Maties, Kovsies en Tshwane weer finaliste

Die universiteite van Stellenbosch en die Vrystaat en Tshwane Universiteit vir Tegnologie sal dit volgende jaar by die Absa KKNK (31 Maart tot 7 April 2007 op Oudtshoorn) uitspook om die Sanlam-prys vir Afrikaanse Teater vir 2007.

Dié toekenning sal vir die vierde keer op die spel wees. Die finaliste is gekies op grond van oorspronklike Afrikaanse dramatekste wat aanvanklik deur die skrywers vir oorweging aan enige van die dramadepartemente by universiteite en technikons in Suid-Afrika voorgelê is en uiteindelik deur hulle vir beoordeling ingeskryf is.

Volgens Martie de Lange, borgskapbestuurder van Sanlam, beteken dit dat dieselfde drie dramadepartemente wat vanjaar by Aardklop die aanspraakmakers was, nou weer hul slag gaan wys – vanselfsprekend met splinternuwe stukke en rolbesettings en waarskynlik ook ander regisseurs.

Stellenbosch het die toekenning in 2004 en vanjaar gewen, terwyl die Vrystaters in 2005 koning gekraai het.

Die vier suksesvolle inskrywings wat nou ingestudeer en met ‘n borgskap van R25 000 elk by die KKNK opgevoer gaan word, is:

· Maket, deur Daleen Kruger (Universiteit Stellenbosch)
· Lewensreg, deur Jan van Tonder en Hillbrow Hooligan, deur Ilne Fourie (Universiteit van die Vrystaat)
· Terugkere, deur Wim Vorster (Tshwane Universiteit vir Tegnologie)

By dié fees word die algehele wenner en ook die beste akteur, regisseur en dramaturg aangewys.

Vir die wendramadepartement wag ‘n stewige R100 000 op voorwaarde dat die wenproduksie by twee ander kunstefeeste opgevoer word. Die individuele pryse is elkeen R20 000 werd. Die totale prysgeld van altesame R260 000 per jaar maak die Sanlam-prys die grootste in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse teater vir die ontwikkeling van Afrikaanse teaterproduksies.

Lewer kommentaar

Leave a Reply