KAAPSTAD – Kaapstad en Joburg, hou julle kredietkaarte reg en jul harte oop: Pretty Woman: The Musical kom om ons almal weer verlief te maak — hierdie keer met jazz hands, Bryan Adams-treffers en ’n stewige dosis 90’s-nostalgie.
Ja, daardie Pretty Woman. Die rooi rok bokkie en die storie wat bewys het dat liefde soms in ‘n Rooiligdistrik kan begin. Vanaf 18 Maart 2026 steel dié glansryke musiekblyspel die kollig by Artscape, voordat hulle op 24 April tasse uitpak by Montecasino se Teatro. Kaartjies is reeds aan die vlieg — waarskynlik saam met Vivian se skoene.
In die ikoniese rol van Vivian Ward is Leah Mari, ’n teaterkragstasie met meer toekennings die Springbokke se trofeekas. Sy is vars van rolle in My Fair Lady, CHICAGO en The Sound of Music, en bewys nou dat sy net so tuis is in Hollywood-glans as op ’n Kaapse verhoog. Die sakeman Edward Lewis word vertolk deur Christopher Jaftha — sjarmant, veelsydig en met genoeg verhoog- en filmervaring om selfs Richard Gere senuweeagtig te maak.
Die res van die rolverdeling lees soos ’n wie’s-wie van Suid-Afrikaanse musiekteater: Thuto Lesedi Gaasenwe as Vivian se lojale beste vriendin Kit, Tiaan Rautenbach as die altyd entoesiastiese hotelbestuurder, en Daniel Conradie as die bose prokureur. Meer as 50 plaaslike talentvolle mense is in dié blyspel te sien — van dansers tot musikante — wat bewys dat SA meer as net rugby het.
Agter die skerms werk ’n indrukwekkende span plaaslike én internasionale kreatiewes saam, met Broadway- en New York-ervaring wat hande vat met plaaslike kundigheid. Voeg daarby musiek deur Bryan Adams en Jim Vallance, die onvergeetlike Oh, Pretty Woman, en choreografie deur Tony Award-wenner Jerry Mitchell, en jy kry ’n resep vir pure teaterpret. Pretty Woman: The Musical is romanties, dis snaaks, dis nostalgies — en ja, dit kom met ’n PG 12+-waarskuwing, want die ooms en tannies maak oulik.
