deur die Broers Grimm

Lank lank gelede was daar ‘n koning en koningin wat baie graag ‘n kindjie wou hê. Terwyl die koningin eendag in ‘n spruitjie swem, duik ‘n padda langs haar op en sê: “Voordat die jaar om is, sal jy ‘n dogtertjie hê. Jou wens sal vervul word.”

Dit het ook gebeur. Die koningin het ‘n fraai dogtertjie gehad, en die koning was so bly dat hy ‘n groot fees gehou het. Hy het sy familie, al sy vriende en ook die wyse vroue in sy koninkryk uitgenooi. Daar was dertien wyse vroue, maar omdat hy net twaalf goue borde vir hulle gehad het, het hy net twaalf uitgenooi.

Na die heerlike fees het die wyse vroue vir die kindjie hul wonderlike presente gegee. Die een het haar deug gegee, die ander skoonheid, die derde rykdom en so aan totdat dit die twaalfde een se beurt was. Net toe terwyl die sy wou begin praat, het die dertiende skielik binnegekom. Sy was boos omdat sy nie uitgenooi was nie en het uit- geroep: “In haar vyftiende jaar sal die prinses haar met ‘n spinnaald prik en dood neerval.” Toe draai sy om en verdwyn. Almal was verskrik, maar toe kom die twaalfde wat nog niks gegee het nie, en sy sê: “Die prinses sal nie dood neerval nie; sy sal net honderd jaar vas slaap.”

Die koning, wat sy dogter wou beskerm, vaardig toe ‘n bevel uit dat alle spinwiele in sy koninkryk verbrand moet word. Intussen is al die wense van die wyse vroue vervul en die prinses was so mooi en goed dat almal haar lief- gehad het.

Op haar vyftiende verjaardag het die prinses deur die paleis gedwaal. Sy het in die gange afgestap en by al die kamers ingeloer totdat sy by ‘n ou toring gekom het. Sy het saggies by die smal trap opgeklim en by ‘n klein deurtjie gekom. Toe sy die verroeste sleutel in die slot draai, het die deur oopgespring en sy was in ‘n kamertjie waarin ‘n ou vroutjie by ‘n spinwiel sit en spin. “Goeiemiddag, Tannie,” sê die prinses ”wat maak jy?”

”Ek spin,” sê die ou vroutjie vriendelik.

“Hoekom spring die dingetjie so op en af?” vra die prinses en sy vat aan die wieletjie. Maar sy het skaars daaraan geraak, toe prik die naald haar en sy val neer op ‘n bed wat daar staan-vas aan die slaap.

Net toe die prinses aan die slaap raak, het ‘n diep slaap oor die hele paleis geval. Die koning en koningin en al die howelinge het in die hofsaal aan die slaap geraak. Die perde het in die stalle geslaap, die honde in hul hokke, die duiwe op die dak, die vlieë teen die muur, ja, selfs die vuurtjie op die kaggel het geslaap. Die braaivleis het opgehou braai en die kok, wat net die kombuisjonge se hare wou trek, het hom gelos en begin snork. Die wind het gaan lê en alles was doodstil om die paleis.

Rondom die paleis het ‘n roosheining opgekom. Dit het elke jaar hoër geword en later kon ‘n mens nie eens die vlag op die paleistoring sien nie, so hoog was die heining. Maar in daardie land het almal die storie van die pragtige prinses Doringrosie geken. Baie prinse het gaan probeer om deur die roosheining te klim, maar die dorings was so skerp dat niemand dit kon regkry nie.

Ná baie, baie jare het ‘n dapper prins na daardie land gekom. ‘n Ou man vertel hom toe die verhaal van die pragtige prinses Doringrosie en die paleis met al die mense wat agter die roosheining vas aan die slaap lê. Hy het hom ook vertel van al die prinse wat al deur die dorings probeer breek het en dit nie kon regkry nie.

Toe sê die dapper prins: “Ek is nie bang nie. Ek sal die skone prinses Doringrosie gaan soek.”

Toe hierdie prins by die roosheining kom, was die honderd jaar net om. En toe hy aan die heining raak, het al die dorings sagte rose geword en omgebuig sodat hy kon deurgaan. Daar het hy al die perde en honde en duiwe wat so vas geslaap het, gekry. In die kombuis het die kombuisjong en die kok geslaap en op die kaggel was die vuurtjie aan die slaap. Bo in die hofsaal het die koning en koningin en die howelinge geslaap. Toe stap hy deur die stil paleis tot by die toringkamertjie waar die prinses lê en slaap. Sy was vir hom so mooi dat hy gebuk en haar op haar wang gesoen het. Maar net toe hy haar soen, gaan haar oë oop en sy word wakker. Toe stap hulle saam by die trappe af, en daar word die koning en koningin, die howelinge, die kok, die kombuis- jong, die perde, die honde, die duiwe en almal sommer dadelik wakker.

Daar is toe ‘n groot bruilof gehou, prinses Doringrosie en die dapper prins is getroud en hulle het baie, baie jare lank gelukkig gelewe.

Lewer kommentaar

Leave a Reply