Skrikkeljaar ondersoek ‘gemengde herkoms’ by KKNK

Skrikkeljaar is ‘n ode vir ons land. Dit is soos ‘n volksliedjie.”


Dít is hoe David Johnson, dramaturg, musikant en akteur, die produksie Skrikkeljaar beskryf.

Skrikkeljaar is ‘n nuwe plek-spesifieke produksie wat vir die eerste keer by die Absa KKNK op die planke gaan wees. Dit is ‘n eenman musiekblyspel wat die storie vertel van Vincent, wie se verjaarsdag op die 29ste Februarie val.

Johnson vertolk die rol van Vincent en hy neem die gehoor op ‘n kragreis van 32 jaar, of 8 skrikkeljare. Dit gee die gehoor ‘n blik op hoe die samelewing oor hierdie tydperk verander het, en deur watter probleme dit tans in die gesig gestaar word.

Johnson en Layla Swart het saam die teks geskryf, en hulle ondersoek wat dit beteken om van ‘n gemengde herkoms in Suid-Afrika te wees. “Alhoewel dit diep in die gekompliseerdheid van ‘n gemengde ras delf, bied dit ‘n skramme blik op die moontlikhede van ras-loosheid,” sê Johnson.

Musiek speel ‘n groot rol in die produksie en Johnson sê hy is baie aangetrokke tot die spontaniteit van lewendige musiek. “Die klankbaan vir Skrikkeljaar word voor jou oë gemaak.”

David Johnson
David Johnson
Volgens Johnson was die idee vir die produksie te danke aan Swart, wat self op die 29ste Februarie gebore is. Sy is ook verantwoordelik vir die multi-media wat tydens die optrede teen die agtergrond sal wys.

Of hulle ‘n spesifieke teikenmark in gedagte het, sê Johnson: “Ons wou graag werk maak vir die nuwe generasie Suid-Afrikaners, en dit sluit nie net mense met smartphones in nie.”

Swart en Johnson het saam ‘n produksiemaatskappy met die naam JohnArts. Vorige eksperimentele werk wat hul gedoen het sluit in Censorship 09, Engineers of the Soul en All I could see was me.

Skrikkeljaar is vanaf 30 Maart – 6 April elke aand om 20:30 in die Tamatiestoor te sien. Daar is ‘n ouderdomsbeperking van 13 jaar en ouer-begeleiding vir tieners ouer as 13 jaar is ‘n vereiste.

KKNK 2013

Lewer kommentaar

Leave a Reply