Hierdie musiekteater van ‘n ander soort, bied ‘n speelse, vermaaklike kykie na die oer-oorsprong van musiek en van taal.
Magda van Biljon sing in Afrikaans, Vlaams, Nederlands, Frans en Duits. Daar is liedjies van onder andere Jacques Brel soos “Marieke”, “Timid Frieda” en “Madeleine” asook immergroen gunstelinge soos “Lili Marlene”.
Die aanslag is lig en daar is heerlike wisselwerking en samespel tussen die drie kunstenaars met die twee begeleiers wat ook wonderlike harmonieë met agtergrondsang verskaf. Die liedjies en die geskiedenis van taal en musiek word aangevul met komiese staaltjies uit Magda se verhoogloopbaan.
Die tema van hierdie musiekteater het sy oorsprong in Magda se navorsing vir ‘n dokumentêr – Origins and cultural evolution of the San – wat sy in die 90’s vir Franse televisie gedoen het. Omtrent al die argeoloë en paleontoloë van die wêreld is aanhangers van die evolusie-teorie dat die aapmense (homoniede) uit die aapspesie (die primate) en die moderne mens (homo sapiens) weer uit die homoniede spesie ontwikkel het. As kreasionis glo sy self aan die volle skeppingsverhaal soos in die Bybel geleer en Eva as eerste dame is beslis bo aan haar lys!
Sy het egter besluit om satiries na die komiese kant van die Darwin-teorie te kyk en dit tong-innie-kies so ‘n bietjie “uit te haal” soos die jonges mos deesdae sê. Sy ondersoek hiermee die moontlikhede oor waar spraak en musiek vandaan kom.
Dan is die herkoms en ontstaan van Afrikaans ‘n verdere liefde en passie wat sy uit die argiewe gaan grawe het. Met so ‘n bietjie ‘aapmens-rap’, ballades en skootjies kabaret, vertel sy musikaal die twee stories en sing in die tale wat Afrikaans oor die eeue beïnvloed het.
Magda van Biljon – Sang
André Kempen – Klavier en trekklavier
Leon Ecroignard – Viool, kontrabas, saag, Afrika-instrumente, mondfluitjie, banjo, xilofoon en ander instrumente
(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)