Vreemdelingskap en vervreemding is die deurlopende tema van die Engelse produksies wat vanjaar by Aardklop te sien is. Geen wonder nie dat die stories afspeel binne die magiese realisme waar alles bekend, dog vreemd is nie! En interessant dat al vier produksies ’n verbintenis met die vreemde, maar ook met Afrika het….
Every Year, Every Day, I Am Walking, geregisseer deur Mark Fleischman en geskep en aangebied deur Magnet Theatre, vertel die storie van ’n jong uitgewekene in Afrika wat sy familie en sy huis verloor, maar ook van die menslike vermoë om te genees en ’n sin vir waardigheid en identiteit terug te wen deur die krag van die verbeelding. In Medea Res deur The Paper Body Collective en met regisseur Aja Marneweck is ’n visueel skitterende en roerende hervertelling van die mite van Leto, die godin van die uitgewekenes. In The Famished Road deur die Fresco Theatre Company en met regisseurs Helen Iskander and James Cuningham maak ons kennis met Azaro, ’n geeskind wat in Afrika gebore is. Hy is nie veronderstel om op die aarde te bly nie en word gedurig deur sy geestesvriende teruggelok na die geesteswêreld, maar hy raak lief vir sy ouers en kry ’n manier om op die aarde te bly. Laastens, in Why We Left, geskryf en geregisseer deur Megan Godsell, vertel van die ondervindinge van Jan and Elana wat probeer om vir hulleself ’n nuwe lewe te skep nadat hulle na ’n vreemde land geëmigreer het.
Magiese realisme is die unieke teaterstyl waar alles in die werklikheid begin, maar mettertyd oorbeweeg na ’n droomwêreld, ’n wêreld waar alles groter as die werklikheid word; waar alles waarskynlik, dog nie heeltemal moontlik is nie. Dié styl is kenmerkend in die vier produksies.
Volgens regisseur Mark Fleischmann maak Every Year, Every Day, I Am Walking staat op “eenvoudige fisiese beelde, min maar goedgekose objekte en die emosionele krag van uiters talentvolle akteurs”.
Sterk beelde en verbeeldingryke poppe word gebruik om In Medea Res se storie te vertel. Die gehoor maak kennis met vloeibare karakters en vreemde swerwers wat op die periferie van die samelewing beweeg en droom om huis toe te gaan. The Famished Road, deurtrek met mitologie en wonderwerke, kombineer die strak werklikheid van die werklike lewe met die ryk spritituele wêreld om die gehoor op ’n voortreflike reis te neem. In Why We Left word poësie en dialoog vermeng wanneer die eggo’s van die land wat hulle agterlaat by Jan en Elana spook in die stem van die Bosgees – die gees wat praat in die woorde van Breyten Breytenbach, Ingrid Jonker, Ernst van Heerden en ander.
Every Year, Every Day, I Am Walking het in 2007 by die Grahamstad Nasionale Kunstefees geopen en het vroeër vanjaar in Buenos Aires getoer. Die produksie is veeltalig met Engels en Frans. In Medea Res, wat op pad is om by die wêreldbekende Festival Mondial des Théâtres de Marionnettes in Frankryk en teaters in België op te tree, is ook veeltalig met onder andere Engels en Shona. The Famished Road is gegrond op die Booker-pryswennerroman deur die Nigeriese digter en romanskrywer Ben Okri, wat ’n groot deel van sy lewe in Engeland deurgebring het, en Why We Left handel oor mense wat na Engeland emigreer.
Tog is die stories onlosmaaklik aan Afrika verbind. Every Year, Every Day, I Am Walking handel oor ’n uitgewekene in Afrika, In Medea Res oor ’n mitologiese figuur uit Afrika, The Famished Road oor ’n gees-kind wat in Afrika gebore word en Why We Left oor ’n paartjie wat sukkel om aan te pas nadat hulle Afrika verlaat.
Every Year, Every Day, I Am Walking is geskep en word aangebied deur die fisieke teatergeselskap Magnet Theatre, is geregisseer deur Mark Fleishman met Faniswa Yisa en Jennie Reznek in die rolverdeling. Die oorspronklike musiek is gekomponeer Neo Muyanga en die choreografie is gedoen deur Ina Wichterich. Die stelontwerp is gedoen deur Julia Anastasopoulos en die beligtingsontwerp deur Daniel Galloway. Die produksie is 70 minute lank en speel sonder ’n pouse. Opvoerings is by Central Primary School op 29 Sept. om 20:30, 30 Sept. om 14:30, en 1 Okt. om 09:00. Kaartjies kos R70. Vir meer inligting besoek www.aardklop.co.za of bespreek direk by Computicket.
In Medea Res is vervaardig deur The Paper Body Collective met Rouxnet Brown, Martin Kintu, Awelani Moyo en Andrea van Meygaarden, en regisseur Aja Marneweck. Die produksie is 60 minute lank met geen pouse nie. Opvoering is by Central Primary School op 2 Okt. om 14:30, en 3 Okt. om 09:00. Kaartjies kos R60.
The Famished Road met Sello Sebotsane, Tinah Mnumzana, Themba Ntuli, Labella Dani, Lindiwe Matshikiza, James Cuningham, Alfred Kunutsor en Zoey Lapinske is geskep deur die Fresco Theatre Company en geregisseer deur Helen Iskander en James Cuningham, met Lisa Younger as ontwerper. Dit is ’n ko-produksie tussen Aardklop en die Nasionale Kunstefees van Grahamstad. Die produksie is 85 minute lank sonder ’n pouse. Opvoerings is by Central Primary School op 1 Okt. om 20:30, 2 Okt. om 09:00 en 3 Okt. om 14:30. Kaartjies kos R80. Daar is twee gratis opvoerings by die Govan Mbeki-saal op 29 en 30 Sept om 14:00.
Why We Left is gekryf en geregisseer deur Megan Godsell met Belinda Belseck as Elana, Nicholas Welch as Jan en Megan Reeks en Nidaa Hussein as die twee geeste. Die oorspronklike musiek is gekomponeer en word uitgevoer deur Timothy Harbour. Die produksie is 70 minute lank sonder ’n pouse. Opvoerings is by Central Primary School op 29 Sept. om 11:30, 30 Sept. om 09:00, 2 Okt. om 17:30 en 3 Okt. om 11:30. Kaartjies kos R70.
Die Aardklop Nasionale Kunstefees word van 29 September tot 3 Oktober in Potchefstroom aangebied.
Aardklop 2009