Veranderinge in kykNET se laataand vermaak- en aktualiteitsprogramme vanaf April 2016

Aanhangers van kykNET se gewilde laataand vermaak- en aktualiteitsprogramme sal bly wees om te hoor dat dieselfde aanbieders hulle weeksaande op die hoogte oor nuus, politiek, sake, kultuur, kuns en mode sal hou. Die geliefde Bettie Kemp en Riaan Cruywagen sal dus steeds op Maandag-, Dinsdag- en Donderdagaand, 21:30—22:00, in kykNET Verslag die dag se belangrikste nuusgebeure bespreek.

Waldimar Pelser sal egter nie meer die uurlange Insig op Maandagaande, 22:00-23:00, aanbied nie. Insig word vanaf April deel van die nuwe uurlange kykNET Verslag in gesprek, waarin verskeie gaste weekliks, Woensdagaande van 21:30 tot 22:30, met Waldimar oor die belangrikste aktuele gebeure sal gesels. Aangesien Waldimar gedurende April oorsee is, sal Bettie Kemp hierdie spesiale nuwe kykNET Verslag-uitsending gedurende sy afwesigheid aanbied.

Prontuit met Kabous Meiring skuif in April van Woensdagaand na Maandagaand, 22:00 tot 22:30. Die uitsaaitye van Winslyn met Divan Botha, en Flits, aangebied deur Rozanne McKenzie en Bouwer Bosch, bly onveranderd. Winslyn sal dus steeds Dinsdagaande, 22:00 tot 22:30, op die kassie wees en Flits, Donderdagaande van 22:00 tot 22:30. Ook Robinson, die insiggewende aktuele geselsprogram wat die gesoute Freek Robinson op Sondagaande aanbied, se uitsaaityd bly dieselfde – 19:30 tot 20:00.

Inderdaad goeie nuus vir almal wat graag met kykNET se vermaak- en aktualiteitsprogramme voorbly.

Lewer kommentaar

Leave a Reply