Dit was ´n gebeurtenis wat twee vroue se lewens onherroeplik verander het. In Worcester gaan sit ´n vrou op haar enkelbed. Sy skeur die plastiekomhulsel van ´n tydskrif af en los dan ´gil wat die pleister van die mure afslaat en haar kat aan ´n haarbol laat stik. In Heilbron skree ´n ander vrou haar buurman wakker. Die buurman kom kyk dadelik; geeneen van haar customers het haar al sò passievol oorweldig nie. Hy kry haar op die stoep voor haar flat waar sy besig is om ´n powdery substance van haar minirok af te skud. “Ek gaan vrek,” roep sy, “Moenie naderkom nie. Save yourself.” Haar maskara loop in swart strepe oor haar wange.

Toe die ambulans, brandweer en plaaslike Voortrekkerbeweging opdaag by die hoer van Heilbron se flat, is sy weg. Haar deur staan oop. Die hele gang lê vol kolletjies wit poeier. En op haar bed lê die tydskrif .

Die virgin van Worcester vlug die Karoo in met haar Volksie. Ek wil in vrede sterf, het sy op die papiertjie op haar voordeur geskryf (al weet sy niemand sou dit lees nie). Uit die Vrystaat (wat nie meer so vry voel nie) kom die hoer van Heilbron gejaag met haar Mazda 323 waarvan die wiele wil-wil afval. Sy sweet alklaar en wonder of Antrax so gou vat. Die twee se paaie kruis op ´n stofpad in die vergetelheid. Albei se petrol is teen die tyd op en hulle vlug te voet. “Jy moet van my af wegbly!” skree die virgin toe sy die ander vrou sien aankom. “Ek dra die pes!” “Dit is jy wat ´n draai om my moet loop,” roep die hoer terug. “Ek dink my uur is naby!” “Dit het op my uitgeval,” skree die virgin en kyk na die gefrommelde stuk papier in haar hand. “Die blerrie poeier het op my uitgeval. Vervloek is Amerika! Kan hulle nie hulle pestelensies vir hulleself hou nie?” “Ek voel al hoe my milt dik word in my lyf. My gees is besig om homself los te maak van hierdie aarde af,” sê die hoer en sak op haar knieë in die pad neer. Die virgin strompel nader. Sy kan nie meer verder nie. As hulle dan moet sterf, laat hulle dit saam doen. Niemand wil alleen doodgaan nie. Daar lê hulle toe tot die aand sy koelheid oor hulle kom gooi. En in die stilte wat die aand bring voel die virgin genoop om ´n belofte te maak: “As ek hierdie siekte oorleef, sweer ek gaan ek charity werk doen in Afghanistan. Ek sal ´n vliegtuig huur en kratte vol koeksisters laat val op die verdrukte vroue en kinders.” “En wat as hulle jou vliegtuig afskiet?” “As ek dan moet sterf, dan sterf ek, maar as ek dit oorleef, sal ek seker ´n Taliban seksslaaf word. Dan sal ek ´n man kry wat my toegooi met ´n bloulap en ´n doilie venstertjie sodat ander mans nie my lyf begeer nie. Maar ek hoop dit sal ´n selfmoord bomber wees wat my vat, want ek weet nie of ek dit lank met ´n man sal kan uithou nie.” “Nee, as ek die siekte oorleef, sal ek oorgaan vir die relief effort,” sê die hoer. “Daai Amerikaanse soldate is teen die tyd seker so horny dat hulle sal stoot soos stootskrapers. En ek sal vir hulle relief kan gee .” “Dit moet iets belangriker wees, iets groter,” sê die virgin. “Groter? Oukei, as ek die siekte oorleef, sal ek saam met jou gaan en ek sal plastiek penisse uit die vliegtuig gooi, want elke onderdrukte vrou moet ten minste ´n made in Taiwan plastiek penis hê.” “Of ´n komkommer,” sê ´n onbekende stem naby hulle. Die virgin en die hoer kom stadig regop. ´n Kleurlingvrou dryf soos ´n spook bo die stofpad. In haar hand het sy ´n komkommer wat sy elke nou en dan ´n lek gee. “Aa, no, kak man!” kom daar nog ´n stem by. Die slag is dit ´n effens oorgewig mannetjie met ´n ringetjie by sy oog. “This is bulshit!” skree hy en swaai sy hand in die lug. Hy slinger nog ´n paar banaliteite rond en dan besluit die hoer sy het nou genoeg gehad. Sy druk haar hand voor by haar bra in en haal haar selfoon uit. Oomblikke later kom die boodskap by die skrywer uit. FANIE, SAL JY ASB. HIERDIE MENSE UIT DIE STORIE STEM? N.S. EK WEET JY KAN, WANT JY IS MAGTIGER AS BIG BROTHER 🙂 Meteens roep daar ´n stem uit die hemel: “Could Janine and Brad please come to the diary room?” En poeff! is hulle weg, nou kan die storie aangaan . “Ek dink die mense het kos meer nodig as plastiek speelgoed,” sê die virgin moeg. “Ja, maar kan jy dink watse jeukerigheid het daai vroue tussen hulle tone?” “Tussen hulle tone?” “Ja, hulle groottone .”

So lê hulle die nag en omgesels. Wanneer die oggend uiteindelik kom, lek die hoer oor haar droë lippe. “Ek wou jou nog vra, hoe het dit jou getref?” “´n Blerrie babatydskrif,” sug die virgin. “Ek het nie ´n baba nie, maar dit keer my nie om te lees van hulle nie.” “Same story here,” fluister die hoer. “Wie sou nou kon dink dat hulle baby magazines sal gebruik om mense dood te maak?” “Ek het dit nog hier.” Die virgin maak haar hand oop en ´n gefrommelde stuk papier val op die grond. Die hoer tel dit op en vou dit oop. Sy kyk na die voorblad van die babatydskrif waarop ´n pienk gesiggie onder ´n kombers uitloer. Daar is ´n ruk stilte … en dan begin die hoer lag. “Dan is dit hoe dit is as die doodsengel jou kom haal,” mompel die virgin. Sy was nog nooit by as iemand sterf nie. “Ons gaan leef,” sê die hoer skielik en begin stadig regop staan. “Ons gaan leef!” Sy druk haar hand by haar bra in en haal ´n sigaret uit, steek hom aan en trek ´n diep teug uit sy ekstra lang, mentol lyf. Die virgin frons en dan druk die hoer haar sigaretvinger op die voorblad van die tydskrif waar dit lees: Free baby powder sample included.

– skrywer: Fanie Viljoen

Lewer kommentaar

Leave a Reply