“In die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal omskryf Odendaal en Gouws (2005: 945) die term roman as volg “[ʼn] Verdigte prosaverhaal van betreklik groot lengte, waarin ʼn aantal verbandhoudende episodes behandel word.” Kortliks kan daar gesê word dat die roman gewoonlik ʼn denkbeeldige (verdigte) verhaal of storie is wat in prosavorm geskryf word. In teenstelling met die poësie, is die roman heelwat langer, volledige sinne word gebruik en daar kom dikwels verskillende hoofstukke voor waarin die bogenoemde “verbandhoudende episodes” en die verskillende gebeure in die roman behandel word.
Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom word as ʼn jeugroman beskou, met ander woorde (in hierdie spesifieke geval) ʼn roman wat op tienerlesers gemik is. Om temas, onderwerpe en ervarings waarmee hedendaagse tieners kan identifiseer in hierdie tipe roman te gebruik, is baie belangrik om die gebeure en karakters geloofwaardig te maak.
Die leser moet hom of haar as ‟t ware kan inleef in die gebeure. Gevolglik word daar ook in dié jeugroman na aspekte verwys wat deel is van die tienerverwysingsraamwerk (dit waarmee tieners vertroud is). Hanna is ʼn tienermeisie wat sukkel met dieselfde probleme as ander tieners (sy is ontevrede met hoe sy lyk, sy kom nie altyd oor die weg met haar gesin nie en sy het ook liefdesprobleme). Daar is ook ander aspekte waarmee moderne
tieners vertroud sal wees, dink byvoorbeeld aan Yann se liefde vir rockmusiek, verwysings na televisiereekse soos Egoli en Roots, bekende aktrises soos Julia Roberts en Cameron Diaz en selfs die taalgebruik. Hanna praat nie altyd suiwer en formele Afrikaans nie. Die styl is meer informeel en Hanna gebruik dikwels Engelse woorde. Die leser kan hom- of haarself byvoorbeeld vra: Indien Hanna net suiwer Afrikaans en moeilike woorde gebruik
het, sou sy ʼn geloofwaardige tiener wees? Hanna se taalgebruik, die probleme wat sy ervaar asook gebeure en verwysings in die teks (ʼn teks verwys na enige vorm van kommunikasie, hetsy gesproke, geskrewe (Hanna Hoekom) of visuele kommunikasie) dra daartoe by dat Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (deur Marita van der Vyver) ʼn besonder geloofwaardige én relevante jeugroman vir tieners is. Natuurlik is dit ook baie lekker om op hierdie ongelooflike leesavonture saam met Hanna te gaan!”