Power Struggle


Lank, lank gelede …

OK, om eerlik te wees, blerrie lank terug. 13,798 biljoen jaar gelede. Dis waar Nik Rabinowitz se Power Struggle begin.

Soos al krisisse van apokaliptiese omvang begin die een ook as gevolg van kinders. Wat gaan van die arme bloedjies word in vandag se wêreld? Wat is die slim ape besig om aan te jaag met die blou planeet?

Rabinowitz se jongste poging is ’n komiese reis deur die geskiedenis, van die Oerknal tot die donker afgrond waarop ons afpyl. Of is die prentjie nie regtig so donker nie? Dalk is ons net moeg van apatie en soek ons rêrig daai nuwe energie?

Dis ook nie net komedie nie, dis ’n groen komedie. Meer as die helfte van die energie wat tydens die stuk gebruik word, is herwin.

Daar is ’n groter erns in Power Struggle as in sy vorige werk, maar dit doen geen afbreek aan die komedie nie. Om die waarheid te sê die algemene gevoel in ons troupe was dat Rabinowitz snaakser is as voorheen … ook dat die 13 jaar ouderdomsbeperking dalk nie gaan werk as hy sy stuk na die meer konserwatiewe Afrikaanse voorstede of feeste sou neem nie.

Die groot verligting van Power Struggle is dat daar minder politieke retoriek is en die stuk lyk asof dit wil aanlê by ’n internasionale verhoog. Laasgenoemde kan egter ’n probleem raak wanneer sketse begin herinner aan geykte Amerikaanse situasiekomedie.

Power Struggle is meer teater as gewone skerpskets. Daar is ’n groot stel, multimedia word gebruik en Rabinowitz komplimenteer sy eie gladdebek voordrag met drie karakters. ’n Joodse grotman, ’n industrialis en sy skoonma.

Sy industrialis was uitstekend. Sy dialoog wissel soomloos tussen die karakter se losbandigheid, selfverheerliking, insig en interaksie met die gehoor. Hy laat mens heimlik wens vir ’n stuk met net dié karakter.

Power Struggle het verras. Dis groot, glansryk en snaaks … en Rabinowitz op ’n innoverende pad wat hom nou ’n hanetree voor ander plaaslike komediante plaas. As teater en skerpskets jou ding is, sorg dat jy in die gehoor kom …

Power Struggle is tans by die Baxter-teater in Rondebosch, Kaapstad tot 16 April. Kaartjies wissel van R135 tot R195 … en jy sal moet wikkel, daar is reeds ekstra vertonings geskeduleer.

Regie: Daniel Kutner

Power Struggle
Power Struggle

Power Struggle,
Roekeloos,
2 April 2016.

3.5

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar