deur Ferdi Wheeler
Dagbreek. Hy ry die perd bloots en stuur hom met die teuels algaande teen die heuwel uit. Die heuwel waarop die ruiter hom bevind, is deel van die Witteberge, die voetheuwels van die Drakensberge, in die omgewing van Ladybrand.
Die ruiter is veertien jaar oud. Maar hy’s ‘n bedrewe ruiter wat al kon perdry, nog amper voor hy kon loop. Die Mausergeweer wat aan ‘n geweerband diagonaal oor sy skouer en rug geslinger is, stamp ongemaklik teen sy lyf, terwyl die perd hom oor die ruwe terrein dra. ‘n Knapsak met patrone, water en ‘n halwe brood, asook ‘n vêrkykertas, dra hy ook aan bande oor sy rug. Die vêrkykertas bevat ‘n Zeis-verkyker, wat Boerekrygers na ‘n aanval op ‘n Britse konvooi gebuit het. Die embleem van die Scottish Dragoon Guards is op die tas gebosseleer.
Dis Januarie 1902 – en net die Bittereinderboere is nog in die veld. Maar die seun is nie op kommando nie. Daar’s baie krygers van sy ouderdom op kommando, maar hy is deel van ‘n vrouelaer, waar hy die werk van ‘n man doen. Sy belangrikste taak is om te keer dat die vroue en kinders van die laer nie ‘n Britse patrollie ten prooi val nie.
Dis waar dat die Britte die jag en internering van vroue en kinders in die veld gestaak het, maar hulle is weerloos teen Britse patrollies wat hulle gereeld op die lyf loop. Baie van die Britse soldate het ‘n menslike sy, maar net soveel haat die Boerebevolking met ‘n passie. Jy weet dus nooit wanneer jy jou in ‘n Britse patrollie met wrede bedoelings, aanrandings en rowery, vasloop nie.
Die perd snork en proes, bo-op die rug van die heuwel. Hy moor die dier nie verder nie, spring af, kniehalter hom en laat hom wei. Elke nuwe dag neem hy op die heuwel posisie in onder ‘n olienhoutboom, wat skadu en skuiling bied. Dis meeste van die tyd ‘n vervelige taak, maar in die twee jaar saam met die vrouelaer, wat in ‘n kom agter die heuwel uitgespan is, het hy al saam met hulle benoude en baie treurige episodes beleef. En baie kere was dit wanneer die laer verras is.
Nou sit hy die geweer en die knapsak onder die boom neer. Hy haal die verkyker uit en gaan sit met sy rug teen die boomstam. Vanaf die heuwel het hy ‘n breë uitsig oor die landskap, waardeur ook die pad tussen Ladybrand en Ficksburg loop.
Ironies genoeg is hy nie baie oor Britse konvooie en kolonnes bekommerd nie. Die afgelope maande, oortuig dat die oorlog so te sê verby is, hou die Britte by die gebaande paaie en dwaal baie selde tussen die verwoeste plase in. Nee, hy’s besorg oor spioene.
Boere en Basoetoes, wat by die Britse magte aangesluit het, is ‘n vloek op die Bittereinders en die vrouelaers. Nes die Boerekrygers, is die spioene veldmense. Hulle is ook bedrywig in die distrikte waar hulle grootgeword het en wat hulle grondiglik ken. Jy moet dus baie oplettend op jou pos wees. Andersins is jy die een wat dopgehou en terug na die laer agtervolg word.
Daar is nog Britse eenhede wat op die Bittereinders jag maak. Dis veral twee eenhede scouts, wat uit Boere en Basoetoes bestaan, wat aktief is. Hul basisse is op Kroonstad en Bethlehem, maar hulle onderneem sorties na die Oos-Vrystaatse bergwêreld toe. Gelei deur die spioene, verras en bots die twee eenhede gereeld met afdelings Boerekrygers.
Die scouts is nie net gehaat omdat hulle as verraaiers beskou word nie, maar ook omdat hulle ‘n reputasie vir wreedheid het. Die Boeregeneraals, De Wet,
De La Rey en andere, het reeds voorleggings oor hierdie twee eenhede gemaak, maar met min positiewe reaksie van die Britse bevelvoerders. Die rede hiervoor is eenvoudig: jy moenie ‘n oorlog verloor nie.
Die jong penkop op wag se naam is Sewes Viljoen. Die oorlewingstryd, wat die oorlog en die lewe in die oopte saam met vroue en kinders meebring, het hom ‘n veteraan gemaak. Die bergwêreld waarin hy hom nou bevind, is sy tuiste. Sy ouers se plaas is, soos die kraai vlieg, maar ‘n twintig of so kilometer ver.
Die uitkykpos, wat hy nou al vir ‘n paar weke beman, kyk wes. Dis die rigting waaruit die gevaar kan kom, want Ladybrand is die naaste Britse pos aan die vrouelaer. Die laer lê in ‘n kom met ‘n heuwel in die vorm van ‘n hoefyster wat dit moeilik maak om die laer vanuit die ooste sommer op te merk. Maar ook daar word daagliks wagte uitgesit.
Die tyd gaan verby. Die son styg hoër die lig in. Die brandwag eet van die brood en bestudeer die landskap. Teen tienuur merk hy ‘n beweging. Dis ‘n eensame ruiter met pakperd en al. Hy rig die verkyker op hom vir ‘n geruime tyd. So ‘n solo-tog is vreemd. Spioene werk gewoonlik in groepe van drie of vier. In klein groepe het jy ten minste iemand om jou rug dop te hou. Maar die ruiter is nog te ver om met sekerheid te sê of hy Boer of Brit is. Daarom laat sak hy die verkyker en wag. Hy kan die ruiter nou met die blote oog sien.
‘n Halfuur later bekyk hy hom weer deur die verkyker. Die man se kleredrag is Britse uniform. Dit sê egter niks nie. Op daardie stadium dra die hele oorblywende Boeremag omtrent gebuite Britse uniforms. Wat hom wel suspisieus maak, is die perde. Die meeste perde van die Boere is voos gery, maar deur die verkyker is dit duidelik dat die diere in goeie kondisie is. Té goeie kondisie. Dit sê een ding: ruiter en perde is nie swerwers nie. Hulle kom klaarblyklik van Ladybrand af.
Daar’s nog nie rede om alarm te maak nie, solank hy net die vreemdeling in die oog kan hou. Hulle kom al met die droë loop van ‘n spruit langs aangekruie. Die spruit ontspring in ‘n nek tussen twee skotige heuwels. Halfpad tussen die brandwag en die ruitergroep, swenk die droë loop byna 90 grade die nek in en die ruiter bly dit volg, Die prosessie klim teen die voet van die linkerkantse heuwel uit, tot waar ‘n krans die weg versper. Daar saal hy af.
Nog vir ‘n uur of so bekyk Sewes die man se gewerskaf. Hy is klaarblyklik besig om nes te skop vir die dag. Dit is wat ‘n spioen sal doen, want die soort opereer snags. Noudat dit duidelik is, laat dit Sewes met die vraag: wat staan my te doen? Dis eintlik ‘n retoriese vraag onder die omstandighede. Hy’t reeds besluit om die spioen aan te vat.
Hy moet te perd agter om die regterkantse heuwel ry, die perd agter die nek tussen die twee heuwels los, en dan met die loop van die spruit langs sluip. Daar’s genoeg bosse tussen die spruit en die krans, waardeur hy die man ongesiens kan bekruip.
Die man stap met sy rug na Sewes toe die bosse in. Sewes raap sy goed bymekaar en draf gebukkend na die perd toe. Minute later sak hy met sy perd aan die anderkant van die heuwel, waarop hy hom bevind, af.
Alles verloop volgens plan. ‘n Uur later draf hy sluipend uit die spruit die bosse langs die krans in. Hy is omtrent vyftig meter weg van die man se uitkampplek. Hy durf nie regop loop nie. Hy seil nou op sy maag vorentoe. Dis al na een en die dag is op sy warmste en sweet brand in sy oë. Dis nog twee meter van die rand van die beboste gebied, voor mens skielik in die oopte is, waar die man uitkamp. Hy stop en rus met sy kop op sy hande en luister, maar dis stil en dit maak hom onrustig, omdat hy die kêrel se posisie nie kan bepaal nie. Hy hys hom met sy elmboë vorentoe tot hy heel aan die randjie van die beboste gebied is en nie verder durf gaan nie. Hy haal die Mauser oor en druk die kolf teen sy skouer. Hy wag vir die man om terug die kampplek in te stap.
“As jy daai Mauser in my rigting swaai, is jy dood,” hoor hy meteens ‘n harde stem agter hom sê. “Laat dit stadig op die grond neer en rol weg.”
Sewes doen so. Met die wegrolslag, land hy op sy sy en kry hy die spioen in die oog. Hy staar stom van verbasing na die bekende gesig. Dis Jan-Hendrik Sluys van sy ouers se buurplaas in die Ladybrand distrik.
“Viljoentjie,” sê Jan-Hendrik. “Jou pisvoete! Gedink jy kan my soos ‘n tarentaal hier kom pot né?
“Nee,” kwaak Sewes.
“Ja. Ek’s nie onnosel nie. Jy’s te groot vir jou skoene, seun,” sê Jan-Hendrik terwyl hy behoedsaam naderstap. “Waar’s jou makkers? Toe praat!”
“Ek’s alleen.”
“Lieg vir my en jy’s dood,” sê Jan-Hendrik en hy’s nou net ‘n tree weg van Sewes. Die volgende oomblik haak hy af en skop die penkop met sy swaar rystewel met volle geweld in die maag.
Pyn ontplof deur Sewes se hele wese en daarmee saam forseer die geweld van die skop al die lug uit sy longe. Winduit brul hy in ‘n lae stem en smag na asem. Jan-Hendrik skop hom weer, maar mis sy maag en tref hom net vol in die ribbes, met die gevolg dat ‘n nog feller pyn deur Sewes sy liggaam skok.
“Dis beter, nou weet jy wie’s baas né,” sê Jan-Hendrik. Hy buk en gryp Sewes aan die een voet, maar die uitgetrapte velskoen kom los en hy gooi dit ergerlik die bosse in. Nou gryp hy Sewes aan die kaalvoet en sleep hom die kampplek in, tot by ‘n boomstomp, waar hy laat los en vir ‘n oomblik na die angstige penkop kyk. ‘n Kampvuur brand reeds so ‘n twee meter van die stomp af.
“Jy moet nou baie versigtig wees. Enige truuks en ek stuur jou bokveld toe, Viljoentjie. Lê net hier en moenie roer nie. As jy jou gedra, vat ek jou more terug dorp toe, dan kan jy sien hoe die res van julle armblankes in die tronk lyk.”
Sewes antwoord nie, maar oorwin is hy ook nog lank nie. Hy gedra hom egter, want hy wil nie verder slae hê nie. Die boomstomp by die kampplek is ‘n goeie tien meter lank en Jan-Hendrik sit sy geweer op die vêrste punt van waar Sewes lê, teen die stomp neer.
Die perde is aan die anderkant van die stomp met hul teuels aan ‘n kareeboom vasgemaak. Jan-Hendrik draai sy rug op Sewes en begin die buikgord van sy ryperd losmaak.
Vuilgoed! Verraaier! Dink Sewes. Terselfdertyd meet hy die afstand na die geweer toe met die oog. Hy wag nie. Seer lyf, of te nie, spring hy soos ‘n kat op en nael die tien meter na die geweer toe. Halfpad soontoe, begin Jan-Hendrik omdraai. Maar Sewes maak dit. Hy gryp die geweer, maar nou’s dit Jan-Hendrik se beurt om soos ‘n kat te reageer. Hy vlieg om en sit die retererende Sewes agterna. Sewes bid dat die geweer gelaai is, maar Jan-Hendrik is reeds op hom en gryp na die loop. Sewes trek die sneller en skiet Jan-Hendrik se linker duim af.
“Eina, Jirre Jesus!” Gil Jan-Hendrik. Bloed spuit by die duim stompie uit en oor sy hemp. Sy gesig is vertrek van pyn. Hy gryp die beseerde hand met sy regterhand vas en druk sy hande tussen sy bene in. Die kakiebroek is nou bruin van die bloed. “Eina, eina, eina!” prewel Jan-Hendrik, terwyl hy agteruit loop, struikel en toe voluit met sy rug op die kampvuur val. “Aaaargh!” gil hy lank en luid en rol van die vuur af, sodat hy hy hande-viervoet te lande kom. Die rook draai uit die rugkant van sy hemp uit, maar die materiaal het nie vlam gevat nie.
Sewes staan versteen na Jan-Hendrik en kyk. Hy ken Jan-Hendrik vandat hy sy verstand het. Hy ken Jan-Hendrik se ma, antie Poppie. Hy ken die hele Sluysfamilie. ‘n Verterende skuldgevoel pak hom beet. Nogtans hou hy die geweer op Jan-Hendrik gerig.
Jan-Hendrik staan tellings lank so hande-viervoet. Hy ly aan skok en die pyn is oorweldigend. Maar hy kyk op na Sewes. Sy gesig is vertrek van haat. “Jou bliksem!” sê hy. Sy gesonde regterhand tas langs sy regtersy langs en hy trek die Bowie mes wat hy saamdra uit sy skede uit. Die twintig sentimeter lem glim in die sonlig.
Sewes gee ‘n tree terug.
“Jy sal my nie skiet nie, jou fool,” sê Jan-Hendrik. Hy sukkel orent. “Jy’t nie die moed nie. Jou verdomde luis.” Hy kan nie heeltemal regop staan nie, want die pyn trek hom inmekaar, maar so gebukkend begin hy in Sewes se rigting skuifel.
“Moenie,” sê Sewes sag.
“Moenie wat nie? Ek gaan jou keel afsny.”
“Ek gaan skiet.”
“Jy sal nie. Jy’s net ‘n laaitie.”
Nieteenstaande die pyn, gee Jan-Hendirk meteens twee groot treë tot voor Sewes en tegelykertyd swaai hy die Bowiemes in ‘n boog na Sewes se bors. Sewes skiet weer. Die koeël tref Jan-Hendrik regs van die borsbeen, versplinter ‘n rib, ontplof deur die hart en bars deur die liggaam agter by die rug uit tot in die stof. Hy is onmiddelik dood en val met ‘n doef in die stof op sy rug. Sewes hou nog die geweer gereed. Vir maklik vyf minute staan hy so en kyk na Jan-Hendrik se lyk. Dan laat sak hy die geweerloop stadig. Sy hele liggaam begin ruk van die emosionele skok. Die geweer val uit sy hande uit op die grond. Hyself sak op sy knieë neer. Hy weet net hy het ‘n verskriklike ding gedoen. Sy hele gesig vertrek en hy begin hewig huil terwyl hy rou tjankgeluide maak.
So goed! Bring soveel van die oorlog se swaarkry en verraai terug. Baie geniet.
Goed geskryf..baie realisties