deur Ferdi Wheeler
Iewers vanaand sal daar weer die straatwedrenne wees, maar vir nou pronk die Jocks met hul masjiene deur rond te ry om Victoriaplein. Die plein is in die middel van die dorp. Die dorp se jeug, meestal studente, afgewissel met die nie-so-jonges, vergader op die plein. Hulle voorsien die gehoor vir die hede en later vir die wedrenne.
Die motors wat op skou is, is verteenwoordigend van die gewilde straatrenmotors. Daar is onder andere ‘n Dodge Charger Hellcat, ‘n Mazda RX-7, ‘n Nissan Skyline en ‘n Toyota Supra. Maar dit is ‘n BMW 3M-reeks, ‘n appelgroen strydros, waarvan die eienaar die mees ambisieuse in die parade is. Terwyl die meeste van die ander motors vir lang tye rondom die plein geparkeer is, ry hy daaromheen, stop dan soms, net om wild te versnel, sodat die rook van die brandende bande die straat vul en tussen die gehoor op die plein indryf.
Nou brul hy weg van die plein en op met die hoofstraat. Hy draai waar die hoofstraat ‘n T-aansluiting met ‘n ander straat vorm en kom terug met hernieude krag. Sy heethoofdigheid dwing hom egter tot ‘n oordeelsfout. Dit is eintlik ‘n besluiteloosheid, want hy besluit om links om die plein te gaan, maar dan ruk hy die stuurwiel om, om reguit aan te gaan, wat sy ondergang is. Die BMW trek vierkantig onder die bestuurder uit en stort met skreeuende bande in die agterkant van ‘n munisipale bus in, wat langs die plein geparkeer is. Die enjin stol met die impak, die lugsak ontplooi en ontplof in die bestuurder se gesig, wat hom agtertoe slaan. Op daardie oomblik en vir nog ‘n paar oomblikke, is daar ‘n doodse stilte.
Van voor die ongeluk het ‘n eensame vrou op ‘n bankie op Victoriaplein gesit. Sy het nie gesosialiseer nie en het heeltemal onbeïndruk en ongeïnteresseerd gelyk in die optogte van die warm motors. Nou, terwyl die BMW reg voor haar verongeluk, spring sy op en draf nader, waar die bestuurder besig is om sy bewussyn te herwin. Terwyl die gehoor stadig reageer, vroetel sy in ‘n swaar swart handsak wat oor een skouer hang en trek ‘n stompneus-rewolwer uit. Sy loop reguit na die bestuurder toe en skiet hom drie keer: een keer deur die linkeroog, een keer deur die linkerslaap en een keer in die bors. Dan hardloop sy oor die straat en verdwyn deur die ingang van ‘n hoë woonstelblok. Agter haar is daar pandemonium. Mense vlug in alle rigtings – eers diegene wat die skietery gesien het, dan vlug die ander, wat in die paniek meegesleur word, ook en laat die appelgroen en verpletterde BMW met sy lyk onseremonieel agter. Nie een is bereid om agter te bly en te getuig nie. Die moorddadige vreesbewind wat die dwelmbase in die stad voer, ontmoedig enige betrokkenheid. Jy getuig vandag, of jy is van voorneme om in die toekoms te getuig en jy en jou gesin is gedoem. Dus laat wiel die eienaars van die straatrenmotors ook met ronkende enjins.
Natuurlik het baie oë die moord aanskou, maar die eienaar van een paar oë leun oor die reling van ‘n balkon op die derde verdieping van die woonstelblok waar die moorddadige vrou ingehardloop het. Hy het die flitse gesien toe die rewolwer afgevuur is en duidelik die drie skote gehoor wat afgevuur word: “Bam! Bam! Bam!” Hy is Tim Davids. Hy is ‘n werklose en ‘n mislukking.
Hy kyk hoe die vrou hardloop. Sy het blonde hare in ‘n bob-styl en sy het die gewoonte om met haar lyf in ‘n gebukkende postuur te beweeg. Daar is iets bekends aan haar, dink hy by homself. Hy is seker hy het haar iewers voorheen gesien. Toe sy in sy woonstelblok verdwyn, dink hy: dis dit, sy moet hier bly en dis waar ek haar moes gesien het.
Sy gedagtes word onderbreek deur die aankoms van ‘n polisiepatrolliemotor met sirenes wat loei en blou dakligte wat flikker. Maar die geregsdienaars vind net die wrak en ‘n verlate plein.
Tim leun weer oor die balkon. Twee polisiemanne in blou staan aan die bestuurderskant van die verfrommelde BMW. Albei is gebukkend en loer na binne in die motor met sy gruwelike inhoud. Stemme kraak oor die walkie-talkies en die flikkerende blou lig op die dak van die patrolliemotor speel grieselig rond op die omliggende geboue. Hulle draai weg van die BMW en kyk rond. Vyf mense drom op die toneel saam. Hulle is nie getuies nie, want hulle het na die voorval opgedaag.
Die polisiemanne loop na die klein groepie toe. Hulle gesels, maar vanuit sy uitkykpunt kan Tim sien dat almal hul koppe skud. Hulle het niks eerstehands gesien nie. Diegene wat dit wel gesien het, het lankal spore gemaak. Niemand wil betrokke wees nie. Die polisiemanne draai onverrigtersake om en loop terug na die wrak.
Die busbestuurder in ‘n grys uniform en pet sluit by die polisie aan. Hulle gesels. ‘n Ambulans arriveer met ‘n eienaardige, amper disko-agtige sirene: biep-bop-biep-bop-bie-hoi-hoi-hoi! Twee paramedici, spring uit en hardloop na die BMW toe. Hulle forseer die ingeduikte deur aan die bestuurder se kant oop. Hulle laat die liggaam op die teerpad sak en kniel albei langs dit neer. Uiteindelik staan hulle op. Nou sit die polisie, paramedici en die busbestuurder koppe bymekaar en gesels.
Tim bly op die balkon totdat die plein en die strate onder verlate is. Die ambulans ry weg met die liggaamlike oorskot van die straatrenjaer, en die polisie vertrek na hul kantore, waar hulle sekerlik ‘n saak van moord sal oopmaak. Die nors busbestuurder is die grapjas in die trop, aangesien hy die onbenydenswaardige taak het om te gaan verduidelik hoekom hy met ‘n verongelukte bus na die depot terugkeer.
Tim slaap onrustig gedurende die nag. Om die moord te aanskou, het hom duidelik ontstel. Nou is dit omtrent agtuur die volgende oggend en hy verlaat die woonstel en loop af na die kiosk op die hoek van die straat. Hy koop ‘n koerant en keer terug met dit onder sy arm na die woonstel. In sy sitkamer plof hy op die bank neer en begin deur die koerant blaai. Eers merk hy geen berig oor die moord op nie, maar dan vang sy oog ‘n klein berig onderaan bladsy vier. Straatrenjaer sterf in ongeluk , sê die opskrif. Hy lees die berig en lees dit dan weer, want hy kan sy oë nie glo nie. Die berig lui dat die straatrenjaer gesterf het aan ‘n gebreekte nek, blykbaar veroorsaak deur die impak toe hy die bus getref het.
Hy sit die koerant eenkant en spring op en loop weer op die balkon uit. Dis baie vreemd, sê hy vir homself. In sy geestesoog kan hy die voorval nog baie duidelik onthou. Ek moet iets doen, dink hy by homself: gaan na die polisie, of bel die koerant en rapporteer wat hy gesien het. Hy dink aan sy dilemma. Maar hy is ‘n disfunksionele lid van die samelewing. Hy het geen regte vriende nie en dus is hy nie sosiaal verbind nie. Die aanvanklike gevoel van dringendheid om die saak reg te stel, verlaat hom. Hy kyk weer na die berig en gooi dan die koerant in die asblik. Dit het niks met my te doen nie, sê hy vir homself.
Twee dae later sien hy die vrou weer. Hy stap in die straat waar hy bly by ‘n koffiewinkel in, wat ook as ‘n bloemiste dien, en gaan sit. Dis omtrent elfuur die oggend en die winkel is besig. Daar is twee kelnerinne aan diens, maar hulle is besig om kliënte te bedien. Ek sal moet wag, dink hy vir homself, maar dan merk die vrou wat pas St. Joseph-lelies aan iemand aan die bloemistekant verkoop het, hom op en sy kom nader om sy bestelling te neem. Sy is blond, met ‘n bob-haarstyl en sy loop gebukkend. Hy frons.
“Goeiemôre, meneer,” sê sy en kyk na hom met ’n notaboek in die hand.
“Goeiemôre,” sê hy. Hy kyk na haar gesig. Sy maag draai om en hy bloos. Dis sy! Hy is sprakeloos.
“Is jy gereed om te bestel?” vra sy.
“Net ’n cappuccino, asseblief,” sê hy en kyk na die tafel voor hom, skielik te bang om haar weer in die gesig te kyk.
“Maak so,” sê sy en skryf op die notaboek, draai om en loop weg.
O my God! sê hy vir homself. Dis definitief sy. Beslis! Hy oorweeg dit om op te spring en weg te hardloop, maar hy kan homself nie so ver bring om dit te doen nie. So hy wag. Sy maak die cappuccino met haar rug na hom toe en hy bestudeer haar van onder sy wenkbroue. Sy is ‘n ware sluipmoordenaar. ‘n Koelbloedige moordenaar. Sy kom terug met ‘n skinkbord met sy cappuccino daarop en ‘n komplimentêre koekie in die piering. Hy kyk weg deur die breë venster langs hom, fokus op niks spesifiek nie, maar net om nie na haar te kyk nie. Sy mag dalk agterdogtig raak as hy na haar staar.
“Geniet dit,” sê sy heel vriendelik.
Hy kyk haar in die gesig, maar net skelm. Gelukkig luier sy nie rond nie en haas sy haar weg na ‘n kliënt aan die bloemistekant van die winkel. Hy wil net daar wegkom, so hy neem ‘n diep sluk en brand sy mond. Die cappuccino is gloeiend warm en hy drink dit stadig klaar. Gelukkig is sy nou besig by die bloemistetoonbank, waar daar ‘n paar kliënte is. Hy wink vir een van die kelnerinne en betaal en toe loop hy haastig weg.
Ek moet na die polisie gaan en haar aanmeld, sê hy vir homself. Daar is ‘n polisiestasie in die middel van die dorp, nie ver van Victoriaplein af nie. Innerlik is hy ‘n lafaard, maar hy dwing homself aan en loop in die rigting van die stasie. Die aanklagkantoor is besig toe hy binnekom en hy op een van die beskikbare stoele moet gaan sit. Maar nou is hy geteister deur twyfel. Jy maak ‘n gek van jouself, sê sy innerlike stem. Die hele skietvoorval was jou verbeelding.
Sy beurt kom om met die jong vroulike beampte by die toonbank te praat.
“Goeiemôre, meneer, hoe kan ek u help?” vra sy.
Hy kyk na haar en weet nie waar om te begin nie. Trouens, hy voel skielik heeltemal simpel. Sy sal sekerlik vir hom lag! Hy maak sy keel skoon en probeer aan ‘n openingsin dink. ‘Ek het die ander aand iets baie verdags gesien,’ begin hy.
“Soos wat, meneer?”
“Wel, dit het gelyk soos ’n moord wat ek aanskou het.”
“Dis ernstig, vertel my asseblief meer.”
“Ek het twee dae gelede op my balkon gestaan toe ek ’n vrou sien skiet op die bestuurder van ’n motor wat teen ’n munisipale bus gebots het.”
“Waar was dit?”
“By Victoriaplein.”
“Is jy seker? Ek was toe aan diens en daar was twee dae gelede geen moordverslag nie. Ek sou dit opgemerk het.”
“Jy sien, dis die ding wat ek nie verstaan nie. Ek het gesien hoe die vrou die rewolwer uithaal en ek het die skote gehoor. Maar nou lyk dit asof ek die enigste een was wat dit opgemerk het. Selfs die skare op die Plein het weggehardloop. Maar die koerant het berig dat die man aan sy beserings gesterf het. Ek verstaan nie…”
“Dis reg so, meneer. Gee my u volledige besonderhede en ons sal ‘n speurder na u stuur om ondersoek in te stel.”
Hy wag in sy woonstel. ‘n Dag later, in die middag, is daar ‘n klop aan sy deur en toe hy die deur oopmaak, staan ‘n speurder in gewone klere, ‘n jong vrou, in die deur.
“Is jy Tim Davids?” vra sy.
“Ja, maar kom asseblief binne,” sê hy en staan eenkant sodat sy kan binnekom.
“Bly te kenne. Ek is inspekteur Judy Rose,” sê sy toe sy hom na die sitkamer volg.
Sy gaan sit op die rusbank in die sitkamer en hy kies die enigste stoel. Hy wag terwyl sy haar aktetas oopmaak en ‘n bruin lêer met krabbels op die buitekant van die omslag uithaal. “Jy het ‘n moord aangemeld,” sê sy en kyk vraend na hom. “Kan jy my vertel wat jy gesien het?”
Hy vertel haar, maar hy is onrustig, want hy het die duidelike indruk dat sy hom nie ernstig opneem nie. Sy luister egter aandagtig en onderbreek hom nie.
“Dis vreemd,” sê sy toe hy klaar is. “Jou weergawe van die gebeure stem amper ooreen met dié van die polisiebeamptes op die toneel. Die enigste ding is, hulle het nie koeëlwonde aangemeld nie. En boonop maak die lykskouer se verslag, wat ons so pas ontvang het, geen melding van koeëlwonde nie. Dit het bloot gesê dat die bestuurder oënskynlik gesterf het aan ‘n gebreekte nek as gevolg van die sweepslag tydens die impak.”
“Wel, dan weet ek nie wat om te sê nie. As dit die geval is, dan is ek verkeerd. Ek is jammer dat ek jou tyd mors.”
“Ag, dis reg so. Skyn kan mislei. Ons almal maak foute. Die ding is, ek kan nie met die lykskouer se verslag stry nie, jy sal saamstem.”
“Natuurlik,” sê hy en staan op. “Ek verbeel my duidelik dinge.”
Sy sit die lêer terug in haar aktetas en staan ook op. “Dit was jou reg om na ons toe te kom. Alle klagtes word ernstig opgeneem. Maar ek dink jy kan gerus van die hele aangeleentheid vergeet.”
Sy laat hom deeglik verward agter. Hy voel skaam en vermaan homself omdat hy te verbeeldingryk is. Maar dan, in die middag van die volgende dag, klop iemand aan sy deur. Hy maak oop en hy herken een van die kelnerinne van die bloemiste, of koffiewinkel, wat in die deur staan. In haar hand hou sy ‘n ruiker geurige blomme vas wat bestaan uit ‘n variëteit waarvan hy nie die name ken nie.
“Meneer Tim Davids?” vra sy.
“Ja, dis ek.”
“Blomme van ’n anonieme bewonderaar,” sê sy en stoot die ruiker onseremonieel in sy arms. “Lekker dag verder,” koer sy, draai om en stap vinnig met die gang af na die trappe.
Hy staan gewortel in die grond. Hy kyk na die blomme in ongeloof. Blomme vir my? Hy wonder. Wie op aarde sou vir hom blomme stuur? Stadig maak hy die deur toe. Hy weet nie presies wat om daarmee te doen nie. Hy besit nie ‘n vaas of pot om hulle in te sit nie. So hy sit hulle op die bank neer en terwyl hy die ruiker laat sak, val ‘n kaartjie tussen hulle uit. Hy tel dit op.
“Pasop, ek weet dat jy weet,” lui die kaartjie.
Sy hartklop versnel en hy gaan sit langs die ruiker op die bank. Hy voel duiselig. Hy besef dat hy glad nie dinge verbeel het nie. Die blomme is ‘n onheilspellende boodskap van die vrou wat by die bloemiste werk. Ek is in gevaar, dink hy. Sy is ‘n moordenaar en hy is ‘n gans ter water daar in die woonstel. Sy kan enige oomblik aanval en hy sal weerloos wees. Instink sê vir hom om te vlug, om uit die woonstel te kom. Dis sy enigste opsie. Maar waarheen? En boonop: sy finansiële posisie is swak. Hy het ‘n paar honderd op hom, maar dit is bedoel om hom die hele maand te hou. Hy moet die woonstel prysgee, om sy deposito terug te kry van die huurmaatskappy. Dan kan hy die dorp verlaat, as dit moet. Sy denke is heeltemal deurmekaar. Ek moenie snags hier wees nie, sê hy vir homself. Veral na ure op weeksdae. Op sulke dae trek die woonstelbewoners vroeg terug, kyk televisie en gaan slaap. Dit sal die ideale tyd wees vir haar om toe te slaan.
So, hy mag nie snags daar wees nie, redeneer hy. In sy geestesoog kan hy homself sien hoe hy snags die woonstel verlaat en in die stad ronddwaal. Hy meng met die haweloses en dit is koud buite en hy moet aanvalle op homself afweer. Hy raak so opgewonde dat hy opstaan en op en af in die sitkamer loop. Tog weet hy dat hy nie die nag te voet in die stad sal deurbring nie. Hy het nie die wilskrag nie. Hy is swak. Dit word nag en hy sluit die voordeur, maar nie voordat hy dit oopgemaak het en op en af in die leë gang gekyk het nie. Tyd gaan stadig verby. Sy ore is ingestel op elke geluid in die gang en die geluide wat van omliggende woonstelle af kom. Teen middernag trek hy hom terug na sy slaapkamer en sluit ook daardie deur. Hy lê op die bed, vasbeslote om nie te slaap nie, maar om wakker en gereed te wees wanneer die vrou sou kom. Maar alles tevergeefs en sonder om dit te weet, sluimer hy in en toe hy wakker word, filter die grys lig die slaapkamer in. Hy sit verskrik regop, maar ontspan dadelik terug teen die kussings. Hy het oorleef, dink hy.
Sy besluiteloosheid martel hom. Die minute tik verby en sy idees oor wat om te doen, verander met die verbygaande minute. Teen omtrent drie-uur is hy ‘n bondel senuwees. Net toe word hy yskoud, want daar is ‘n klop aan die deur. Van die sitkamerbank af staar hy versteen na die deur. Die ergste van alles is dat hy nie kan onthou of hy dit gesluit het of nie, nadat hy teruggekeer het van ‘n haastige uitstappie na die kiosk vir ‘n brood. Die geklop hou aan en dit word met meer dringendheid herhaal. Maar hy het geen voorneme om dit oop te maak nie.
“Meneer, Davids, is u daar?” hoor hy inspekteur Judy Rose skielik van die ander kant van die deur roep.
“Ja,” sê hy saggies, maar met ’n stem wat sy onmoontlik kan hoor. “Ja!” skree hy dan en spring op en hardloop na die deur. Hy ontsluit die deur, wat hy tog gesluit het, en staan daar voor die speurder, sy gesig bleek.
“Ek moet met jou praat,” sê die speurder en ignoreer die feit dat hy na haar kyk asof sy ’n spook van die ander kant van middernag is. Sy skuur verby hom en stap die sitkamer binne. Hy sluit die deur versigtig weer en volg haar. Hulle gaan sit.
Die enigste ding waaraan hy dink, is om die speurder die kaartjie met die boodskap te wys, om homself te regverdig. Hy tel dit op van die klein tafeltjie langs sy stoel en gee dit stilswyend aan haar. Sy sit weer op die bank, soos die vorige keer, maar nou met die ruiker op die bank langs haar. “Dit kom saam met die blomme,” sê hy saaklik. “Ek verstaan nie hoe sy my kon identifiseer en opspoor nie.”
Speurder Judy Rose neem die kaartjie. Sy toon geen reaksie nie en sit die kaartjie langs die ruiker neer. Dan maak sy haar aktetas weer oop en haal die lêer uit. “Ek was gister by die lykskouer,” sê sy kortaf terwyl sy die lêer oopmaak, ’n foto uithaal en dit aan hom oorhandig, sonder om nog ’n woord te sê.
Hy neem die foto en kyk verskrik daarna. Dit is ‘n nabyskoot van ‘n man, ‘n lyk, van die kop en skouers. Die linker-oog is net ‘n bloedige ovale vlek. Die ander oog is toe. Aan die linkerslaap, langs die bloedige oogkas, is daar ‘n ronde rooi gaatjie in die skedel. Hy weet dadelik dat dit ‘n foto van die dooie straatrenjaer is. Sy hand bewe toe hy die foto aan die speurder teruggee. “Dis haar werk, definitief. Ek kry haar per ongeluk in die bloemiste in die straat. Nou die kaartjie.”
“Jy is reg,” sê sy en kyk spekulatief na hom. “En te oordeel aan die nota op die kaart, is jy ook diep in die moeilikheid.”
“Ek dink ek gaan doodgaan,” sê hy amper fluisterend.
“Sy naam is Mateo Martinez. ’n Meksikaan van geboorte. Die seun van ’n berugte dwelmbaas. Hy het landuit gevlug nadat hy met ’n paar moorde verbind is. Maar sedertdien, met die hulp van vriende in die polisie en oorgenoeg omkoopgeld, is die aanklagte laat vaar en het hy teruggekeer. My oortuiging is dat die moordenaar ’n vigilante is en dat Mateo betaal het vir die moord op iemand na aan sy moordenaar.”
“Maar dit moet die bloemiste wees…”
“Ek kan nie presies sê nie. Ek sal moet gaan ondersoek instel, maar as dit sy is en as sy jou nou ook dood wil hê, is dit heel waarskynlik dat sy jou vir ‘n medepligtige van die dooie ou aansien. Op die oomblik kan jy seker wees dat daar ander sluipmoordenaars aan die rondsnuffel is, wat na haar soek – as sy die moordenaar is. Die dwelmbroederskap soek nou wraak. En dan is daar die kwessie van hul trawante binne die Polisie. Hulle wil ook moontlike getuies en moeilikheidmakers stilmaak.”
“Alles is goed en wel, maar wat van my? Jy moet my red, maar nou klink dit asof jy jouself sal moet red. Uiteindelik sal dit ’n uitverkoop wees, met my as die volgende lyk in die storie,” kerm hy.
“Ek gaan doen waarvoor ek opgelei is: ek gaan met die verdagte praat.”
“Jy bedoel die vrou?”
“Ja.”
“Dan is ek dood, as ek haar op die toneel van die moord kan plaas.”
“Nie noodwendig nie. Ontspan. Ek sal oor ‘n uur of wat terug wees. Hou die deur gesluit,” sê speurder Judy Rose. Sy sit die lêer koel terug in haar aktetas en staan op. Hy volg. As hy voorheen in ‘n penarie was, lyk dinge skielik baie meer ernstig. Sy loop en hy sluit die deur.
Die eindelose minute wat volg, het drie uur geword en steeds is daar geen woord van die speurder nie. In sy gedagtes lyk dit dwaas om die korrupte magte aan te pak. As sy daarin slaag om die bloemiste te arresteer, bly die dwelmkartel en hul insiders in die polisiemag oor om mee rekening te hou. En die feit dat hy nou ‘n getuie in die hele vuil saak is, verdiep die gevaar waarin hy verkeer.
Die son sak toe sy selfoon skielik lui. Hy kyk met bewing na die foon, maar dit bly aanhou lui en uiteindelik tel hy dit op en antwoord.
“Ek het goeie nuus vir jou,” sê speurder Judy Rose in sy oor. “Dit was kinderspeletjies. Ek het na die bloemiste gegaan en die vrou met jou getuienis gekonfronteer. Sy het net in duie gestort en die moord bely. Saak opgelos. Ek het haar aangekla en sy is geen bedreiging meer vir jou nie.”
“Net bely?” vra hy verstom.
“Ja. Dis alles verby wat die bedreiging van jou lewe betref, alhoewel jy uiteindelik sal moet getuig wanneer sy in die hof aangekla word.”
“Ek weet nie wat om te sê nie. Maar dankie.”
“Jy hoef my nie te bedank nie, ek doen net my plig. Praat later weer,” sê sy en die foon gaan dood in sy oor.
Kan dit wees? wonder hy toe hy sy selfoon op die bank gooi en op die balkon uitstap. Sy het niks gesê oor die toesmeerdery van die moord en die bedreiging wat die kartel en die korrupte polisie binne die diens inhou nie. So gesels hy ‘n rukkie met homself, maar uiteindelik herwin hy ‘n mate van kalmte. Hy berispe homself omdat hy altyd die bobbejaan agter die bult gaan haal. So staan hy op die balkon en kyk afwesig na die straattoneel daar onder. Die straat is basies sonder verkeer en voetgangers, met slegs ‘n enkele figuur wat nou en dan die plein oorsteek. Hy is op die punt om te gaan lê, toe hy ‘n motor om die plein sien ry en oorkant die straat parkeer. Hy kyk. Vir ‘n paar minute gebeur niks nie. Toe klim twee vroue uit die motor. Daar is iets bekends aan hulle. Hulle steek die straat oor en dan tref dit hom soos ‘n vuishou in die maag. Die blondine wat die ander vrou vergesel met ‘n swart sak oor een skouer, is duidelik die moordenaar. En die ander vrou is speurder Judy Rose. Hulle kyk nie op nie, maar stap vasberade na die ingang van die woonstelblok.
Hy twyfel nie meer nie. Hy is oortuig van hul sending. Hy draai om en hardloop na die deur en maak seker dat dit gesluit is. In sy slaapkamer trek hy ‘n warm baadjie aan en steek sy bankkaart in sy sak. Dan is hy vinnig terug op die balkon en die volgende oomblik daal hy af met die staaltrappe van die brandtrap in die straat. Toe hy die sypaadjie tref, begin hy hardloop totdat hy om die hoek verdwyn waar die kiosk is. Wanneer ‘n motor nader kom, duik hy in ‘n stegie in, of vries hy in ‘n donker hoek. Maar hy sien nie weer die motor van die twee vroue nie. Die ure wat volg tot dagbreek, is ‘n aangrypende ervaring. Die haweloses roep hom soms, maar dan hardloop hy weg. Die hele nag loop hy so, onervare in die weë van die boemelaars en die haweloses, en voel hy vreeslik kwesbaar en verraai.
Met dagbreek bevind hy hom in ‘n slaperige voorstad, die leefruimte van die welgestelde middelklas. Hy kom by ‘n kafee waar ‘n afleweringswa so pas stilgehou het. ‘n Man aan die passasierskant spring uit, maak die agterdeure van die wa oop en gooi twee bondels koerante op die trappe by die kafee-ingang. Die kafee is nog nie oop nie. Die wa trek weg en hy loop oor en kyk na die voorbladbaniere van die koerante.
Dit is met ‘n skok dat hy sy foto op die voorblad herken. Hulle moes sy woonstel geplunder het, want die foto is ‘n taamlik ou een van ‘n paar jaar terug, wat hy in ‘n album in sy kas bêre. Die mees ontstellende is egter die baniere: Straatwedrenmoordenaar gesoek. En: Gevaarlike voortvlugtige ontwyk polisie.
Hy kyk op en af in die straat. Nog geen verkeer nie. Hy draai om en begin met hernieude krag loop, sy bestemming die naaste treinstasie, wat omtrent ‘n kilometer weg is. Hy is ‘n teiken, want magtige mense met korrupte agendas soek hom en hy kan net oorleef as hy een stap voor hulle bly. Maar hy is skaars verder as die hoek van die eerste blok, toe ‘n swart, opgewarmde Dodge Charger Hellcat met getinte vensters om ‘n ander hoek by die straat indraai en hom stadig begin volg.
