“A living doll everywhere you look.
It can sew, it can cook,
It can talk, talk, talk.
It works, there is nothing wrong with it.
You have a hole, it’s a poultice.
You have an eye, it’s an image.
My boy, it’s your last resort.
Will you marry it, marry it, marry it.”

The Applicant by Sylvia Plath

De Dikkerd. Hy loop met afgemete tred. ‘n Groot donker figuur in die skemer. Hy loop soos ‘n stom dier deur die waterpoele en modderkolle van ‘n namiddag se reënbui. Doen geen moeite om a tree oor ‘n waterpoel te rek, of ‘n modderigheid te systap nie. Hy loop en rook. Teug aan die sigaret in sy pofferige regterhand. Hy kyk voor hom. Die verkeer steur hy hom nie aan nie. Ander voetgangers loop om hom, want hy’s te dikvellig om reg van toegang toe te gee. Of dalk is dit net sy inherente stompsinnigheid. Maar hy loop onverpoos en doelgerig. Elke dag van die week loop hy met die sypad langs, kruis strate, wag vir karre om verby te ry, robots om rooi te slaan en dan met logge swenkbewegings tussen die verkeer deur na ‘n oorkantste sypad te mik. Die kilometer vanaf sy woonstel na die taverne neem hom twintig minute. Genoeg tyd om twee sigarette te rook.

Omtrent klokslag sononder stap hy die taverne binne. Dis sy gereelde drinkplek. As hy instap is die ligte reeds aan en die art nouveau-lampskerms, met rooi en groen loodglasmotiewe, verlig die binnekant net skemerig. Dis soos hy daarvan hou. Die swak beligting sorg vir skaduryke figure en afgeslote ruimtes. Hy kan op sy gereelde plek gaan sit en wegraak. Die plek behoort aan iemand wat kroegbediendes los en vas huur, of wegjaag. Hy vermoed die eienaar is ‘n vrou. ‘n Gesette persoon met ‘n swaar beraamde bril, wat soms, hoewel baie min saans, agter die toonbank inmarsjeer en luid orders gee en klante groet. Maar miskien is sy ook net ‘n werknemer. Sy’t ‘n haakneus tussen twee vet wange soos ‘n Libanees. Hulle’s nogal geneig tot smousery en die dobbelary wat so ‘n ietwat smerige kroegie meebring. Maar dit pla De Dikkerd nie. Hy verkies die anonimiteit van die plek. Dis nie ‘n basaar nie. Die paar regulars wat hy so van sien ken, is geswore stil alkoholiste, wat hul eie geselskap verkies, nes hy. Die res van die drinkers wat daar uitslaan, is toeriste, bar crawlers, of enige iets wat weens obskure redes daar opdaag.

De Dikkerd leun oor die toonbank. ‘n Meisie is agter die toonbank – sy’s nuut daar. Hy kyk mismoedig na haar. Sy’t geen vatplek nie. G’n borste of boude nie. Sy’s die kriewelrige soort. Peuter met die glase, drankbottels, die vadoek, die televisie se afstandbeheer, haar bril, haar neus, haar ore – vee senuweeagtige oor haar hare. Hy wonder hoe sulke mense werk in kroeë kry. Sy kyk op haar horlosie en kyk na hom.

‘’n Castle,” sê hy.

Sy tel die wit vadoek op en vryf dit met haar hande terwyl sy verby hom kyk. Sy buk en knak die yskasdeur onder die toonbank se handvatsel. Die deur swaai oop en sy loer na binne. Dit neem haar ‘n paar sekondes om sy keuse te identifiseer.

“Glas?” vra sy.

“Nee,” sê hy en sit geld op die toonbank.

Sy gee sy kleingeld en skarrel na die anderkantste hoek van die toonbank toe. Vee met die vadoek.

Die kroeg is leeg. Hy stap na die bank in die hoek toe. Dis besonder swak belig daar. Hy steek eers ‘n sigaret op toe hy gesete is. Sluk een, twee, drie  keer van die bier voor hy die bottel neersit. Die TV teen die muur is op ‘n sokkerkanaal. Dis altyd op sokker. Hy gee nie om nie. Hy vind sokker vervelig, maar hy het geen besonderse voorkeure nie. Dis Maandag en daar’s baie replays. Hy glimlag minagtend vir die kaperjolle van die doelskieters. Aansitterigheid laat hom altyd lag. Die toeskouers se fanatieke gesing en vlagwuiwery is nog meer bespotlik. Hy onthou sulke dose uit sy jeug.  Soms het dit ‘n vuisslanery afgegee. Snot en bloed oor ‘n bal skoppery.

Die tyd gaan verby en hy rook en drink bier. Die kroegmeisie blyk gelukkig ‘n pro-aktiewe wese te wees. Telkens as hy opstaan, haal sy ‘n bier uit, sit dit op die toonbank en wag vir hom. Net een van die regulars daag op. Die man is ook ‘n swyger. Maar komieklik soos sy kop in ritme met sy gedagtes knik. Die ou bekyk die kroegmeisie, maar net as sy nie weet nie. Miskien fantaseer hy oor haar. Hy loop weer na twee biere. Gly net van sy stoel af en fokkof.

Dis nege uur. Die kroegmeisie sit op ‘n hoë stoel en sokker kyk. Sy moet desperaat wees, want die spel kan onmoontlik of haar lys van voorkeure wees.

De Dikkerd se oog vang ‘n beweging by die ingang. Dis net ‘n fladdering. Iemand wat inloer en verdwyn, inloer en verdwyn. ‘n Jong vrou in ‘n geblomde rok materialiseer uiteindelik. Te eienaardig. Na die aanvanklike huiwering kom sy haastig binne.  Stop nêrens voor sy uiteindelik in die oorkantste hoek neerplof nie. Hy bekyk haar. Sy’t ‘n klein bruin handsakkie aan ‘n lang band oor haar skouer. Sy hou die handsakkie op haar skoot onder die tafel. Dit gee ‘n gewerskaf af soos sy daarmee besig raak.

“Oe! Aa!” sê sy skrillerig. Sy lag en knip die handsakkie toe.

Die ander twee kyk na haar. De Dikkerd onbeskaamd nuuskierig. Sy lyk nie dronk nie, maar sy is snaaks. Die aankomeling los die handsakkie langs haar sy en leun vooroor op die tafel voor haar. Sy leun terug en kyk na hom.

“Kan ek by jou kom sit?” vra sy. Sy lag toe sy dit sê en kyk stip na hom.

Die kroegmeisie kyk vlugtig om. Sy’t seker nie baie kroeg-ervaring nie.

De Dikkerd haal sy skouers op en kyk spekulerend na haar. Miskien ‘n hoer, dink hy.

“Ja?” sê-vra sy.

Hy haal weer sy skouers op. Definitief ‘n sponger, dink hy. Die handsakkie moet leeg wees. Daar’s iets mallerig aan haar. Die vinnige nerveuse bewegings. Die gilletjies. Hy knik. Sy vlieg op en kom aangestap. Hy ledig sy bierbottel.

“Ek sit net hier,” sê sy toe sy oorkant hom plaasneem.

“Mmm,” brom hy, staan op en stap toonbank toe. Die kroegmeisie haal ‘n bier uit. “Twee,” sê hy. Sy haal nog een uit en kyk na die meisie agter sy rug en glimlag, miskien oor wat in haar gedagtes is, of dalk het sy nuwe vriendin haar gegroet, of iets.

“Ek drink nie bier nie,” sê die meisie toe hy die twee bottels tussen hulle op die tafel neersit. Hy gaan sit en stoot die een bottel bier oor na haar toe. Sy trek haar asem in en lag. Steek ‘n hand uit en trek die aangebode bottel nader.

Sy’s ‘n klein Afrikaan. Donker met oë wat ondersoekend na hom kyk. Sy’s skraal en die geblomde rok verberg ook nie veel nie.

Hy steek ‘n sigaret op. Sy steek ‘n hand uit en gryp die pakkie. Sy’s koorsagtig en grawe en vervat in die pakkie voor sy ‘n sigaret neem en die pakkie weer voor hom neerplak. Stilswyend sit hy die aansteker voor haar neer. Blou rook hang tussen hulle. Sy draai skielik skuins, asof sy wil opstaan en draai weer terug.

De Dikkerd wonder oor haar. Sy’s snaaks. Getik. Hulle drink bier in stilte. Hulle oë ontmoet af en toe, dan glimlag sy en lag soms. Die mallerige situasie duur voort. Sy drink twee biere saam met hom, toe’s daar ‘n verwikkeling.

“Sal jy met my trou?” vra sy en sit ‘n skraal bruin hand oor die hand waarmee hy nie rook nie.

Hy is verras en grinnik.

“Ons kan nou trou,” sê sy en verstewig haar greep op sy hand. “Nou …” Sy reik met die ander hand oor en neem sy linkerhand in beide hare.

“Nee,” sê hy. Dis die onnoselste ding wat hy nog gehoor het. ‘n Vrou wat so man soek! Sy moet ernstig getik wees. Uit die bloute leun sy vooroor en soen hom. Sy stut haar met haar arms op die tafel en soen hom twee keer. Hy antwoord die tweede soen.

“Ek weet van ‘n plek waar ons nou kan gaan en trou,”  sê sy.

“Nee,” sê De Dikkerd. “Drink jou bier.” Maar hy is nou baie bewus van haar. Wakker, kan jy sê. Die handhouery begin weer en hy druk haar hand. Uit die hoek van sy oog sien hy dat die kroegmeisie hulle dophou. Die meisie volg sy blik en kyk vlugtig om. Daarna glip sy van haar sitplek af en skuif langs hom in. Hy sit sy arm om haar en voel haar ribbebene. Sy’s maer. Haar gesig is opgelig na hom.

“Drink jou bier, dis amper looptyd,” sê hy.

Stilte. Hulle drink bier en rook. Maar hy’t geen voornemens nie. Hy’s ernstig om haar agter te los. Hy wil nie kak hê met so ‘n vreemde wese nie. Hy’t al stelle met vroumense afgetrap. Hulle’s gewoonlik emosionele wrakke. Die ergste is die trane en verwyte na die aksie. Dus ledig hy sy bier.

“Ek gaan nou,” sê hy.

“Ek ook,” sê sy.

“Ek gaan alleen,” sê hy. Die trouery van haar spoor hom aan. Dis nie dat hy nie in haar belangstel nie. Hy’s geïnteresseerd, maar op sy hoede. Die situasie is te weird. Hy stamp met een dy teen haar. Gehoorsaam staan sy op en wag dat hy uitskuif en ook opstaan.

Amper asof afgespreek, stap hulle saam na die deur toe. Die kroegmeisie glimlag. Sy dink sy weet wat aangaan.

De Dikkerd stap voor. Op die sypaadjie stop hy. Soos ‘n skaduwee glip die meisie verby hom en dartel weg oor die pad. Hy kyk haar agterna. Sy kyk nie om nie. Hy’s oorbluf. ‘n Bedelaar duik langs hom op.

“Gee ‘n ietsie vir die honger,” sê die voëlverskrikker.

De Dikkerd fokus op hom en sy vodde. Die bedelaar se vrypostigheid irriteer hom. Hy trek ‘n arm terug en stamp die man teen die skouer sodat hy effens struikel.

“Jou ma se moer!” sê die bedelaar in die wegstap, maar stop dan vir besigheid by ‘n vullisdrom, waarin hy raserig rondkrap.

De Dikkerd bekyk hom eers en vestig dan weer sy aandag op die kol oorkant die straat waaruit die meisie verdwyn het. Hy staar nog ‘n paar oomblikke en stap dan met die besige sypaadjie langs. Die straat wemel van motors en opgewonde partytjiegangers, komende en steeds op pad na brasserye toe. Sy groot lyf en oudmodiese klere teken hom af teen die nagverkeer. Hy staan uit. Soms skree verbygangers opmerkings na hom en lag  histeries. Ander volstaan met afkeurende kyke. Hy’s min gepla. Maar nou’s daar ‘n gedrang vorentoe. Mense wat saamdrom en in die lug opkyk. Hy frons, iemand is seker besig om kak te maak, dink hy. Hy stap voort na die gebeurtenis toe.

“Jump!” hoor hy iemand skree. Ander lag. Iemand skree: ”Oh, my God!” almal kyk teen ‘n drieverdiepinggebou op. Die verdiepings is betrek deur ‘n gewilde nagklub. Die plek se naam is net die 407. Die 407 se verdiepings is verlig en musiek dreun deur die oop vensters.

“Jump!” skree iemand weer.

De Dikkerd kyk in die nag op. Die meisie wat met hom wou trou staan op die lysie aan die buitekant van die veranda op die derde verdieping. Sy leun vooroor, maar een hand klou aan die rand van die heuphoogte muurtjie agter haar vas. Die pante van haar wit geblomde rok vou en val ligweg in die effense luggie om haar skraal bene.

“Climb back!” skree een uit haar gehoor.

Sy kyk oor die straat heen. Asof sy in die naglug na uitkoms soek. ‘n Empatieke siel. ‘n Vrou met ‘n groot wit handsak oor die skouer dink daaraan om te vra: ”Does anybody here know her?”

De Dikkerd het gestop en staar wesenloos na die derde verdieping. Hy hoor die vraag en kyk na die vrou. Fok dit, dink hy. Ek raak nie verder betrokke nie. In elk geval is daar nou heelwat mense op die veranda agter haar, wat met  haar praat. Enige iemand kan net vooroor leun en die verspotte meisie se arm gryp.

“Does anybody here know her?” vra die vrou weer. Almal in die gehoor babbel maar antwoord haar nie. De Dikkerd kyk af in haar oë.

“You, sir?”

Hy skud sy kop. Daar’s gille. Die meisie val. Sy tref ‘n ry ornamentele pale wat op die tweede verdieping in die muur ingemessel is. Wip effens in die lug op, voor sy verder val. De Dikkerd skrik. Steek outomaties ‘n hand uit asof hy haar val wil stop. Histeriese gille. Die meisie tref die plaveisel met ‘n klapgeluid soos van ‘n droë tak wat breek. Sy grawe met een hand oor die keistene. Dan’s sy stil. ‘n  Algemene geskokte en verdwaasde stilte volg. Die vrou met die wit handsak kniel by haar. De Dikkerd vee oor sy oë. Haal meganies sy sigarette uit. Die mense in die gehoor buig vorentoe uit ‘n morbiede belangstelling. Nog mense kom aangehardloop. Hy steek die sigaret op en begin loop.

Voor sy geestesoog sien hy haar val. Hy loop vinnig. Dis half elf toe hy die portaal van die woontelblok waar hy bly instap. Hy neem die trappe na die eerste verdieping toe. Sy swaar voetstappe klink hol op die verweerde houttrappe. Die meeste mense in die woonstelblok slaap al  teen kwart voor elf op ‘n Maandagnag. Hy bly in 103. Sluit die deur oop en sien toe eers die velletjie papier grond toe dwarrel. Buk en tel dit op. Dis ‘n nota van die concierge: ”Your rent is due…” Dankie vir u samewerking. Hy frommel die nota op. Lastige oukêrel, dink hy. Hy ontklee en kruip in. Vir ‘n minuut of twee lê hy in die bed en staar na die plafon, met die bedliggie aan. Dan wikkel hy ‘n arm tussen die lakens uit en sit die lig af. Stilte heers. Hy dink aan die getikte meisie. “Trou  met my,” sê hy hardop in die donker. Stilte. Die vaak oorkom hom. Hy dut in. Snork.

Lewer kommentaar

Leave a Reply