Die Eksperiment

Pieter Meyer stoot die deur van die spreekkamer toe, draai om en bekyk die vertrek. Dit lyk koud en afsydig, asof dit iemand anders s’n is. So, dis waartoe dit gekom het, al die jare se swoeg en sweet. ‘n Kamer waar mense heen kom om gehelp te word. Gehelp met wat? Erger nog, deur wie nou eintlik? Hy bedink die sessie vlugtig, maar haak onwillekeurig vas by die laaste deel van die gesprek:

"Niks eindig ooit regtig nie. Daarom moet ons so versigtig wees."
"Hoe so?"
"Die geleerdes sê so, in die boek waarvan ek vertel het. In ‘n uitbreidende heelal gaan dinge net aan en aan, en van iewers in die heelal kan mens dit altyd weer sien. soos ‘n ster se lig wat ons eers na jare bereik."

Hy het die gesprek in ‘n ander rigting gestuur; homself oortuig dat daar terapeutiese redes daarvoor is, maar mettertyd agtergekom dat hy nie net yskoud geword het van die man se woorde nie, maar dit ook nie kon vergeet nie.

"Niks eindig regtig nie"
"Ekskuus tog, doktor". Hy kyk op en sien sy sekretaresse in die deur staan.
"U onthou die afspraak van Gerda Louw wat u verlede week na vanmiddag geskuif het? Sy sit reeds hier voor."
"So vyf minute, asseblief."
"Seker, doktor."

Gerda Louw. Die een mens by wie hy altyd na elke sessie, en as hy eerlik moes wees, iets geleer het. Sterrekundige, diep denker; so het hy haar leer ken uit hulle sessies. Met ‘n verhandeling oor kleurspektraal-analises van die leegruimte tussen ‘n sterwende ster en ‘n ys-dwerg bekend as ‘Proxima Lima’. Hy het nog spesiaal vir haar die titel gevra, omdat hyself ook ‘n belangstelling in die Astronomie het. Hy onthou nog hulle vorige gesprek:

"Moet mens iets kreatief doen as jy weet dit gaan nie na jou dood veroorsaak dat jy onthou word nie? Is dit dan nie beter om liewer niks te doen nie?"

Haar vraag het hom ontstel, en laat hom dink aan iets uit ‘n ou inleiding tot die Filosofie: Hoekom is daar iets en nie liewer niks nie? Hy kan nie sy antwoord onthou nie, maar wat hy gedink het wel: Ek weet nie. Ek dink nie meer oor die goed nie" Hy het reeds toe al besef dat hierdie antwoord aan homself nie net geen oortuiging bevat nie, maar ook van slapheid getuig, en daarmee saam dat hy bang begin word het, vir homself ook, soos hulle sessies gevorder het – miskien is ongemaklik ‘n beter beskrywing. Pieter staan op, maak die deur oop en groet Gerda Louw waar sy sit en deur ‘n tydskrif blaai.

"Stap jy saam?"
"Ja dankie."

Hy wou al lankal vir haar sê dat die titel nie nodig is nie, maar het besluit om dit professioneel te hou. Die feit dat iemand met haar intellek en persoonlikheid hier kom aanklop het, is vir hom tegelyk ‘n eienaardigheid en ‘n bewys dat sertifikate teen mure nie enige iets bewys nie. Dikwels is dit bloot net gesofistikeerde maskers.

"Sit. Iets om te drink?"
"Nee, dankie. Ek het neergesit net voor ek weg is."
"Ek glo ons is na vanmiddag klaar wat die sessies betref, ten minste volgens my. Ek het jou perspektief probeer gee, en die sukses al dan nie daarvan kan slegs jy bepaal."
"Wie is die man wat so pas hier uit is. Hy lyk bekend."
"Ek mag nie, Gerda. Etiek, jy weet."
"Ja, maar daar is iets aan die man; amper iets ontstellend."
"Sal jy belangstel om my te help met ‘n eksperiment?"
"Wat se eksperiment?"

Hy staan op, stap na die lessenaar en bestel koffie vir homself.

"Seker jy wil niks hê nie?"
"Nee dankie."

Hy het homself hierdie oomblik al baie voorgestel; hoe dit sou wees. Om iewers rustig hierdie saak tot op die been oop te krap, het noodsaaklik geword.

"Kom ek vra jou so. Wat as ek sê dat hierdie eksperiment van lewensbelang vir ons altwee is. Moontlik moet ek eers vra wat jy hierdie komende langnaweek doen – sal dit ‘n probleem wees as jy uitstedig is?"

Die vroulike waaksaamheid is duidelik op haar gesig, maar diegene wat die intellek hulle stokperdjie gemaak het, bly maar nuuskierig, so weet hy al.

"Ek weet nog nie. Wat behels die eksperiment?"
"Ek wil bepaal of iets ooit regtig eindig. Ja, moenie so geskok lyk nie. Ek sal jou nou die agtergrond gee. Stel jy belang?"
"Sê my, wat maak die antwoord op hierdie vraag lewensbelangrik?"

Hy was bang hiervoor; dat die koue rasionaliteit reeds hier vroeg ‘n verskyning sou maak. Maar nou is daar geen keer meer nie. Die verduideliking moet volg, en sal bepalend wees vir alles hierna.

"Ek wonder al lank hieroor, maar die man wat nou net hier uit is het dit blykbaar iewers raakgelees. Die implikasies hiervan, om net die etiek te neem, is ongelooflik. Dit sou beteken dat mooi en goed, lelik en sleg nooit verby is nie."
"Die eksperiment."
"Het nie ‘n uitkomste nie, net ‘n moontlike een. Ek wil hê ons moet hierdie komende naweek iets gaan doen, en kyk wat gebeur."

Sy bly hom aankyk, effens geamuseerd en met ‘n gelaat wat wag dat hy spesifiek moet wees.

"Die uitbreidende heelal. ‘n Ster se lig neem ‘n aantal jare om die aarde te bereik. So ons sien iets wat eintlik al lankal verby is. En dit trek verder. Geld dit nie ook vir wat ons doen en wat met ons gebeur nie? Iewers moet iets of iemand, in beginsel, kan staan en toekyk. Alles sien, al is dit vir ons verby. En uiteindelik bepaal dit ons lot, lank nadat ons nie meer daar is nie."

Sy begin glimlag. "En?"

"Niemand weet wat wag vir ons na die dood nie. Moontlik is daar tog ‘n kans dat mens sal kan uitvind of jy reg is. So gesien sal mens altyd onthou word vir wat jy gedoen het of wat met jou gebeur het. Dit spreek jou vraag in ons vorige gesels aan."
"Nou wat beplan jy vir hierdie langnaweek?"
"Ons gaan weg uit die stad, en besluit wat ons gaan doen. Doelbewus gaan doen. En moontlik sien ons, of iemand anders aan die ander kant van die heelal eendag die effek daarvan."
"Is daar iemand anders in die heelal?"
"Ons aanvaar dat daar is."
"En as dit nie werk nie, wat het die naweek ons gebaat?"
"Dit kan nie anders as om te werk nie; nie as jy sovêr saamstem nie."

Pieter het die gevoel dat dit moet lyk na ‘n swak poging om ‘n metgesel vir die naweek op te tel.

"Wat moet ons gaan doen?"
"Ek het ‘n idee."
"Ek luister."

Hy is ‘n amateur filosoof, maar het hom nooit regtig oor die fatsoenlike filosofiese strydpunte bekommer nie. Daar is belangriker temas as die van die akademiese ‘Filosofoloë’. Filosowe doen ander goed. Soos nou: dat niks ooit eindig nie. Hy, wat homself altyd heimlik geprys het oor insig in goed, verstaan daagliks al minder. Hy skrik toe die lugwaardin vra wat hy wil eet.

"Niks, dankie."

Mens kan nie eet en helder dink nie. En dink is nou krities. Hy kyk na haar in die sitplek langs hom. Sy slaap. Hy was oortuig dat sy met hom spot toe sy die aanbod aanvaar om saam te kom. En dit nadat hy gesê het hy wil in Egipte die eksperiment gaan doen. In Egipte, waar die hele plek die muwwerige gees van die oudheid adem. Dit het hy op alle vorige besoeke meer intens ervaar. Buitendien, hy het ‘n wegbreek nodig, en volgens haar wou sy nog altyd die deel van die wêreld sien. Hy sal die nabyheid kan hanteer: hegte assosiasies tussen mense is in elk geval blote versinsels, en as jy een kry wat kwaliteitsgewys verder strek as wat gewoonlik moontlik is, hou jy daaraan vas. Daar is genoeg ellende.

Vroeër gedurende die vlug en voor sy aan die slaap geraak het, het hulle gesels oor hulle jeugdae. Hare was voorspelbaar en voorstedelik. Sy was slimmer as haar maats was. Syne ook. Tot hulle oor sy unieke stokperdjie as jongman gepraat het, toe hy nog intens in mense se doen en late belanggestel het. Hy het indruk-literatuur versamel. Hy het sy dae in biblioteke deurgebring. Nie om noodwendig te lees nie, maar om te kyk wat op die buiteblad van boeke staan. Gewoonlik gebeur dit dat mense boeke gebruik as ‘n oppervlak om persoonlike briewe te skryf of dokumente in te vul. As hulle hard genoeg gedruk het, of die omslag sag genoeg was, kon jy, deur die boek teen die lig te hou en fyn te kyk, sien wat aangaan in die lewe van ‘n persoon wat voor jou die boek gehad het. Hy het later besef dit het al in die skool begin; by bendes en vry-briefies.

"Dis die snaakste stokperdjie waarvan ek weet! Is jy seker jy is OK?"
"Ek hoop so. En jy? Jy sit immers hier saam met my op ‘n vliegtuig halfpad om die aarde?"
"Miskien gaan ek nog spyt wees," spot sy terug.
"En dalk nie. Dis op daardie deel wat jy moet konsentreer."

Die ete wat in elk geval voor hulle neergesit is, was te warm en met min sorg voorberei. Die taxi het die bekende dubbelbaan roete gevolg in die rigting van die middestad en die Nyl. Hulle hotel is iewers in die weste van die stad, op die regteroewer van die Nyl, as jy noord sou kyk, nie te ver van die Giza-plato af nie. Hulle het hulle verkyk aan die chaotiese verkeer, die toeriste polisie in hulle wit uniforms en die atmosfeer van ‘n antieke stad wat glorieryk was en nou net so toegelaat is om te verval, aan hulle lywe gevoel en dit geruik. ‘n Verval en verwaarlosing wat jy eers mettertyd agterkom, net so vol mistiek as die eeue wat hier verby is, het stadigaan merkbaar geword. Sommige goed eindig dalk regtig nie, dink hy toe die taxi voor die hotel se deur stop en ‘n portier naderstaan om met die bagasie te help.

Die voorportaal is besig. Toeriste staan in groepe rond, gereed om die een of ander antieke wonder te gaan besigtig, en wag op hulle toerleier. Plek-plek stap mense sonder veel entoesiasme – besigheidsmense wat al honderde kere hier was en dit soos enige ander stad beleef – vuil, te veel motors, besoedelde lug en vol lee oë. Al waarna hulle waarskynlik uitsien, is om klaar te kry met hulle besigheid en hier pad te gee, om die volgende vervalle, koue hotel te betrek.

Hulle kamers is op dieselfde vloer, met ‘n uitsig oor die Nyl. Hulle spreek af om mekaar teen middagete in die voorportaal te ontmoed, te gaan eet en dan hulle plan van aksie verder te bespreek. Vir Gerda was hy steeds baie geheimsinnig oor presies wat hulle sou moes doen, maar sy het hom vertrou; immers, sy het die afgelope jaar sessies by hom gehad en kan seker darem oordeel of hy iets sou doen wat sy nie wou nie. Sy wou nog altyd hier wees, en die kans was nou daar om dit te doen en in die proses dalk iets te leer. Sy het ook die wegkom nodig gehad, en wie beter as saam met die een mens met wie sy haar vrae die afgelope jaar kon bespreek – ‘n sielkundige wat eintlik met die Sielkunde verveeld geraak het en nou meer terapie deur Filosofie as iets anders beoefen het. ‘n Gespreksgenoot, by wie sy tuis gevoel het. Moontlik kon die besoek ‘n nuwe perspektief bied op goed, en buitendien, sy was nuuskierig oor wat hy wou doen.

"Ek wil in die ou deel van die stad uitkom. Voor dit moet ek eers by ‘n handelaar aangaan om iets af te haal. Ons kan dit wat ek wil doen vanaand of vroeg more oggend doen as jy nog moeg is."

"Kom ons doen dit môre. Dan kan ons vanaand goed uitrus. Ek wil darem die museum en die piramides sien voor ons terugaan, en iets van die stad. Dis ‘n belewenis om uiteindelik hier te wees. Jammer ons het so min tyd. Mag ek nog nie weet wat ons gaan doen nie?"

"Nee, ek sê niks nie. Dalk dink jy in elk geval dis simpel, maar darem het jy die land en stad gesien op die koop toe. Ek kry die rekening. As jy wil, bestel ek vir jou ‘n taxi en kan jy die na die museum gaan kyk. Ek het al voorheen in hierdie hotel gebly. Teen ‘n klein fooi stuur hulle ‘n betroubare gids saam wat vlot Engels kan praat en jou veiligheid sal verseker. Wil jy hê ons moet saam eet vannaand?"

"Nee, ek is nog effe moeg van die vlieg. As jy nie omgee nie bestel ek sommer iets by kamerdiens vanaand. Ek sal graag na die museum gaan kyk."
"Reg, dan sien ons mekaar so teen 9 uur môre-oggend hier in die voorportaal?"
"Dan sien ek jou. Dankie vir die ete, en sommer vir die saamvra. Ek het nooit gedink ek sal hier uitkom nie. Wat gaan jy maak tot dan?"
"Ek moet ‘n paar goed doen, en dan wil ek ‘n paar oproepe maak. Geniet dit."

Na haar terugkoms vanaf die museum het Gerda gestort, die TV aangeskakel en op die bed in haar kamer aan die slaap geraak. Toe sy teen 10 uur wakker skrik, wonder sy of die hotel nog kamerdiens beskikbaar sal hê. Soos enige internasionale hotel van formaat was dit geen probleem nie, en na sy geëet het, het sy deur die kanale geglip op soek na iets kykwaardig. Vaagweg het sy gedink dat sy die sterrehemel hier sou wou sien as dit donker was, maar het instinktief geweet dat die elektriese lig van die stad dit amper nie die moeite werd sou maak nie. Uiteindelik het sy op ‘n fliek besluit wat ‘n paar jaar gelede ‘n treffer was. Sy het nie veel gesien nie, en met die afstandbeheer in haar hand deurgeslaap tot die volgende oggend.

In sy kamer het Pieter geskakel om by die hotel se gastediens vas te stel of hulle die inligting het wat hy gevra het met hulle aankoms. Die gastebestuurder het wel inligting gehad, en het hom verwys na ‘n winkel in ‘n deel van die stad wat tot laatnag oop was. Alhoewel moeg, het hy besluit om die taak nog vanaand af te handel. Hy het ligte klere aangetrek, die hotel verlaat en met ‘n taxi in die rigting van die krotbuurte naby die fort, wat nou ‘n militêre museum gehuisves het, gery. Die taxi het hom voor die winkel afgelaai en hy het gevra dat die bestuurder wag. In goeie Engels het die eienaar hom verseker dat hy ‘n klei-tablet, ‘n cartouche, soos die Egiptologie daarna verwys het, sou maak met twee name op, en dat hy dit by die hotel sal aflewer teen die volgende oggend. Met dit afgehandel is Pieter terug hotel toe.

Hulle besluit om ontbyt oor te slaan toe hulle die rye mense in die eetsaal sien. Die taxibestuurder het ‘n roete gekies wat Pieter vooraf met hom bespreek het, in die rigting van die vervalle buurt net buite die Giza-plato. Baie van die kameeljoggies wat toeriste ritte aanbied by die besienswaardighede en hulle voortdurend versoek het om vir die toeristepolisie te sê dat hulle nie te veel betaal het nie, het uit hierdie buurt gekom. Hulle het oor ‘n systroom van die Nyl, oor ‘n bruggie gery, en Gerda kon sien dat daar ‘n dooie donkie in die water dryf. Terloops het sy by haarself gedink: "syne het reeds begin…", en verder gekyk na die dynserigheid waar die piramides teen die vroeë oggendson afgeëts gestaan het. Pieter het die bestuurder laat linksdraai, en die motor het tot stilstand gekom aan die einde van ‘n straat met ‘n kaal, oop stuk veld wat gelyk het na die laaste stukkie bewerkte grond voor die woestyn begin. Hy het vir haar gewink om uit te klim, en saam het hulle die veld ingestap nadat hy die bestuurder versoek het om te wag. Hulle het gevorder tot waar daar ‘n murasie half-lyf uit die grond uitgereik het na die wolkelose hemel bo hulle. Op die rand van ‘n diep skeur in die grond, skuins agter die ou murasie, het Pieter gaan staan.

"Ek was laas hier saam met ‘n vriend van my, wat van hier af fotos van die piramides teen die ondergaande son wou kom neem. Die skeur was toe al hier. En nou kan ek vir jou sê wat ek tot nou toe geheim gehou het."
"Ek kan nie wag nie."
"Maar dit kan net gebeur as jy nie lag nie; as jy nie sou dink dat die hengse opoffering om hier uit te kom ‘n grap is as jy hoor wat ons doen nie."
"Ek het nog nooit gelag vir jou nie. En ek is vrywillig hier, onthou jy?"

Pieter haal ‘n papiersak uit sy tas, maak dit oop en bring die kleitablet met hulle albei se name in hierogliewe daarop te voorskyn. Dit het antiek gelyk, maar dit was bloot die verneukkuns van die handelaar wat dit so laat voorkom het.

"My plan is heel eenvoudig. Ons het saam gewonder oor of iets regtig ooit eindig. Nou is ons hier in een van die mees antieke beskawings denkbaar. Ons sien hier iets van die feit dat hulle wêreld ten minste nog nie geëindig het nie, want ons kan daar die piramides sien, en die museums is vol van hulle oorblyfsels. Ons begrawe hierdie kleitablet in die sloot en verewig so iets wat ons saam aangepak het. En as ons eendag van iewers anders af kan terugkyk, of iemand anders doen dit, kan ons, of hulle, hierdie uiters spesifieke eksperiment sien en dit herken vir wat dit was. As ‘n poging om te sien of iets ooit regtig eindig, en of dit vir altyd deur die kosmos trek. As ons onself hier sien staan, dan weet ons. En dan weet ons al die ander goed trek ook saam. Eenvoudig, nê?"

Pieter kyk na haar. Haar gelaat is bleek en verward.

"Ek het iets anders verwag, ja, maar die eenvoud hiervan . magtag! Ek dink dat wat jy doen is so .so klein en dalk betekenisloos, maar terselfdertyd iets groots en blywends. Ek wil deel wees hiervan, wil ruimte toe reis. Ek wil weet of alles, alles wat nog ooit gebeur het en wat ek gedoen het, nie net ‘n helse grap is nie."
"Ek weet. Vat dit en gooi dit in die sloot."

Gerda neem die voorwerp, kyk vir hom en met die woorde "ons eksperiment", laat sy die kleitablet in die sloot val.

"Dis al. Nou net wag en sien." Pieter kyk op na die horison, na waar die eeue-oue monumente stil geswyg het deur die tyd, getuies van alles sonder om kommentaar te lewer. ‘n Stuk mensgemaaktheid wat nooit vergaan het nie. "Net wag en sien", beaam Gerda en draai saam met hom om na waar die taxi geparkeer het.

Dit reën, soos gewoonlik laatmiddag in Johannesburg. Hy kyk terug na die koerant wat hy omblaai. Die ongeloof op sy gesig is ‘n kombinasie van skok en kennende afgryse. Hy voel niks nie, want hy kan nie. Daar is geen woord vir wat hy dink nie, want dit was ook nie deel van denke nie. Hy het, sonder dat hy daarvan bewus is, die koerantberig weer gelees, oor en oor, totdat hy dit soveel keer gedoen het dat die letters ‘n kunswerk sonder betekenis voor sy oë geword het. Krulle en strepe, maar sonder enige inhoud.

 

GRU-SELFMOORD IN DIE STAD

… die polisie ‘n nota in die woonstel gevind het met die woorde: "dit moet begin, ek wil sien.tussen die sterre" daarop geskryf. Die papier het enkele Egiptiese hierogliewe daarop gehad, wat daarop dui dat dit skryfpapier is wat in Egipte gekoop is, of by een van talle informele handelaars in die voorstedelike vlooimark – omgewing. Die polisie het reeds met ondervraging van hierdie eienaars begin. Dit is egter bekend dat die oorledene ‘n maand terug wel oorsee was, saam met ‘n kennis of vriend. Die polisie volg alle leidrade op."

Hy het sy tjekboek omslag wat sy gebruik het om die kaartstrokie op die lughawe te teken, teen die lig gehou. Met moeite kan hy sien dat daar in die sagte leer iets staan soos "bedrag van". Haar laaste deelname aan die verloopte wêreld van geld, of dan, die laaste waarvan hy weet. Iets van haar is nog hier!

"Hoeveel vloere het die hotel? Net ‘n oomblik, en kyk gou op die net … 22."
"Ek sal enige kamer op die heel boonste vloer neem, met ‘n uitig oor die Giza-plato. En dit moet ‘n balkon hê. Laasgenoemde is ononderhandelbaar".
"Ek maak so."

Sy sekretaresse was gewoond aan sy soms eienaardige vereistes met hotel-besprekings. Wat sy nie kon verstaan nie, is dat dit geklink het of hy iets soos "ek kom saam met jou kyk, binnekort" sê, net voor hy die gehoorstuk in sy kantoor neergsit het.

 

skrywer: Johan Schoeman

Lewer kommentaar

Leave a Reply