Skote in die Donker – ´n dialoog met Kobus Roos (KR)

Kobus Roos se filmografie sluit in die bekroonde kortfilm -stof, die eksperimentele films Farewell (2000) en Fruit asook ´n TV-reeks vir KykNet in 13 dele met die titel Ietermagô. -Stof het verskeie internasionale pryse gewen, waaronder twee by die IBDAA Filmfees in Dubai (as beste Film én Regisseur). Die kortfilm was ook laasjaar te sien op die 9e Gay & Lesbian Film Festival in Suid-Afrika. Ietermagô het die hoogste AR-lesings op KykNET gehad (selfs hoër as hulle mees populêre program op daardie stadium, Liriekeraai).

“The very purpose was to show the unshowable, to speak the unspeakable” – David Cronenberg oor Shivers

HH: Wat verkies jy om genoem te word? Regisseur, filmmaker of skrywer?

KR: Storieverteller. Ons is presies soos die ou grotbewoners. Hulle het ook soos ons (post)postmodernistiese mense om ´n flikkerende lig gesit en stories vertel, hulle weergawe van die silwerdoek (die kombinasie van die grotmure en die storieverteller se gesig wat prentjies maak in die flikkerende lig van die vuur.) Ons het nie veel ontwikkel nie maar danksy Thomas Edison en William Kennedy Laurie Dickson se speelgoed (die Kinetoscope) kon die storieverteller van die vuur weggeneem en in ´n donker kamer langs ´n flikkerende lig gesit word – filmteater of televisie. Ons hang nog steeds aan die storieverteller se lippe (al kan ons net na hom luister soos die vertellers van dokumentêre). Hulle neem ons op reise na ander wêrelde waar die onmoontlike moontlik is. Ampertjies soos psigo-analise waar die pasiënt teruggevoer word na ´n pre- “iets”. Die mag wat storievertellers het oor mense sal my altyd verstom. Ek dink dit is wat my die grootste kick gee in die skep van stories. Mense wat jy nooit gaan ontmoet nie, wat in ander lande bly en nie Afrikaans kan praat nie, maar wat deur jou beelde (vrywillig) transport word na waarheen jy hulle ook wil vat. Incredible, a totally mind-blowing experience en ´n emosionele transaksie tussen beide. Jy word ´n skeppende god, enersyds artificial, maar ook werklik want dit bestaan in daardie persoon wat na die storie kyk se verbeelding. Dis ´n besondere voorreg om deur mense as hulle ‘toergids’ vertrou te word.

HH: Hoekom skryf jy wat jy skryf?

KR: Weet nie eintlik nie. Miskien is ek ´n soort Ulysses. Op reis, maar sonder bestemming. En op my reise ontmoet ek individue soos Silenus en die Cyclops, maar waarheen ek oppad is, weet ek nog self nie. Alles wat ek skryf is half outobiografies. Ek hou daarvan om karakters te koppel aan mense wat ek ken, veral my familie. Vir my gaan dit altyd oor die karakters. Ek stel meer belang in hulle emosionele lewe as die potensiale aksie. Ja, aksie is natuurlik belangrik om die storie vorentoe te projekteer, maar die emosionele tog is van meer belang.

HH: Jou stories handel oor gewone mense in buitengewoon emosionele omstandighede.

KR: Nog nie so daaraan gedink nie, maar ek dink jy slaan die spyker op sy kop. Almal het een of ander tyd emosionele probleme of krisisse, of dit is omdat hulle homoseksueel, gemolesteer of ouerloos is. As storieverteller is dit een van my grootste issues, want ek skryf oor iets wat my persoonlik raak, die Jekyll en Hyde wat in elkeen van ons skuil, die maskers waaragter ek as gay man byvoorbeeld wegkruip. Hoe sê Bruce Willis in Die Hard: “Yipee-kay-yeah motherfucker!” En al is ek oop hiermee, is daar diesulks met wie ek nooit daaroor sal praat nie. (Ek is ook nie jou prototipe gay man nie. Geen oil painting (miskien ´n Francis Bacon?), ook nie gebou soos ´n spiertier nie (baie belangrik as jy gay is, en ´n groot penis help ook, nê?) Dra ok nie designer klere nie.

HH: Wat laat jou tick (buiten flieks)?

KR: Liefde en passie vir my (natuurlik) en vir die werk wat ek aanpak. My films moenie net geld maak en terselftertyd haat ek die hele maakproses nie. My films moet kan identifiseer, individue aanspreek. Miskien sal ek die res van my lewe soos Ken Loach kitchen sink dramas maak of ´n Derek Jarman wees en ek´s dood dollies daaroor. My grootste droom is nie iets stupid soos ´n Oscar nie, maar ´n film by Cannes. Dit is vir my die Mount Everest van movie making. Imagine om uitgenooi te word na hierdie internasionale filmfees en op die offisiële ‘in competition’ lys te wees. Awesome!

HH: Wie is Kobus Roos, waar kom jy vandaan?

KR: Om oor myself te praat, is boring, ek hou nie daarvan nie. Wie gee regtig om waar iemand gebore is of skoolgegaan het? Volgens my het dit niks te make met die kreatiewe proses nie. Mense wat te veel van my weet, lees in elk geval beelde en simboliek in my werk wat nie bestaan nie. After all, soms is ´n pyp net ´n pyp… Okay, ek verstaan dat jou agtergrond ´n invloed mag hê op wat jy skryf (soos in my geval omdat ek oor my familie en kinderjare skryf) maar my rolprente is veronderstel om die storie beter as ek te vertel.

HH: Jy sê geboorteplekke maak nie saak nie, maar skerp agtergrondsindrukke was al die beginpunt van wêreldberoemde romans en flieks. Cinema Paradiso handel juis oor die indrukke van ´n kind wat in ´n rolprentteater grootgeword het

KR: Nostalgie is ´n groot nee vir enige amateur rolprentmaker. Baie min regisseurs kry dit reg om weg te bly van sentiment (onder andere Guiseppe Tornatore en sy Cinema Paradiso, John Boorman se Hope and Glory en Lasse Hallstrom met My Life as a Dog.) Ek stem saam agtergrond kan as wegspringplek beskou word, maar dit is al wat dit kan wees – ´n wegspringplek. Nostalgie kan ook liegstories en verwronge herinneringe beteken. Niks van die gebeure is werklik nie en dit wat werklik is, is meeste van die tyd vervelig! Dit moet ingekleur word om die gehoor te vermaak. Onthou die storieverteller se grootste plig is om die teks so toeganklik en universeel as moontlik te maak vir sy gehoor. Suid-Afrikaanse regisseurs kry dit nog glad nie reg nie. Ons is te vasgevang in onsself en ons politieke verlede, selfs ou gunstelinge soos Leon Schuster en Willie Esterhuisen is te bang om weg te doen met stereotipes en regverdig dit met ‘ons moet vir onsself kan lag.’ Stront! Die stereotipes wat hulle skep is so ver verwyderd van realiteit, dit is nie meer snaaks nie. Nie een van Schuster se karakters is aan my bekend nie, sorry. As regisseur wil jy travel met jou film en nie net flieks maak vir jou ‘eie mense’ nie. Die industrie kan net groei wanneer ons die groter prentjie raaksien. Die Suid-Afrikaanse filmbedryf is meer as instaat om ´n Muriel´s Wedding, Billy Elliot of My Big Fat Greek Wedding te maak. Stories oor universele probleme wat terloops in Suid-Afrika afspeel. Dit is iets wat die Australiese filmindustrie goed regkry.

Maar ek dwaal, kinderjare ís ´n beginpunt, miskien selfs ´n raamwerk. Dit het byvoorbeeld gehelp met die Ietermagô en -stof karakters hoewel die globale storie fiktief is. Jacques Derrida het die idee van closure geskep, ´n beginpunt sonder einde. Dit maak nie saak hoe hard ons probeer nie, ´n teks is nooit regtig voltooi nie. Maar dit is my interpretasie, mense kan maar van my verskil.

HH: Cinema Paradiso is sentimenteel maar darem nie sop nie. Hoekom het jy die film-genre as medium gekies?

KR: Die herinneringe aan my kinderdae is nie goeie herinneringe nie. Movies was my enigste ontvlugting van ´n lewe waaraan ek nie deel wou gehad het nie. Van kleins af het ek geweet ek is anders as ander seuns, maar met niemand om daaroor te praat nie. In die movies is enigiets moontlik. In die movies is daar mense nes ek.

HH: Waar begin jou storie?

KR: By my ma natuurlik. Nog voor ek skool toe is, is ek gereeld saam met Ma na die movies, as klein tjokkertjie blootgestel aan die ‘goeie dinge in die lewe nê!’ Die heel eerste movie wat ek gesien het was Philip Kaufmann se The Right Stuff. ´n Baie ernstige fliek vir ´n vierjarige. Tot vandag het ek ´n baie spesiale plekkie vir dié film. Elke Saterdag, soos klokslag, is ons met die bus na die Ster Kinekor in Commissionerstraat of die Nu Metro teater in Marketstraat. Dit was amper soos om kerk toe te gaan. Ons het opgedress vir die tien-uur fliek. Later was dit twee flieks in ´n ry. Toe al was daar iets aan die movies wat ek nêrens anders kon kry nie. ´n Junkie en die flikkerende lig op die doek my fix. My Ma onthou nog hoe ek gesoebat het om alleen te gaan, maar vir daardie voorreg moes ek wag tot hoërskool. Noem dit my kunsperiode – die tyd toe ek ‘kunsflieke’ ontdek het. Ek hou nie van die kuns-verwysing nie want dit veronderstel ´n heeltemal ander soort kykie as ‘popcorn movies.’ Die proses sowel as die film, is tog ´n soort kuns. My heel eerste kunsfliek (as jy dan wil) was by Rosebank Nouveau en Kenneth Branagh se Henry V. Volgens my steeds die beste verwerking van ´n Shakespeare-teks na die silwerdoek.

Teen die tyd dat ek varsity toe is, was ek verslaaf en het ek kennis gemaak met ou meesters soos David Lean, Fred Zinnemann, George Cukor, Billy Wilder, François Truffaut, Frederico Fellini, Rainer Werner Fassbinder, Akira Kurosawa (die “Sensei Of Cinema”), Jean-Luc Godard en Peter Greenaway.

HH: Fellini is een van die grotes. Was jy (ook) getref deur sy Voice of The Moon?

KR: Frederico Fellini was ´n master filmmaker wat die medium kon manipuleer om by sy eie persoonlike styl te pas. Dit was sy groot geheim. Talle film-teoretici soos Siegfried Kracauer, Rudolph Arnheim en André Bazin het hierdie metode voorgeskryf in hulle boeke. Die medium het gewerk vir Fellini en nie hy vir die medium soos baie popcorn directors nie. Dis veral Europese en Skandinawiese regisseurs wat hierdie metode voorstaan. Dink maar aan Auteur regisseurs soos Ingmar Bergman (veral The Seventh Seal), Peter Greenaway en Derek Jarman. Regisseurs wat hulle eie unieke stempel op hulle werk afdruk. Jy kan hulle dadelik aan hulle werk identifiseer. Hulle het nie foefies nodig soos meeste Amerikaanse regisseurs om hulle stories te vertel nie. Dit gaan alles oor storytelling. Veral Jarman en sy Cinema of Small Gestures interesseer my, die intimiteit van die oomblik wat hy so belangrik geag het. Met hierdie beweging is die medium gedekonstrueer tot ´n “onmiddellikheid, tot die nou” – iets wat die dekonstruksie-guru Derrida seker baie trots sou maak. Alle foefies is weggeneem en die aksies tot ´n enkele aktiwiteit verklein. Ek dink dit is miskien hoekom ek so geneig is om meer close-ups én extreme close-ups te gebruik wanneer ek skiet. Party sê dit maak hulle claustrophobic, maar dit is die punt. Alles gaan oor emosionele intimiteit, of die afwesigheid daarvan. Die omgewing is van minder waarde wanneer ´n mens ´n karakterstudie maak. As storieverteller is my grootste doelwit om die karakter se emosionele intensiteit te ontgin. What better way as om die kamera direk in die akteur se gesig te druk en elke blemish te wys. Onthou jou karakters is vlees en bloed mense met werklike probleme.

Maar om terug te kom na Fellini, sy trefkrag lê in sy skep van amperse surrealistiese situasies. Die absurde word werklikheid deur die visualisering van die groteske. Dit was een van die aspekte wat ek in Ietermagô probeer nastreef het. In sy film 8½ vind ons die beste voorbeelde hiervan, veral die toneel van die man wat in die tonnel vasgevang is en skielik in ´n soort ballon verander. So ook die openingstoneel van La Dolce Vita met die “vlieënde” Jesus oor Rome. Maar my gunsteling Fellini film moet Nights of Cabiria wees met die briljante Giuletta Masina (ook Fellini se vrou).

Maar dit was nie Fellini wat my die meeste beïndruk het nie maar ´n draaiboekskrywer met die naam Cesare Zavattini. Hy was direk verantwoordelik vir die Neo-realistiese beweging toe hy drie draaiboeke vir ´n toe jong regisseur Vittorio De Sica geskryf het (Shoeshine, The Bicycle Thief en Umberto D.) Die visie van hierdie man word deur baie storievertellers nagestreef.

Bernardo Bertolucci is by uitstek die nommer een Italiaanse regisseur. ´n Meester op alle gebiede met sy beste eienskap die uitbeelding van die sensuele. Hy kry dit reg om met die kleinste cast ´n grootse emosionele impak te maak, gaan kyk maar na Last Tango in Paris en Besieged. Sjoe!

Deur trial en error het ek by die Italiaanse regisseurs geleer dat meer met stiltes as met woorde gesê kan word. Laat die beelde die storie vertel en die atmosfeer skep, nie die dialoog nie. Stiltes is meer emosioneel gelaai as uitbarstings.

HH: Lê die toekoms van Suid-Afrikaanse films in die neo-realisme?

KR: Die konsep word gans en al te veel rondgegooi sonder dat mense behoorlik weet wat dit behels. Neo-realisme het gewerk vir De Sica, Rosselini en Visconti as politieke spreekbuis, tydens en na die Tweede Wêreld-Oorlog. Ons koers is dalk ´n (Afrikaanse) interpretering van Lars von Trier, seker ook ´n soort neo-realisme maar ek voel ons moet digitaal dink. Dis amazing. Het jy Danny Boyle (Shallow Grave, Trainspotting, A Life Less Ordinary) se ontstellende 28 Days Later gesien? Hele film in digitaal geskiet met pragtige beelde. Dit is ongelooflik watter look digital aan ´n film kan gee as dit reg toegepas word. Met digitaal is die kostes van produksie ook baie goedkoper.

HH: Die Australiese filmbedryf is amper indien nie ewe oud as die S.A. filmbedryf. Hoekom is hulle so vooruitstrewend? Hulle maak minder maar baie goeie films.

KR: Die Australiaanse filmbedryf is die derde grootse in die wêreld. Hulle maak hope flieks, ons sien net min daarvan in Suid-Afrika. Die rede vir hulle welvaart is hulp van ´n regering wat die filmbedryf se potensiaal as uitvoerproduk raakgesien het. Soos in Brittanje en Ierland, word ´n groot hoeveelheid geld in hulle film- en televisiebedryf ingestoot, ook in nuwe talent. Hulle het groot campaigns om hulle regisseurs internasionaal te bevorder, dink maar aan Stephen Elliot, P. J. Hogan en Baz Luhrmann. Meeste van Hollywood se groot regisseurs kom uit Australië, mense soos Bruce Beresford, Phillip Noyce, Peter Weir, Scott Hicks en Russell Mulcahy. Dan wil ek nie eens met die Nieu-Seeland regisseurs begin nie. Australië het vroeg besef hulle kan nie met die groot Hollywood masjien kompeteer nie, daarom het hulle begin films maak wat by hulle finansiële en tegnologiese vermoëns pas – Shirley Bartlett (Love Serenade), Mark Lamprell (My Mother Frank), Mark Joffe (The Man Who Sued God) en Anthony J. Bowman se Paperback Hero om maar ´n paar te noem – almal groot internasionale kunsfliek treffers. Ons kan baie by hierdie filmmakers leer. Hulle besef ook (moenie dat ek begin kerm oor Charlize There-run nie) die waarde van hulle uitvoerprodukte (Naomi Watts, Judy Davis, Nicole Kidman, Cate Blanchett, Miranda Otto, Richard Roxburgh, Russell Crowe, Mel Gibson.)

Wanneer ons gehore visueel meer geletterd kan raak, kan ons stories meer gesofistikeerd word.

HH: Hoekom Ivory as keuse vir jou meestersgraad.

KR: ‘Ebony and Ivory, together in perfect harmony.’ As ivory goed genoeg was vir McCartney en Michael Jackson, hoekom nie vir my nie? Dekonstruksie is die tema van my verhandeling en op daardie stadium het The Remains of the Day ´n groot impak op my gemaak. Die film het al die eienskappe wat by my thesis statement pas en bevat ook my heel gunsteling cinematic oomblik. ´n Baie eenvoudige toneel waar Miss Kenton vir Mister Stevens blomme bring na sy studeerkamer. Hy is besig om ´n boek te lees. Sy leun oor in ´n poging om die titel te sien. Dit word ´n sensuele spel (‘Is Mister Stevens reading a racy book?’) Hulle is dol verlief op mekaar, maar dit is ´n verbode liefde en daarom ´not racy at all.’ Dit het my elke keer in trane.

HH: Daar word die afgelope paar jaar sonder inhibisie met die Afrikaanse taal omgegaan. TV, verhoog en film bied nuwe uitdagings vir filmmakers want Afrikaans is bevry. Wat is jou gevoel rondom films met subtitels. Gaan daar nie iets van die subdialoog verlore nie?

KR: Dit is maar ´n sacrifice wat jy moet maak as jy in ´n foreign language werk. Ek is ´n Afrikaanse skrywer en storieverteller. Ek voel gemaklik daarmee. Ek word van talle kante gekonfronteer omdat ek in Afrikaans werk. Nou wat daarvan? Afrikaans beleef ´n nuwe bloeitydperk. Ons is in ´n transitional phase en dit hang van ons as filmmakers en skrywers af hoe ons die nasie gaan aanspreek (klink soos ´n fees-plakkaat nê). Dis glad nie te sê ek sal nie in Engels werk of in Xhosa, Zoeloe of selfs Hindi nie, maar vir nou is Afrikaans disco! En ek dink nie dis noodwendig in die subdialoog waar die ‘probleem’ lê nie. Sekere idiomatiese uitdrukkings is kenmerkend Afrikaans en onmoontlik om te vertaal. Kyk byvoorbeeld na Sewende Laan se subtitels. Alles kan tot ´n mate vertaal word. Dis eerder die kulturele subteks wat onverstaanbaar bly soos in die film Time of the Gypsies en die Tjegge en Slowake se vredes assosiasies (kalkoene, pleks van duiwe is hulle vredessimbole.) Dieselfde met Monsoon Wedding, ´n groot bohaai word gemaak oor die kleur van die (wit) tent op die troue omdat wit in Hindi die dood verteenwoordiger. Die subs kan nie vir jou die dinge uitspel nie.

Jy sê Afrikaans is bevry? Waarvan? Dit is net ´n buzzword wat die media rondgooi om hull self pc te laat klink. Alles moet mos “Afrika” wees en as dit Afrika en Afrikaans is, moet dit politiek of alternatief wees. Voëlvry Toer se gat. ‘Ha-la-la ewig is ons Afrika’ moet liewer lees ‘ha-la-la ewig is ons in ons moer in verveeld.’ Kerkorrel het ons ´n favour gedoen toe hy homself gehang het. Hy is en was die mees overrated Afrikaanse kunstenaar (ek gebruik die term baie los) wat ons nog ooit gehad het. As jy wil praat van iemand wat ´n groot impak gemaak het op die Afrikaanse kultuur dan is dit Leon Schuster en Willie Esterhuizen! ‘Doen dit beter in Afrikaans.’ Watse stront is dit? Om skielik bliksem en k*k op Egoli te sê maak ons nie liberaal of progressief nie. Dit laat ons liewers ´n tree of twintig terug tree. Hulle try te hard. Om borste en ´n paar vrot penisse by KKNK en Aardklop in die gehoor se gesigte rond te swaai, bevry ons nie. Dit maak ons liewer naar vir die suur reuk. Stef Bos, Dozi, Karen Zoid en Kerkorrel is ons taal taal-heroes. Ons is regtig in diep stront as dit is waarna ons as volk aspire. They mean shit to me. Alternatief – schmalternatief! Jy moet ´n messed-up childhood hê, ´n paar jaar in groendakkies gewees het, ´n paar keer behandel word vir substance abuse (swazeeeee giggelgras), nie ´n borsel of ´n kam besit wat uit jou kous steek en by jou safari suit pas nie, of ten minste een Lesbiese verhouding (´n stoute soen en ´n vroetel wanneer jy dronk is by Cool Runnings tel nie) gehad het om ´n ernstige Afrikaanse kunstenaar of poet te wees. As jy aan al hierdie vereistes voldoen, kan jy ´n Geraas beeldjie en ´n naweek by ´n ATKV-oord wen. Of jy kan heeltemal aan die ander kant van die spektrum wees en op Bokjol #4975 of Stamp wees waar jy heerlike volkseie cover versions maak met ´n jirlike doef doef techno beat, ‘ek het ´n meisie wat suig aan my puisie, whacka whacka whacka..ens.’

Hoekom moet ´n band hulleself fokofpolisiekar noem om ´n record deal te kry? Is hulle musiek so kak dat hulle moet rondspeel met vulgaritiete om aandag te trek?

Daar is genadiglik skrywers in Afrikaans wat hierdie slaggat mistrap omdat hulle nie omgee wat mense van hulle werk dink nie. Mense soos Johann de Lange en Francois Bloemhof. Albei amazing skrywers. Dit gaan vir hulle, soos met die regisseurs, oor vrae wat hulle om eie onthalwe wil antwoord. Lees De Lange se Tweede Natuur. Ek sou graag dié boek wil verfilm. Johan Hambidge staan wydsbeen (soos alle lesbiane maar altyd doen), oor hierdie sfere.

HH: Hoe verskil die mediums vir jou: film versus televisie?

KR: Scope en spectacle. Televisie verwag minder dinamiese konstruksie. Dit moet in kleiner dosisse aan jou gehoor gegee word omdat hulle minder op ´n slag kan verteer. As storieverteller vir televisie kan jy jou gehoor enige oomblik verloor (die telefoon lui of ma skep kos in). So mis jou gehoor chunks uit die narratief. As teenvoeter moet jy voortdurend die belangrikste elemente van die narratief herhaal of herinterpreteer. Film is makliker, ´n televisiereeks is versprei oor dae, selfs maande maar ek is mal oor albei mediums.

HH: Kameramanne is ´n belangrike komponent. Watter tipe verhouding moet daar wees tussen regisseur en kameraman?

KR: Ek het nog net met een kameraman te doen gehad, Greg Heimann. Ons het saam aan die konstruksies van Ietermagô gewerk. Dit was bietjie moeilik vir hom want hy is ´n regte soutie maar ons het ´n baie goeie verstandhouding, amper telepaties. Hy weet wat ek wil hê nog voor ek daarvoor vra. Almal spot dat hy my ‘werkvrou’ is, maar dit is werklik hoe dit is. As jou verhouding met jou kameraman nie goed is nie, het jy as regisseur moerse probleme. Hy is die verfkwas waarmee jy skilder. Vir Greg voorspel ek nog groot dinge.

HH: Kom ons gesels oor die regisseurs wat jou inspireer en hoekom?

KR: Daar is talle wat my inspireer en vir wie ek ontsaglik baie respek het, maar ek wil graag vir Derek Jarman uitsonder. ´n Renaissance man as daar ooit een was, ´n ware kunstenaar. Nie alleen was hy ´n briljante regisseur wat nie deur raamwerke teruggehou kon word nie, maar stelontwerper (vir onder meer Ken Russell), wêreldberoemde skilder en ontwerper van tuine. ´n Veelsydige man dus.

My gunsteling regisseur van alle tye en ´n god in die filmbedryf is John Schlesinger, die regisseur van Midnight Cowboy, die beste film wat ooit gemaak. Dit is twee volmaakte ure op doek. Nie net was Dustin Hoffman nog nooit daarna so goed nie, maar enigiemand wat die beeldskone John Voight (sy John Buck spook by my) aan die wêreld bekend gestel het, moet as ´n god beskou word. Die pantheon van filmgode word voltooi deur Woody Allen (die wêreld se beste draaiboekskrywer), Anthony Minghella, Mike Nichols, James Ivory (oor wie ek my PhD gedoen het), Sydney Pollack, Bernardo Bertolucci, Philip Ridley, Ken Loach, Martin Scorsese, Robert Altman, Bille August, Atom Egoyan, Patrice Leconte, Richard LaGravenese (Erin Brockovich) en Neil LaBute. Ek is ook versot op die werk van Michael Winterbottom, John Greyson en Thom Fitzgerald. Hierdie drie regisseurs skep meesterlike beelde op skerm. En David Lynch natuurlik, met sy Twin Peaks, die beste televisiereeks nog. Die bravado hiervan kan glad nie woordeliks vasgevang word nie.

Ook is ek ´n reality-show junkie en verslaaf aan Survivor. Ook dol op The Amazing Race en The Block. Die sosiale interaksie is ongelooflik.

“I love this character because she’s an absolute maverick, she’s completely unafraid, literally unafraid to the point where she’ll crawl into bed with death. That’s pretty much as extreme as you can go. I can identify because I have the desire to explore. But, at the same time, the medium for me to explore my desires and curiosity is through films and through these characters.” Die Regisseur Lynne Stopkewich oor haar 1996 rolprent Kissed.

HH: Jou lys met gunsteling rolprente is seker net so lank?

KR: Ja, en vreemd. Ek kyk byna enigiets. Maar ´n lys met gunstelinge sal jou verras. Alleen op ´n eiland gestrand, sal ek kan survive met die volgende agtien films aan my sy.

Some Like It Hot (1959; Billy Wilder)

Who’s Afraid Of Virginia Woolf? (1966; Mike Nichols)

They Shoot Horses, Don’t They? (1969; Sydney Pollack)

Midnight Cowboy (1969; John Schlesinger)

Tootsie (1982; Sydney Pollack)

The Color Purple (1985; Steven Spielberg)

Shirley Valentine (1989; Lewis Gilbert)

Remains Of The Day (1993; James Ivory)

Bullets Over Broadway (1994; Woody Allen)

Oleanna (1994; David Mamet)

Paris France (1994; Gerard Ciccoritti)

The English Patient (1996; Anthony Minghella)

Kissed (1996; Lynne Stopkewich)

The Sweet Hereafter (1997; Atom Egoyan)

Lilies (1997; John Greyson)

Crash (1997; David Cronenberg)

Living Out Loud (1998; Richard LaGravenese)

Red Dirt (1999; Tag Purvis)

HH: Regisseurs wat sterk standpunt inneem. David Mamet (´n vooraanstaande Amerikaanse dramaturg wie se werk al vergelyk is met dié van Harold Pinter) is bekend om sy sterk manlike karakters met hulle macho houdings en verbale konfrontasies. David Cronenberg is al daarvan beskuldig dat hy net wil skok en het per geleentheid gesê ‘when you’re in the muck, you can only see the muck.’ John Greyson (in 1960 gebore, ´n bloedjong regisseur soos jyself) veg vir gay-regte. Egoyan ontdek deur sy vollengte films sy eie persoonlike (tematiese) obsessies. Sy films ondersoek intimiteit, marginalisasie. John Greyson is aktief betrokke by verskillende bewegings en aksies soos HIV vigs, sensorskap en vrede. Hy is ook ´n aktivis vir gay-regte. Maak hulle protesfilms of bied hulle ´n nuwer perspektief op hedendaagse aktuele kwessies?

KR: Ek dink dit hang van jouself af hoe jy daarna wil kyk. Protesfilms laat dit baie koud en klinies klink wat ek nie dink dit is nie. Jy probeer hulle werk té oor-intellektualiseer. Vir my gaan dit nie oor die messages as sulks nie, maar eerder oor die emosionele impak wat hierdie regisseurs bied. Soos ek al gesê het, dit gaan alles vir my oor die karakters. Met hierdie groepie regisseurs gaan dit oor hulle eie obsessies, nie mense in die algemeen s´n nie. Al die regisseurs se werk het minstens een tema. Mamet se films handel almal oor die ‘power play’ tussen mans en vroue en die maskers wat hulle opsit. Jy vind dit regdeur sy oevre. Cronenberg werk altyd met die ‘outsider’ en sy tweegeveg tussen die alter ego en die nemesis. Hy hou maar net daarvan om dit in ´n droomwêreld van monsters en seks om te sit. Toe Egoyan se film The Sweet Hereafter by Cannes bekroon is, het hy gesê enige regisseur wat sy sout werd is, kan dieselfde film oor en oor maak want hy is nooit tevrede met die antwoorde nie. Dit is nooit genoeg nie. Daar moet altyd iets meer wees. Die beste advies wat ek ooit gekry het oor films maak kom juis van John Greyson af. Hy was ´n gas by die 5e Gay en Lesbiese Filmfees in 1998. Hy het vir my gesê dat jy films moet maak wat jyself graag wil sien. Dit is nie te sê jy neem nie jou gehoor in ag nie, maar daardie films se integriteit sal deur jou gehoor raakgesien word. Tussen al die miljoene potensiële kykers in die wêreld, moet daar sekerlik ander ‘like minded individuals’ soos jyself wees met dieselfde vrae?

HH: Met watter akteurs sal jy graag wil werk en hoekom?

KR: Ja wel, die lys word voortdurend aangepas soos ek nuwe films en televisiereekse sien. Die all-time favorites is nou reeds so oud, dat hulle waarskynlik al dood sal wees wanneer ek eendag in Hollywood arriveer. Elizabeth Taylor (beste vertolking van die karakter in Who´s Afraid of Virginia Woolf?) Ek kan oor en oor daarna kyk. Sal bitter graag saam met Dianne Wiest, Brenda Blethyn, Ian McKellen, Robert Duvall en Armin Mueller-Stahl wil werk. Van die jonger akteurs wat my beïndruk is Ray Winstone, Daniel Craig, Jeremy Northam, Michael Vartan, Helena Bergstrom en Emily Watson.

Afrikaanse akteurs is baie selfbewus, ook oor hulle performances. Min plaaslikes is net. My gunsteling Afrikaanse aktrise is Annalise Bosch. ´n Ongelooflike mens wat toevallig ook een van my beste vriende is. Sy het screen presence, is eerlik en geloofwaardig. Dit is ´n groot jammerte dat sy nie groter is as wat sy is nie.

Onder Suid-Afrikaanse akteurs is daar nie baie wat ´n storm en drang veroorsaak nie, buitendien het ek reeds (op ´n jong ouderdom en grootliks danksy AFDA) met my gunstelinge saamgewerk (Lieb Bester, Annalise Bosch, Chris van Niekerk, Greg Mellvill-Smith, David Butler, Lizz Meiring en Pierre Van Pletzen.)

Lieb Bester het, wat sy career betref, nie altyd die beste besluite geneem nie (Die Vierde Kabinet). Lieb is op sy beste in sagter rolle. Hy word gecast as die hardekwas, maar die emosionele diepte wat sy sagter karakters projekteer, gee my hoendervleis. Dit bring iets anders as die gewone ou vertolking na die skerm.

Onder die jongeres is daar maar ´n handjievol wat ´n tweede kykie werd is (Karen Wessels, Neels Claasen, James Alexander, Jill Middlecop, Neil Gribb, Stephan van Niekerk, Wickus du Toit, Jacques van Jaarsveld en Justin Strydom (produkte van die Technikon Pretoria met hope potensiaal, maar ´n gebrek aan selfvertroue as gevolg van te min blootstelling.) Maar nee, die “ou fossiele” gebruik voortdurend dieselfde ou boring akteurs. Moet ons regtig nog ´n reeks met Frank Opperman of Gys de Villiers of Marius Weyers sien? Of moet ons regtig gemartel word om te kyk hoe Valiant Swart sukkel om sy lyne te onthou? Hou by sing, ou maat!

Natuurlik hoop ek ook om eendag aan ´n akteur of aktrise hulle mees memorable performance te bied, een wat altyd onthou sal word as die grote. Soos Brenda Blethyn in Secrets and Lies, Pauline Collins in Shirley Valentine, Emily Watson in Breaking the Waves (dink jy nie dit sal ongelooflik wees om Lizz Meiring in so ´n rol te sien nie – iets wat ons glad nie van haar sal verwag nie), Jessica Tandy of Morgan Freeman in Driving Miss Daisy en Martin Landau in Ed Wood. Dis nou ware acting! Wood sorg vir hoogs persoonlike en vermaaklike films.

HH: Wys weer op die waarde van goeie skoling. Blethyn is ´n produk van die Royal National Theatre en Wiest het op haar beurt vir ´n wyle saam met die American Shakespeare Company gereis – albei dus stewige Shakespeare akteurs. Watter stories draai tans in jou kop? Vertel van die projekte waarmee jy besig is.

KR: Ek skryf aan ´n klomp goed met die oog op verfilming volgende jaar of daarna. Een van my grootste projekte op die oomblik is ´n verwerking van Reza de Wet se Stil Matilda. Die styl is “magic-realism” gekoppel met Boere-chic. ´n Knippie Circé-de-Soleil, gestrooi met Amelie en ´n bietjie Peter Greenaway en Frederico Fellini. Die projek kom ´n lang pad en ´n vriend, Ryno Posthumus is ook betrokke. Ons het toevallig op universiteit met hierdie wonderlike play kennis gemaak en toe reeds besluit dat dit in ´n film omskep moet word. Reza de Wet en Ster Kinekor is albei baie opgewonde oor die idee, maar die verwerking vorder stadig omdat ek so vol strooi is en heeltyd daaraan verander. Sal my gat een of ander tyd in rat moet kry.

´n Ander is ´n reeks vir televisie met die titel ´n Tikseltjie Meer. Ek is van plan om die eerste groot Afrikaanse gay-reeks vir televisie te maak, ´n Queer As Folk. Ek weet dat die reeks baie omstrede gaan wees en jy weet hoe Afrikaners kan kerm en kla. Dit handel oor ´n deel van my lewe toe ek heeltemal uitgehak het, hope seks (jou hare sal penregop staan as jy die reeks sien), dwelms, nagklubs, ensovoorts. Tematies handel dit oor die soeke na liefde in die skadu van Henry die 4de (HIV). Van my beste skryfwerk tot op datum, ek is baie trots hierop. Hopenlik sal die produsente dit ook waardeer en die potensiaal raaksien.

Iets heeltemal anders is ´n b-grade Schlock Horror televisie-reeks, Castorini. Vier parapsigoloë word in die Mount Everest van spookhuise toegesluit, die sogenaamde Castorini-huis. Hulle missie is om vas te stel waar die huis se negatiewe energie sy oorsprong het. Ek leef al my donkerste fantasieë hierin uit (baie bloed, spoke, nagmerries.) Ietermagô maal veertig. Met dié reeks wil ek iets nuut probeer wat nog nie met televisie gewaag is.

Skryf ook aan ´n polisiereeks (Alter Ego) vir Annalise Bosch en Karen Wessels. ´n Afrikaanse Cagney and Lacy waar die ouer gesoute inspekteur saam met die rookie ´n reeksmoordenaar try opspoor.

Dan is ek ook besig met ´n televisiereeks oor ´n meisie se verhouding met twee ouens. ´n Postmodernistiese ménage à trois omdat sy nie ´n keuse kan maak tussen die twee nie. Om sake meer te kompliseer, raak sy swanger maar weet nie watter een die pa is nie.

Toekomstige projekte handel oor die Zoeloe-prinses Mkabayi, die vrou wat eintlik oor die Zoeloes moes regeer in die tyd van Shaka en Dingaan. Wonderful stuff. Lees soos ´n Shakespeare-tragedie. Ek wil ook baie graag ´n film maak oor die skilder Caravagio. Voorlopig noem ek dit Chiaroscuro (wys op ´n verf tegniek – die speling tussen lig en skaduwee/donker.) Daar is reeds ´n film oor hom gemaak met die titel Caravaggio, maar ek wil die fokus verskuif na Jerusaleme, sy doof-stom helper wat verlief was op sy meester. Dit is ´n interessante gekompliseerde verhouding en daar is ooreenkomste met die karakters van Tom Courtenay en Albert Finney in Peter Yates se The Dresser.

Eendag, wanneer ek tonne geld het, wil ek eksperimenteer deur elemente van die Italiaanse rolprent te kombineer met ekspressionisme en konsepsuele kuns. Production design gesentreer om die skilderye van Francis Bacon of die foto’s van Robert Maplethorpe met beelde van Jeff Koons of Martin Creed.

HH: As iemand jou onbeperkte fondse gee, watter rolprent sal jy maak (want jy kan nou so groot dink as wat die fondse (of jou brein) toelaat)?

KR: Die uitdaging is eerder om iets te maak met min (of niks). Iets sinvols skep met dit wat tot jou beskikking is. “Beg, borrow, steal” – die leuse van die Independent Filmmaker.

skrywer: Haydee Hollander

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar