VRAAG: Richard jy is na 20 jaar terug op die verhoog. Hoe voel dit? Is dit soos fietsry? Kom dit dadelik weer terug?
RICHARD: Ja ek is nou weer 20 jaar terug op die verhoog. Voel dit soos fietsry? Op klim, hier gaan ons alweer. Amper, dit is moeilik. Ek het nie geweet of ek my woorde sal kan onthou nie. Ek het nie geweet of ek tegnieke sal onthou, projeksie, beweging an al daardie soort van dinge nie, maar dit het ruk-ruk in die begin gegaan maar skielik, dis ‘n baie rare ding, is dit asof die instink inskop dat ‘n mens na jare se ervaring op die verhoog ontwikkel het. Dit kom terug, daar kom sekere aspekte terug. Wat doen ‘n mens, hoe gaan hierdie snaaks wees, gaan jy die gehoor laat reageer? En daardie goed, dit is wat ondervinding vir jou gee. Jare se ondervinding op die verhoog, en dit het nie verdwyn nie. Dis alles nog daar, bietjie dormant maar ongelooflik hoe dit terug kom na ‘n mens toe, so ja, nie dadelik nie maar dit kom terug en dit help baie.
VRAAG: Wat was jou laaste rol, jou laaste Produksie?
RICHARD: In 2005 / 2006 as ek reg onthou, speel ek in Taraboemdery van Chris Barnard saam met Neil Sandilands, Milan Murray en Pieter van der Heever en ek speel die rol van Buks as ek reg onthou. ‘n Moeilike stuk, baie mooi stuk soos net Chris Barnard kon skryf en watter ervaring. Dit was lank terug so ons hoop maar daardie goed steek nog vas erens in die geheue.
VRAAG: Noem vir ons so bietjie hoogtepunte uit jou teater loopbaan
RICHARD: Hoogtepunte ja, daar was baie, vir my in elk geval. Vir my het dit soos hoogtepunte gevoel. Potlooddief en die Engel deur Ampie van Straaten is my eerste groot hoofrol in die Staatsteater in Pretoria. Dit was ‘n lieflike rol om te speel, wonderlike regisseur Louis van Niekerk. Uitstekende spelers, Jocelyn Broderick was my “leading lady”. Ek onthou Ben Kruger, Johan Engelbrecht, Franz Dobrowsky was almal in die stuk. Dit is ‘n stuk wat gebaseer is op ‘n ou wat kulkunsies doen maar tog ‘n soort “magic” skep met die dinge wat hy doen. Dit is einlik maar ‘n liefdesverhaal, en hy kry dit daar aan die einde maar die pret en die diep plesier om so stuk te kan doen. Ek het kulkunsies uitgewerk met die min props tot my beskikking, planne gemaak. Geleer om Afrikaans te praat met ‘n diep “Southern American accent”, en dit was vir my werklik ‘n hoogtepunt. En ek was ook benoem vir ‘n Beste Akteurs toekenning wat ek nie gekry het nie maar dis okay. So dit was vir my ‘n hoogtepunt, ‘n ander hoogtepunt was Minnaar Onder die Wapen van George Bernard Shaw waarin ek die hoofrol gespeel het. Die sjokolade soldaat tenoor Michelle Botes, oorlede Michelle Botes en dit is ‘n waaragtige baie lekker produksie gewees. Regisseur Fancois Swart en ek onthou Antoinette Kellermann en Anton Dekker was ook in die verdeling en Amor Tredoux en dit was ‘n lieflike produksie en ‘n wonderlike tyd. Daar is ander hoogtepunte, Hamlet in die Staatsteater. Ek het Laertes gespeel teenoor Marius Weyers se Hamlet en Sandra Prinsloo se Ophelia. Daardie swaard geveg aan die einde tussen my en Marius, 6 weke lank het ons ‘n uur op ‘n dag geoefen met daai swaarde en ons was nogal fiks want dis al manier wat jy daai toneel kan doen. Nie dat dit so “big deal” is nie maar ek onthou met openingsaand het die voorste rye gesnak na hulle asem na die eerste paar houe wat ons geslaan het en dit is ‘n belangrike ding. Dit beteken die gehoor het geskrik vir wat ons aanvang het. Dit het lewensgevaarlik gelyk en dis hoe teater moet wees, jy moet voluit gaan.
VRAAG: Jy is nou te sien in Vlerksleep. Vertel vir ons van die produksie en van al die rolle wat jy vertolk.
RICHARD: Vlerksleep, nou ja, wat kan ek sê? Hoekom het ek ja gesê vir Vlerksleep op my ouderdom, nadat ek so lank van die verhoog af was. Wel, Frans Swart, die regisseur, het vir my die teks gestuur, ek het dit gelees, ek het gesien wat hier aangaan, ek het gesien dis ‘n komedie wat baie lekker is om te doen maar wat moeilik is om te doen. En toe sien ek, ek speel 5 verskillende karakters en toe sê ek onmiddellik ja want watter akteur gaan nee sê vir daai geleentheid om 5 totaal verskillende karakters te vertolk met drie en ‘n half minute per slag om van karakter en mens te verander. Hierdie produksie is wonderlik en ek geniet my gate uit en ek moet sê, die ander spelers ook. Daar is wonderlike spelers saam in, David James, die arme ou wat sy vrou gelos het en nou ‘n nuwe “girl” prober kry na 30 jaar. Elma Potgieter het haarself natuurlik gate uit geniet op die verhoog wat nou ‘n nuwe kerel soek na 30 jaar. En dan voorheen my geliefde in ‘n radioverhaal, en toe my dogter in 7de Laan, Bertha le Roux Wahl, en wat ‘n plesier om teenoor haar te vetolk want sy speel die ander vier “girls” wat deur die gedatery gaan. Dis ‘n lieflike mengelmoes van mense opsoek na liefde wat elke liewe slag in ‘n fiasko ontaard maar in ‘n snaakse fiasko ontaard. En dit was daar, wat kan ek sê, dit was soos ‘n mallemeule en dit is ‘n baie genotvolle mallemeule. Ek is baie gelukkig om daar in te wees en die rolle wat ek vertolk, jy weet, van die “nice” ou tot die vark wat met ‘n ketting om sy nek rondlop en morsig is tot die skaam outjie wat in die bank werk , tot die baie kwaai kelner in ‘n baie smart restaurant, tot die nar. Ek wil nie te veel verklap nie, kom kyk gerus want julle sal dit geniet.
VRAAG: Nou jy is vanjaar 40 jaar in die vermaaklikheidsbedryf, baie geluk daarmee. Ek weet dis moeilik, maar sonder asseblief ‘n paar hoogtepunte uit.
RICHARD: Daar was hoogtepunte in hierdie 40 jaar, moeilik want dit was so lank ek kan nie meer onthou nie. Maar daar was tog goed wat uistaan; ‘n Standbeeldjie wat ek by Innibos Kunstefees gekry het vir Lewenslange Bydrae tot Afrikaanse Musiek. Sulke dinge beteken baie vir my. Vanjaar het ek ‘n toekenning van die FAK gekry vir Lewenslange Bydrae vir Afrikaans. Jy stap op die verhoog, en ek het dit gedoen in Nelspruit by Innibos Fees en daar sit, ek dink, 35 000 mense voor jou op die skougronde en pawiljoene en die plekke. En ek begin sing Tussen Treine en ewe skielik word jy bewus van ‘n klomp mense wat saam sing en jy kyk hier voor jou en jy kan nie baie vals sing nie. En daar voor jou hoor jy die voorste paar rye, daar is honderde mense wat saam sing, en eintlik kan ‘n hogtepunt nie hoër as hierdie wees vir my nie. Laat ‘n liedjie wat ek 40 jaar gelede geskryf het, daardie reaksie vir soveel mense nou nog ontlok. Dit is een van die hoogste hoogtepunte ooit in my loopbaan. Daar is ander maar niks kom hier by nie. En nou nog, as ek optree is daar ‘n klomp jong mense. Dit smaak my wat die woorde van Tussen Treine beter ken as wat ek dit ken. Ek is ewig dankbaar daarvoor. En ewig bly daaroor.
VRAAG: Musiek het natuurlik op ‘n stadium jou loopbaan oorgeneem. Hoe was daardie ervaring?
RICHARD: Ek dink ek het begin toneel speel omdat ek geweet het een of ander tyd gaan iemand op die Verhoog vir my vra om musiek óf te skryf, óf te sing. Dit was al die tyd in my agterkop. Toe die musiek nou die oorhand begin kry, ek onthou nog ek en Lochner het ‘n teater show geskryf met die naam van Die Sleutelgat Revue toe was dit ‘n natuurlike uitvloeisel vir my van dit wat ek op ek die verhoog gedoen het en dit was nogsteeds ‘n soort van ‘n kabaret. Dit was woorde en dit was musiek. Daar was toneel en musiek, maar meer musiek. Dit was ‘n natuurlike oorgang vir my. En elke nou en dan dan wil ek maar terug op die verhoog in toneel. Ek het die twee saam gedoen vir ‘n ruk en toe neem die musiek heeltemal oor en dit was baie goed vir my want dit is ‘n ander gehoor en jy leer om ‘n ander gehoor te hanteer. Hoe om met hulle te praat want dit is baie belangrik. Jy wil die gehoor aan jou kant hê en jy doen baie moeite om jou liedjies te verduidelik as dit nodig is. Gelukkig is dit nie baie nodig nie, of jy bied dit so aan en jy het genoeg emosie dat die liedjie vir homself praat. Dit is vir my ‘n baie natuurlike ding wat daar gebeur het en ‘n baie aangename ervaring.
VRAAG: En dan het jy ‘n wonderlike storie oor die eerste keer toe jy Balade vir ‘n Enkeling by die Springs Stadsteater gesing het. Vertel vir ons daai storie.
RICHARD: In die jare van die Sleutelgat Revue wat ek saam Lochner de Kock geskryf het, en wat ons opgevoer het by verskeie plekke in die land. Dit was ‘n groterige konsert, daar was drie of vier ander mense betrokke by. Ons het ‘n pop gehad wat spesiaal gemaak was daarvoor, in elk geval, toe word ek ewe skielik uit die bloute genooi om na die HF Verwoerdteater in Springs te kom optree. Ek dog, o hel, hier is ek nou op my eie, wat gaan ek doen, ek het nog nie een enekel shows op daardie stadium gedoen nie. Ek bel vir Lochner, ek sê kom asseblief saam en dan vat ons ‘n paar liedjies van die Sleutelgat en ons sing dit op die verhoog, en o ja, ek het nog ‘n nuwe liedjie hier met die naam Ballade vir ‘n Enkeling wat toe nou net begin gewild raak het maar ek ken toe nog nie die woorde so goed nie want ek het dit nog nie lewendig op die verhoog gesing nie. Ek vat die woorde saam op ‘n vel papier. Kom by die teater aan en daar staan ‘n vleulklavier op die verhoog. En ek sê onmiddelik, ek gaan Ballade vir ‘n Enkeling op daai vleulklavier speel en dan gaan ek dit sommer van daar af sing ook. Ek gaan sit voor die vleulklavier , woorde mooi netjies voor my op die klavier, op die staandertjie wat deel van die deksel is en toe dit kom by die konsert op die verhoog. Ek gaan sit voor die klavier met ‘n groot gebaar en op daardie oomblik, glip daardie papier met die woorde van Balade vir ‘n Enkeling in ‘n gleuf tussen die deksel en die klavier in. En daar sit ek sonder die woorde vir ‘n Ballade vir ‘n Enkeling. Ek dink daardie woorde lê nou nog erens in daardie lieflike vleulklavier. Ek het die lied gesing gekry , hoe weet ek nie. Ek het nie die woorde opgeneuk nie, so dankie tog ek was daar deur.
