ‘n prostituut, Tristan Hansen, en die rede waarom hy hierdie rigting gekies en ingeslaan het, het mense dikwels sprakeloos gehad. Dit het die finale vonk by die skrywers-kruitvat gebring om dit nog verder as verhaal te voer. In 2021 het die bekroonde teatervervaardiger Johan van der Merwe, die regisseur Lihan Pretorius en die akteur Ruan Wessels van Nierop genader.

Die drama is op die waarheid gebaseer en is sodanig aangepas dat dit nie bloot ‘n erotiese vertelling met ‘n aaneenskakeling van nodelose sekstonele word nie, maar ‘n ondersoek na eensaamheid, weerloosheid, desperaatheid, behoeftes en die reuse- en onverwagse wendings. Dit lewer ook sosiale kommentaar op veral die Afrikaner se benadering tot die seksuele. 

Al bevat die stuk naaktheid en sommige van die insidente vanselfsprekend oor seks handel, is die oorgrote meerderheid gebeure nie-seksueel van aard en handel oor verwerping, minderwaardigheid, eksploitasie, emosionele verwaarlosing en veral onderdrukking, wanpersepsies en veroordeling. Hierdie stuk is ‘n eerlike ondersoek na wat werklik met Hansen gebeur het en hoekom dit gebeur het.

4 & 5 Augustus 2022

Drostdy Teater, Stellenbosch

Lewer kommentaar

Leave a Reply