Tobie Cronjé genomineer vir Kanna

Tobie Cronjé is genomineer vir ‘n Kanna-toekenning as beste akteur by die KKNK vir sy rol in My Vrou se Man se Vrou.

Veteraan akteur, snaakse man en meester van die klug, Tobie Cronjé, is so pas deur die Kanna-paneel genomineer vir ‘n Kanna-toekenning as beste akteur by vanjaar se KKNK vir sy vertolking van die rol van John Smith in die klug, My Vrou se Man se Vrou. Tobie sê hy is baie dankbaar vir die nominasie. “Jy weet komedie en klug moet somtyds maar aan die agterspeen (en dis nie Trixie se spene nie) suip, want vir sulke toekennings word die meer ernstige werke in aanmerking geneem. Terwyl klug en komedie soms moeiliker is, want alles gaan oor tydsberekening en komiese beplanning.”

Frans Swart, regisseur van My Vrou se Man se Vrou, is ook baie opgewonde oor Tobie se KANNA-nominasie. “Tobie is net in ‘n ander klas. Juis daarom is ons almal saam met hom bly en opgewonde oor die nominasie. Hy het soveel jare se ervaring en hy weet presies hoe om die gehoor te vermaak. Om nie eers van sy mede-spelers te praat nie. Partykeer moet hulle sukkel om nie uit te bars van die lag as Tobie op sy stukke is nie.” Swart sê verder dat ‘n produksie soos My Vrou se Man se Vrou ongelooflike dissipline en fisiese inspanning van Tobie vereis. “Hy het maar net weer eens met die hierdie produksie bewys dat hy enig in sy soort is en met van die bestes in die wêreld vergelyk kan word.”

Ander spelers in My Vrou se Man se Vrou is Duncan Johnson, Hannes Brümmer, Heidi Mollentze, Lelia Etsebeth en Wynand van Vollenstee. Die regie is deur Frans Swart met stelontwerp deur Johan Badenhorst.

My Vrou se Man se Vrou open eersdaags by die Sand du Plessis Teater in Bloemfontein en speel daar van 1-13 Mei 2012. Daarna is die produksie onder andere by die Staatsteater in Pretoria, Innibos Fees in Nelspruit, Emperors Palace in Kempton Park en KunsteKaap in Kaapstad.

Alle besprekings kan gedoen word by Computicket 0861 915 8000 ofwww.computicket.com. Groepe meer as 10 teen afslagpryse. Skakel 011 815 3000 of epos aan admin@lefra.com.

Tobie Cronjé en Hannes Brümmer in My Vrou se Man se Vrou
Tobie Cronjé en Hannes Brümmer in My Vrou se Man se Vrou

My Vrou se Man se Vrou kan ook deur skole, kerke en diensorganisasies aangewend word om fondse in te samel.

Skakel Lefra Produksies by 011 815 3000 vir meer inligting of besoek www.myvrou.co.za

(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar